Miskien ook meer eksplisiet dankbaar dat ek bittermin in dié jare in koerantkantore gesit het. My werkplaas was - om dit by wyse van spreuke te stel - op die sypaadjie.
As dit bloot nou wil oorkom dat ek ‘n eie beuel blaas, sal dit die doel van hierdie bestekopname skade doen. Dit is juis om op die winste van die joernalistiek te wys.
‘n Voordeel vir ‘n joernalis wat ‘n wye agtergrondkennis en gesonde nuuskierigheid het, maar wat ook darem spesialisgebiede het, is dat daar geen rakleeftyd is wat jou beperk nie. Wat die grootste voordeel inhou, is ‘n vinnige assosiasie met name en sekere feite wat ‘n mens dadelik by die kern van ‘n storie bring. Die voordeel is, jy luister anders na wat rondom jou gebeur.
Wat my in die afgelope klompie jare te beurt geval het, is dat hierdie ervaring en inligting tog teen die tyd verreken word. Omdat jy gedoen het wat jy gedoen het, word jy ingetrek. Wat jy het en kan aanbied, word deel van die aantekening van die onlangse geskiedenis.
Wat vir my ‘n voordeel is, is dat ek ‘n rekord van al my gepubliseerde werk bewaar het, dikwels van dinge waaroor my instink meer oordeel as my kop gehad het. Foto’s en ander dokumente het ek bewaar asook soms bepaalde aantekeninge van onderhoude wat breër strek as dit waaroor gerapporteer is. (Die versameling word gehuisves in die Dokumentesentrum van die Universiteit van Stellenbosch.)
Hierdie materiaal het ‘n wyer gebruik as net vir eie gebruik. Dit is versamel rondom die joernalistieke berigte en artikels wat ek geskryf het. Ek noem ‘n klompie as voorbeeld:
• My betrokkenheid by die Chris Barnard-hartspan vanaf die eerste oorplanting vir ten minste ses jaar bring mee dat heelwat van my materiaal opgeneem kon word in die Hartoorplantingsmuseum van die Groote Schuur-hospitaal. Ook om weer materiaal beskikbaar te stel vir die nuwe Christiaan Barnard-hospitaal wat op oorplantings spesialiseer.
• Die dekking van die Tulbagh en groter Boland se aardbeweging van 1969 het gelei na ‘n permanente uitstalling van berigte en foto’s in die Tulbagh-Museum oor die gebeure.
• Die verwoestende Laingsburg-vloede van 1982 se aantekeninge oor die gebeure en veral onderhoude met oorlewendes en foto’s was van waarde vir die dorpsmuseum, maar veral deel van ‘n helende ervaring van baie inwoners wat dertig jaar ná die herdenking van die tragedie vir die eerste keer weer teruggekom het.
Ook was daar die voorreg om met ander saam te werk waar jou ervaring, materiaal by wyse van berigte, foto’s, aantekeninge en briewe deel kon wees van verskeie uiteenlopende projekte. In my geval was daar heelwat sulke voorbeelde. Om ‘n klompie, as voorbeeld, aan te teken:
• Inligting en foto’s aan JC Kannemeyer vir sy biografieë oor Jan Rabie, Uys Krige, Etienne Leroux en JM Coetzee.
• Inligting en foto’s rondom Lizette Rabe se bestekopname van Rykie van Reenen se joernalistieke bydrae in Rykie, ‘n Lewe met woorde (Tafelberg, 2011).
• Notas en foto’s in die Russiese skrywer, Boris Gorelik, se biografie, Incredible Tretchikoff (Tafelberg, 2013).
• Bydraes en foto’s oor die geskiedenis van die Eoan Group, die oudste amateuroperagroep in Suid-Afrika in Hilde Roos en Wayne Muller se Eoan, Our Story (Fourthwalls Publishers, 2013).
• Bydrae en ‘n foto in A Roland Holst, die skrywer, Jan van der Vegt, se biografie oor dié Nederlandse digter (De Prom, Amsterdam, 2001).
Die tweede aflewering van Amanda se reeks verskyn volgende Woensdag.