Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.3.14

Dokter sê hy glo ná meting van arm

Die derde aflewering in PEET SIMONIS se reeks van vyf artikels oor sy ervarings terwyl hy in die jare sewentig ‘n reeks oor geloofsgenesings vir Die Transvaler geskryf het.

PEET skryf: Van Los Angeles af is ek na Columbus, Ohio waar Dan Bosman ‘n paar dienste sou hou. Hy het ook op baie radio- en TV-stasies in die VSA opgetree. Dit was duidelik dat sy bekendheid as
“geloofsgeneser” oorgewaai het na Amerika.

Kenmerkend van sy dienste was dat hy gewoonlik eerste vir mense met sigbare kwale gebid het – veral vir mense wat mank geloop het weens polio of omdat die een been korter as die ander is.

Wanneer hy gebid het, het arms en bene oënskynlik sigbaar voor die TV kamera en nuuskierige kerkgangers
uitgegroei. Hy het die pasiënte op ‘n stoel op die verhoog laat sit en dan hulle bene horisontaal opgetel en in die lug gehou aan die hakke soos op die foto regs gesien kan word.

Dit was dan maklik om te sien of die bene ewe lank is of nie en of hulle tydens gebed “uitgroei”. Hierdie is een van die foto’s wat ek daarvan geneem het. Dis ‘n foto van ‘n ou koerantuitknipsel uit Die Transvaler van oor die vier dekades gelede. Die oorspronklike sou in Kotie Venter se biblioteek wees as dit nog bestaan het.

Op die foto lyk dit of die regter been so drie tot vier sentimeter korter as die ander een kon wees. Ná gebed was albei op die oog af ewe lank.


Waarnemers het fyn gekyk of die heupe nie beweeg soos kan gebeur as iemand dalk die “korter” been onwillekeurig sou uitstoot om só (miskien in gretigheid op herstel) die wonder ‘n bietjie “aan te help” nie.
Dokters wat ledemate sien “uitgroei” het, was traag om dit as ‘n wonder te bestempel as dit nie deur meting bewys kon word dat die ledemaat inderdaad verleng het nie.

Daar in Columbus gebeur dit toe dat daar ‘n baie bekende (in daardie gebied) ortopediese chirurg, dr Ed Eyring, by een van die dienste opdaag. Hy het gesien hoe een van sy pasiënte se been “uitgroei” – dié van ‘n mnr Gohl.

Sy een skoen was aan die binnekant opgebou sodat mens uitwendig nie kon sien watter been is korter nie – net hy en sy dokter het geweet.

“Wag, moenie nie my sê nie”, het Dan gesê en vervolg: “Die Here weet mos watter een is korter!” en daar bid hy. En een been – die regter een – “groei” uit.

Dokter en pasiënt het vir mekaar gekyk - verras - en geglimlag. Ja, die regterbeen wás inderdaad die been wat korter was.

Dr Eyring se kommentaar: “Ek het dit gesien, maar ek kan dit nie glo nie. Voor ek kan bevestig dat ‘n ledemaat gegroei het, moet daar eers meting voor en ná die tyd wees”

By die aanddiens is daar gebid vir mense met verskillende siektes en kwale, maar mense se aandag was veral gevestig op ‘n vrou wie se een arm korter as die ander was. Net voor hy vir haar op die verhoog gebid het, vra Dan of dr Eyring nie dalk weer daar is nie. Hy was. Dan roep hom vriendelik vorentoe en vra of daar nie dalk iemand in die kerk is met ‘n meetband nie. ‘n Man het opgestaan en een in sy motor gaan haal.

Die kerkgangers het gelag en gedemp opgewonde met mekaar gesêls. Wat gaan nou gebeur?

Met ‘n pen het die ortopediese chirurg ‘n merk op die dame se een skouerknop gemaak en toe van die merk af gemeet tot by die punt van haar wysvinger – arm uitgestrek. Iemand op die verhoog het die meting neergeskryf.

Die mense in die kerk het in spanning toegekyk.

Die vrou het op Dan se versoek haar twee arms reguit voor haar uitgestrek – handpalms teen mekaar. Almal kon sien die een arm is korter as die ander.

Dan het ‘n eenvoudige gebed gebid, sommer oop oë. “Father, in the Name of Jesus ...” En voor hy klaar gebid het - daar verleng die arm!

Die mense klap hande!

Dr Eyring neem die meetband en hy vat sy tyd om te meet. Hy meet twee keer. Toe hy orentkom, lyk hy stroef, ernstig. Stilte het neergedaal in die kerk – almal wag op die uitslag.

“Ek het nie ‘n keuse nie – nou moet ek erken – daardie arm het meer as ‘n duim (sowat 3 cm) langer
geword. Ek glo dit moet die werk van God wees tot wie Dan gebid het!”.

Mense juig, klap hande, veral toe Dan laggend byvoeg: “Moenie na my kyk nie mense – ek het nie daardie arm laat uitgroei nie – ek kan nie eens ‘n verkoue gesond maak nie. Gee die Here die eer!”

Die Transvaler het die storie oor ses kolomme aangebied – byna ‘n halfblad vol. Hier is die opskrifte. Op die foto wat by die verslag gebruik is, is dr. Eyring besig om te meet terwyl Dan toekyk.

Volgende keer: Hoe ‘n Suid-Afrikaanse dokter, ‘n gewese selferkende agnostikus, gereageer het nadat hy ‘n polioslagoffer se been sien “uitgroei” het.

(K’rant beskou bostaande as ‘n weergawe van ‘n joernalis se waarnemings en ervarings in die uitvoering van sy pligte en plaas dit uit hierdie oogpunt. K’rant is steeds nie van voorneme om godsdienstige debatte te voer nie. – Red.)