Gert Coetzee |
Toe ek in die jare ’60 vars van die Puk af en ná ‘n paar maande in Jorissenstraat op die Wes-Rand as Die Transvaler (DT) se korrie aanland om Chris Pelser op te volg, het my latere korrie-bondgenoot en jare lange vriend, Cas Vorster, die Rand Daily Mail (RDM) se man op Krugersdorp, my sommer gou-gou onder hande geneem en die waarheid onbekook weergegee:
Jannie Coetzee |
“Willem hoef nie in die middel van die nag soos ‘n mal mens rond te jaag of soos ‘n afvlerkmossie op ‘n aftak van plek tot plek rond te spartel om ‘n storie te kry nie. Sy vrou hoef ook nie die telefoon 24 uur per dag op te pas as iemand dalk toevallig met ‘n storie sou bel nie. Die scoops kom na hom toe aangestap.”
“Waarom,” wou ek, groen lat wat ek was, weet?
“Wel, om mee te begin: Hy het nuustoegang tot omtrent elke amptenaar, polisieman, brandweerman, en stadsraadslid wat saak maak aan die Wes-Rand. En dan is daar nog die ambulansbestuurders, en ‘n wye spektrum van anonieme nuusbronne, binne en buite formele en informele sosiale kringe. Ja-nee, jy gaan bars.”
Ek het nie verder geluister nie. Dié Willem was klaarblyklik ‘n formidabele man. Ek sou dag en nag moes oefen, maar daar was hoop (of minstens so het ek in my jeugdige onbesonnenheid gedink).
“Wat van Oom Jannie Coetzee op Klerksdorp?” (Van Oom Jannie se bestaan as formidabele Wes-Transvaalse korrie was ek wel deeglik reeds sedert my Pukdae bewus. Daarom was dit met groot omsigtigheid dat ek op Oom Jannie se werf stories gaan doen het, omdat jy maar te goed besef het jy kan nie gaan staan en nonsens aanvang nie.)
“Nee, dis juis die probleem,” sê Cas.” Oom Jannie hoef nie soos menige ander korries sy nuusbronne onder die tafel in te drink nie. Hy verhef nooit sy stem nie. Hy is boonop hoflik en bedagsaam.”
“Nou hoe op aarde kry hy dan sy stories?”
“Hy is ‘n jintelman. Hy is so ordentlik, mense kan nie vir hom nee sê nie. Hulle voel goed oor hulself as hulle aan hom inligting gee. Al is dit dalk teen hul beterwete.”
Ek het net daar besef ek is in groot moeilikheid. DT se Wes-Randse Verteenwoordiger moes destyds sommer die Wes-Rand en Wes-Transvaal; die Verre Wes-Rand en lesbes ook die Vaaldriehoek op ‘n dag-en-nag-in- en dag-en-nag-uit-basis 24/7 dek. DV se twee manne kon elk op die Wes-Rand en die Wes-Transvaal konsentreer.
Maar, die Wes-Rand alleen was al klaar so min of meer hel.
Maak nie saak waar ek gekom het of wou kom nie, Willem was al klaar daar of op pad. Misdaad (met alles wat dit ingeluit het, krimineel of te nie) was sy forte. En nuusredakteur Das (Dirk) Herbst, het eenvoudig geen simpatie met sy groentjie verteenwoordiger aan die Wes-Rand gehad nie.
En so het ek my eerste groot les van die joernalistiek geleer: “If you are new on the job and you can’t beat them - join them.” Met Willem was geen alliansie moontlik nie, want DV en DT het in daardie jare kwaai teen mekaar meegeding. Dan maar by die regte vyand, die Engelse pers, gaan hulp soek. En so het ‘n lewenslange vriendskap tussen my en Cas Vorster, ‘n oud-Poot-Puk en die Rand Daily Mail (RDM) se man aan die Wes-Rand, ontstaan.
Dit was ‘n noodgedwonge stap, want boonop was DT se beskeie Kersfeeskousie nie naastenby genoeg om die nuusbronne van die ander twee koerante te troef nie.
My gewete was gesus, want DT en die RDM het hoegenaamd nie in die dieselfde marksegment meegeding nie. En so met ‘n dubbele aanslag kon ons die man van DV op sy eie agterplaas met “misdaad”-stories begin klop:
- die treinwa wat die jong rangeerder in twee dele gestamp het;
- die seuns wat in die Krugersdorp-koppies verkeerde kant wind af probeer vlug het toe hulle die veld aan die brand gesteek en omtrent tot as verbrand het;
- die brandweerman wat sy broer "per ongeluk” met ‘n broodmes tussen die blaaie doodgesteek het;
- die apteker wat sy vrou “toevallig” doodgeskiet het en die ergste,
- die ses mynwerkers wat in Durban Deep doodgebrand en die vyftig wat mekaar in Western Deep doodgetrap het.
Aan die Wes-Rand was daar ook klein, persoonlike scoops, wat my groot vreugde verskaf het - nie die minste nie, omdat DV se man niks daarvan geweet het nie: Soos om die voet-en-mond-skilder Flip Swanepoel en sy motor te "ontdek” het, nog lank voor hy in die openbare oog was. DT het die storie mooi groot met foto’s gebruik, want as ek reg onthou, was dit die eerste motor wat in SA omgebou is sodat dit sonder ‘n gewone stuurwiel met voete bestuur kon word.
Ná ‘n jaar of wat, kon ek vaarwel aan Oom Jannie, Willem en die goeie mense van die Weste sê om, van alle dinge, DT se promosieredakteur te word. En soos dit gaan, is dit nou weer heeltemal ‘n ander storie.
• Die skrywer was ‘n koerantverkoper van Die Volksblad en in die jare ’60 perswetenkapstudent aan die Puk, Vaderland-korrie op die kampus en redakteur van die Potch-Nuus in sy MA-jaar. Daarna het hy in DT-nagkantoor onder Piet Gouws se leiding gewerk (in die voorafgaande jare ook tydens vakansies); toe as kerk- (Beyers Naudé) en onderwys-verslaggewer (stiging van RAU), asook Wes-Randse verteenwoordiger, onder Hennie Kotzé en Das Herbst as nuusredakteurs, en toe saam met Jo Groenewald as DT se promosieredakteur. Maar die skrif was deurentyd aan die muur en die besef het oorgeneem dat ‘n beroepskuif uit die Transvaalse joernalistieke en politieke wêreld Kaap se kant toe vir ‘n Vrystater die aangewese ding was om te doen. By mediamense.co.za (onder Nabaat) word die storie verder vertel.