Van die Laeveld af op pad terug Windhoek toe het Willie-hulle op Parys by ons aangesluit sodat ons sommer saam Windhoek toe kon ry.
Ons het kortpad deur Botswana gevat. By Buitepos, die grens tussen Namibia en Botswana is ons deur paspoortbeheer en het die entjie deur Gobabis na Windhoek gery. Die datum was 16 Desember 2000.
Oponthoud by 'n padblokkade naby Windhoek. |
vakansietye ook deur doeanebeamptes. Die plaaslike bevolking word meesal net beduie om aan te ry, maar buitelandse registrasienommers op voertuie word deur die bank voorgekeer. Baie gesteelde voertuie en selfs gesteelde honde op pad Angola/Zambia toe word so opgespoor.
Die oggend op pad Swakopmund toe is dit toe ook die geval. Ons word deurgewys en in my tru-spieël sien ek Willie-hulle word afgetrek. Ek wag om te kyk wat gebeur en ek sien niks nie. Gaan terug om te kyk wat die moeilikheid is, en daar is toe inderdaad groot moeilikheid.
Dit is die 26ste Desember. By Buitepos is Estelle en Anijïa se paspoorte albei met die standaard 30 dae lange vakansievisum gestempel, maar om die een of ander rede (moedswilligheid?) het Willie net 10 dae op sy paspoort gekry. Willie het dit nie opgemerk nie want waarvoor sou 'n mens nou die stempel gaan staan en oudit?
By die padblokkade is dit toe eers die polisieman en doeaneman wat vir Willie verduidelik dat hy om middernag landuit moet wees anders sal hy in hegtenis geneem word. Ons probeer verduidelik dat dit tog duidelik 'n vieslike fout by Buitepos was want hoekom sou Estelle-hulle dan 30 dae gekry het?
Die manne wil nie luister nie en sê ons moet na Binnelandse Sake in Windhoek gaan om die saak reg te stel. Dis 26 Desember!
Swaarmoedig op pad terug Windhoek toe kom Wilma met die blink gedagte dat daar mos by die lughawe in Windhoek doeanebeamptes sal wees om besoekers se paspoorte te stempel.
Eros-lughawe, Windhoek |
een van haar kollegas by Buitepos se skuld is dat ons so moet sukkel. Sy is ewe hardekwas en wil niks weet nie.
Naby ons het 'n toergids van Tsumeb gestaan wat die hele petalje aanskou het. Hy roep my nader en sê die vrou kan my help, maar sy is duidelik net magsbedinges. Al hoe mens met sulke mense regkom is om hulle te irriteer tot in die stadium dat hulle vir jou help net om van jou ontslae te raak, is sy raad aan my.
Blink plan en ek besluit om reg voor haar te sit en gesels tot sy my sal help. Baie beleefd uitgevra oor haar kroos, hoe lank sy al die werk doen, vir koffie gevra (ek is darem mos een van haar werkgewers) en omtrent 'n halfuur later het sy bes gegee en Willie se paspoort gestempel met 'n visum vir 30 dae.
Toe ons weer by die padblokkade uitkom, is Willie weer afgetrek en met 'n groot glimlag op sy gesig vir dieselfde doeaneman sy paspoort gegee. Groot was die ou se verbasing en hy wil net weet wie die paspoort gestempel het.
Vertel hom toe dit was die Permanente Sekretaris en ek noem die man se naam. Hy het so liggies vaal om die kieue geword en vir ons 'n voorspoedige nuwe jaar toegewens op pad Swakopmund toe.
Willie Buys reageer:
Alles is soos Philip dit beskryf het en nou kan ‘n mens net jou kop skud met ‘n meewarige glimlag om die mond. Maar destyds was dit ernstige sake wat ons tussen twee vure gehad het. Eerstens het ons algar binne gekook van woede oor dié onbevoegdheid, gekoppel aan die hardkoppigheid van die grenspospersoneel.
Ons probleem was dat jy nie eintlik té openlik jou misnoë met die situasie kon laat blyk nie, want dié mense kon ons opsluit as hulle rêrig wou en hulle het waarlik lus gelyk om dit te doen! Dan was Philip-hulle se noukeurig beplande uitstappie na Swakopmund in sy maai. Ek was op die punt om almal in hulle maai te stuur, maar redelikheid het geseëvier.