Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.3.14

21 jaar later met vakansie

ANDRÉ BESTER, gewese sportredakteur van Transvaler, skryf: Rugbyskryf is in my bloed, maar soos enige sport het dit maar sy beserings, en die ernstigste daarvan is dat ek omtrent elf maande van die jaar sewe dae per week werk.

Desembers haak ek gewoonlik my woonwa en Buffelsbaai is een van my gunstelingbestemmings, maar die afgelope vakansie het ons as gesin
besluit om die Weskus, waar ons nog nooit was nie, en Houtbaai te verken.

Al drie my dogters, die oudste, Marcé (binnekort 21), is gebore net nadat ons die tyding gekry het dat Perskor die Transvaler/Vaderland se deur finaal sluit.

Hoe het die tyd nie gevlieg nie?

Ons werk- en blyplek is deesdae in Potchefstroom, wat ons ons huis gemaak het juis toe Marcé moes hoërskool toe.

Saam met Herklaas Engelbrecht en Riaan Kotzé op Upington.
Ons is vroeg Sondagoggend 8 Desember die huis uit en Noordwes uit en moes eers die provinsie se gehawende paaie aandurf deur al die klein dorpies, Hartbeesfontein, Ottosdal, deur Vryburg en ‘n vroeë ontbyt in Kuruman se Spur.

Ons eerste afspraak was ‘n potjie by Riaan Kotzé, hoof van Upington Hoërskool waar ons op die handegedra is voor ons pad gevat het tot net anderkant Augrabies na die Oranjeriviervallei.

Daarna is ons saam na een van die legendes van Plattelandse rugby, die voormalige Noordwes-Kaap-kaptein Herklaas Engelbrecht, wat oor ‘n tydperk van 24 jaar provinsiale rugby gespeel het.

Ons slaapplek die eerste aand heet Daberas-gasteplaas en behalwe vir die Oranjerivier en die mooiste rotsformasies en hope rooskwarts was daar niks en stilte, en baie daarvan.

Die Besters by 'n skeepswrak op Hondeklipbaai.

Die drie dogters se selfone was min werd sonder ‘n sein en elektiese krag om dit te laai ná ‘n lang dag in die kar. Daar is vuur gemaak in ‘n donkie vir badwater en sterre gekyk.

Daar het ons almal weer mens begin word ná ‘n jaar se dolle gejaag, studies en skool.

Vandaar is ons die eerste keer Augrabies toe en met die rivier wat weens die droogte nie sterk geloop het nie was dit nou nie juis ‘n gesig wat ek sal onthou nie.

Keimoes, Kakamas (waar my vriend Gerhard Burger grootgeword het) was prentjiemooi, en Pofadder, Aggenys (dadelwêreld waar ons my neef, Dries, opgesoek het) tot Springbok het te vining by ons verbygeflits op pad na ons volgende bestemming: Hondeklipbaai.

By Mynderd Vosloo en sy ateljee in Hondeklipbaai.
Ons het ons blyplek, die Honnehokke, met ‘n pap wiel gehaal ná ‘n stofpad van sowat 70 kilometer, twee dae lank by nog ‘n vriend, Mynderd Vosloo, gekuier, een van die beste illustreerders (en spotprent-tekenaars) in die land.

Daar woon die manne met die mooi huise en die hophuisies deurmekaar in vrede met mekaar en kos sowat ses krewe ons net R350.

Twee dae van skeepswrakke, weer baie stilte en niks was net die medisyne wat ons nodig gehad het om ons vir die res van die vakansie voor te berei.

Ons moes daardie selfde grondpad terug met net vier bande aandurf op pad Lambertsbaai toe vir ons volgende afspraak: Muisbosskerm en al sy lekker visgeregte, waterblommetjies en afval.

Die plan was om ons pad verder Weskus-langs af te werk maar Houtbaai het begin roep.

Volgende keer: Afspraak met die Boksburg-bommer Gerrie Coetzee oor ‘n moontlike boek en oud-kollega Brian Schmidt wie nou in Vishoek woon.