Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.10.13

Willem de Klerk-legger gee Gert nuwe lewensin

GERT COETZEE skryf: Ek was agt toe ons Krugersdorp toe trek. Ons was in die Dopperkerk agter die dam en standbeelde, oorkant die koshuis van die Hoërskool Monument, en ons predikant was doktor Willem de Klerk.

Hy het die slag gehad om vir jou spesifiek te preek, of jy agt of tagtig was. Nie vuur, swael of ’n outestamentiese, ewige verdoemenis nie.

Willem de Klerk
Hoop, liefde, mededeelsaamheid en medemenslikheid in, soos my ma dit graag genoem het, die allermooiste kanseltaal. Hy het nie oor jou kop gepreek nie, al was jy klein of seniel, en hy het vir jou gefundeerde motivering gegee om ’n ordentlike lewe te lei. Jy het met ’n bruisende blyheid in die gemoed uit die kerk gestap.

Sondae was heerlik. Ná kerk en tee het my ma die hoogtepunt van die week se spyskaart berei. U Eie Keuse het gespeel oor die ou radio in die kombuis wat nog buise gehad en nou en dan afgeskakel moes word om ’n ggrrrrr-steuring te verwyder. My pa het dominee Wimpie se preek gedissekteer en ek, my ma en my boetie het fluks aan dié geestelike oefening deelgeneem.

Dominee Wimpie was ’n flukse predikant. Hy het gereeld huisbesoek gedoen, met of sonder die ouderling of stewige deputasie van die swartspan. Sy huisbesoeke was net so lekker want my ma het die heerlikste verorberinkies uit haar Kook en Geniet saamgeflans vir ná die Boekevat. Ons was baie jammer toe hy opgeroep word na die groter saak in Potchefstroom.

Sen Jan de Klerk
Later jare is ek na die Hoërskool Jan de Klerk omdat ek krieket gespeel en musiek as ’n vak geneem het en Monnas in wie se skoolwyk ons eintlik gebly het, dit nie aangebied het nie.

Een keer per jaar (ek vermoed amper dit kon op die verjaardag van senator Jan de Klerk gewees het) het ons kermis gehou waaroor ons in Jannas natuurlik in ons skik was want dit was in skooltyd en dié besondere dag was daar geen skool nie. Dit gebeur so dat ons klas die betrokke jaar die koffiestalletjie beman. Buiten koffie verkoop, moes ons skinkborde versnaperings aandra na die hooggeplaaste besoekers en ons is die dood voor oë gesweer om toe te sien dat dié koffie hulle stomend warm bereik.

Ek en my lewenslange maat, wat my in net soveel verdriet en verknorsing laat beland het soos ek vir hom, het die dag saamgestap en die lummel het my natuurlik die skinkborddraery laat doen omdat hy groter en sterker as ek was. Terwyl ons die afkoelende koffie terugdra na ons stalletjie loop ons die senator wat ons almal op Jannas Oom Jan genoem het, die inspekteur van onderwys na wie die skool se JJ van Tondersaal genoem was, “Ou Schieke”, die hoof, en hul goeie gades raak.

Een van hulle vra: “Oe, hoe oulik! Is die koffie nog lekker warm?” Marra Flippen Louw druk toe sy vinger in die een koppie en sê nee, ons sal warmes gaan haal. Oom Jan, die hoof van die lammervangers en die goeie gades het gedink dis snaaks en lekker gelag. “Ou Schieke” het vir my en Marra natuurlik weer die Maandag gelooi.

Toe ek Die Transvaler se Oos-Randse kantoor beman was ek heeltemal uit die veld geslaan oor professor De Klerk se aanstelling as redakteur. Die Kroonprins van Potchefstroom, dopperdominee, eensklaps ’n joernalis? Hy het egter van meet af diep spore in die Afrikaanse mosaïek getrap as diep denker, filosoof en ’n swaargewig wat gesag en respek afgedwing het. Af en toe het hy my gebel, nie om “op te check” nie, maar om eerlik my mening te vra oor gebeure en gebeurde in my kontrei of sommer net bemoediging en aansporing: “Lekker storie, Gertjie, ek dag ek bel net en sê … ”

Ons ouens in die buitekantore het elke nou en dan verskonings gevind om hoofkantoor te besoek of moes desnoods pakkies deurvat en dan het hy my in die gange voorgekeer dat ek en hy gou kon gaan gesels in sy kantoor. Hy het my vrou se naam geken, my seuntjies s’n en geweet van elke kranklikheid of kwaal wat ons gesinnetjie getref het waarna hy belangstellend verneem het. In daardie intieme privaatheid het ek nooit geweet hoe om hom aan te spreek nie; doktor, professor of wat nie en ek het hom dan maar gedominee.

