Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.10.13

Donkie kos Joe sy baadjie en das

JOE VAN BUUREN skryf: André van der Merwe se voortydige dood het my herinner aan die tyd toe ek en hy saam oor ‘n storie verslag gedoen het.

Twee Suid-Afrikaanse weermaglede is daarvan aangekla dat hulle ‘n meisie van Botswana verkrag en vermoor het.

Die rooi A dui Pontdrif aan.
Hulle is voor ‘n krygshof gedaag en die verhoor is gehou in ‘n klomp groot tente wat by
Pontdrif, aan die grens tussen Suid-Afrika en Botswana, opgeslaan is.

Ter wille van gesonde internasionale betrekkinge is die media uitgenooi om verslag oor die verrigtinge te doen.

Ek was by Die Transvaler en André by Die Vaderland en ons het ‘n persmotor na Pontdrif gedeel.

Die naaste slaapplek aan Pontdrif was in die hotel op Alldays, waar ons toe kamers gehuur het.

Die weermaglede is na twee dae skuldig bevind en gevonnis (ek onthou nie die besonderhede nie) en die weermag het ons nuusmense ná afloop van die verrigtinge na ‘n geselligheid uitgenooi.

Dit het sommer daar in een van die groot tente plaasgevind en omdat die weermag betrokke was, was daar ook drank betrokke. Baie drank.

André van der Merwe
In ‘n stadium kom André by my aan en sê hy gaan terug Alldays toe en wil ek saamry.
Ek was lus vir nog kuiers en ek sê toe vir hom dankie, ek sal ‘n geleentheid met iemand kry.

Groot fout.

Heelwat later daai nag ry ek en ‘n jong kêrel van The Star toe saam met ‘n verslaggwer van Sapa in sy motor terug na Alldays.

Daar is natuurlik geen beligting op die pad tussen Pontdrif en Alldays nie, maar so tien minute of wat ná ons vertrek verbeel ek my ek sien iets voor in die pad.

Dit was nie lank nie toe besef ek dis ‘n donkie wat daar staan.

Die bestuurder het glad nie gereageer nie en toe ek met hom wil praat, besef ek tot my onsteltenis hy is vas aan die slaap agter die stuur!

Net toe tref ons die stomme dier met ‘n helse slag.

Soos dit maar ‘n donkie se gewoonte is, het dié een die ganse dag heerlik gewei en die geweld van die slag het die windskerm aan skerwe laat spat en die inhoud van sy maag in ‘n onwelriekende groen laag oor ons en die binnekant van die motor versprei.

Nie een van ons is beseer nie en nadat ons tot verhaal gekom het, het ons ons reis voortgesit onderwyl die wind ons deur die afwesige windskerm droog gewaai het.

By die hotel aangekom, het Sip de Vries, wat vir The Citizen daar was, my vertel hy het ons geruik lank voor hy ons gesien het.

Ons was van kop tot tone bedek en dit het ‘n groot gespook onder die stort gekos voor ons dit weer tussen ander mense kon waag.

My klere – hemp, das, broek en baadjie, moes ek net so in die hotel se vullisblik gooi. Niks sou dit ook weer skoon gekry het nie.

Dit was nogal ‘n gevoelige slag vir ‘n ou wat destyds in ieder geval net een baadjie en das gehad het.

Dis tog eienaardig hoe die wiel draai.

In die nuwe Suid-Afrika dra ons nie meer ‘n pak klere of selfs ‘n baadjie by die werkplek nie.

Die gevolg is dat ek op my gevorderde leeftyd weer net ‘n enkele pak besit.

Ek dra hom hoofsaaklik na begrafnisse.

  • Ter herinnering aan Joe se ontberings en die donkie wat heengegaan het, klik HIER.  Sit die luidsprekers aan.