Jannie Coetzee,
Gert se pa.
Dit was ook nie vreemd as ons jonger koerantklomp daai dae by iemand se plek uitgerafel en ons inhibisies onder onsself uitgekuier het dat hy sou opdaag nie, al was hy pikkewynpak en al op pad na ’n belangrike funksie. My pa-hulle was net so beïndruk omdat hy gereeld met belangrike besigheid in Potchefstroom die draai Klerksdorp toe en terug gery het om hulle te gaan groet en besoek, soms selfs onaangekondig.

FW de Klerk
Met die staatspresidente het ek oor die jare baie te doen gehad hoewel ek geen politieke dier is nie, maar meer as my regverdige deel politieke beriggewing onder (stilswyende) dwang en ongeneëndheid moes pleeg. Iets wat vir my uitgestaan het was toe Pietersburg stadstatus verkry en ek ’n gebinde gedenkbylae (132 bladsye) vir Die Noord-Transvaler uitgee. Ek het ’n genommerde eksemplaar aan pres FW de Klerk gestuur en hy het my kortliks, maar hartlik bedank met ’n geskrewe notatjie.

Toe kom Andries Botha met die skitterende reeks oor doktor Wimpie. Toe ek dit raaklees, het ek nie kon wis hoe dit my uitkyk op die lewe sou beïnvloed nie.

Ek sit ’n aand afgemat ná ’n rowwe dag op kantoor in die bus. Dit sous, die wind waai soos hy net in die Kaap kan, ek het natgereën op pad bushalte toe, ek kry koud en ek is honger. 
Desperaat, terneergedruk knoop ek ’n verwytende monoloog aan. Hoekom Here? Ek doen my bes, maar vir wat? Die mooi Moslemvroutjie se Renault Clio het my ou lyf en been verkreupel en die pyn is ondraaglik, veral as dit nat en koud is. Die kanker het my gevreet dat ek net vel en been is. Daai beroerte een Sondagmiddag op kantoor … was dit nou wragtig nodig? Ek sit opgesaal met ’n sieklike ou vrou wat my twintig jaar lank so gehaat het, ons het geen woord gepraat in dié tyd nie. Saam met haar het ek hier, oudag, haar sosiale verantwoordelikheid bygekry: ’n verstandelik en liggaamlik gestremde jong vrou, ’n mensie met die vermoë van ’n sesjarige. Ag nee wat, Here!
En ek onthou een van die aflewerings in Andries se reeks, waar hy aanhaal uit doktor Wimpie se begrafnisbrief wat hy self geskryf het: “Sterwendes moet, ‘al luisterende’ gehelp word om die sin van hulle lewe te vind. Ontknoop saam met hulle ou konflikte en woedes. Vertel hulle dat liefde sterker is as die dood, want hulle gaan vir ewig liefde geniet en in liefde sal hul nagedagtenis voortleef in hulle naby-mense.

“Die lig, na duisternis van die siekte en dood, sal al die misverstande verdrywe, al die skuld, aggressie, angs en depressie laat verdwyn, al die paradokse oplos en al die hartseer wegneem.

“Sit by die sterwende in daardie laaste dae of ure van onttrekking met ’n gerusstellende hand wat vasgehou word, en in stilte wat bo woorde uitgaan. Die stilte van die misterie.”

En dan?

Soos dit in die afsluiting van sy begrafnisbrief geskryf staan:

“Gedenk my in die sentimentele rympie van Koos du Plessis, die sanger. As julle saam buite gaan staan, kyk op. En ek sal in julle hart sê:

“As jy my kan volg…
“Sal jy my spoor in die Melkweg vind,
“My tent tussen sterre sien staan.”

Ek het my antwoord ondubbelsinnig in die bus gekry. As ’n Afrikaner-ikoon soos Willem de Klerk (uit al Andries se vertellings) by tye so swartgallig, swaar gestoei het met die lewe is dit tog sekerlik in orde dat ’n gewone sterfling soos ek ophou om homself te kasty. Uit dié reeks was die boodskap duidelik van Bo af: “Donner, dis hoekom jy daar is. Daai mense is joune en hulle is almal afhanklik van jou. Dis jou opdrag in die lewe want Ek het jou nie gefolter nie, Ek het jou gelouter. Ek het jou die krag en verstand gegee om lewenskwaliteit te bring vir platgeslane, weerlose mense.”

Andries Botha en ’n dopperdominee van Krugersdorp het my weer sin in die lewe gegee.

Klik HIER vir toegang tot die Willem de Klerk-reeks.