Hanekraai, personeelblad van die APB, het in Julie 1970 soos volg berig:
Johann Liebenberg |
Willie Havenga |
Vir Johan was dit nou nie juis 'n snaaksigheid om hom anderkant die groot blouwater te begeef nie, want hy
was al op sy dag Londense verteenwoordiger.
Maar met Wilie was dit heeltemal 'n ander storie. Vir die eerste keer in sy lewe sou hy sy oë in 'n ver land gaan neersit. Hy sê dat hy nooit kon dink dat so iets met hom sal gebeur nie.
Ieder geval, die nuusredakteur het Willie die middag kort duskant vieruur onder voor die APB-gebou in Aucklandpark gekry en meegedeel dat hy sy dingetjies moet regkry, want die volgende dag vertrek hy Portugal toe.
Mense, julle moes sy gesig gesien het! Dit was die ene ongeloof en verbasing. Daar word ook betroubaar verneem dat hy nie die hyser derde verdieping toe gebruik het nie, hy het sommer boontoe gesweef.
Wanneer Willie weer tot verhaal gekom het, weet nugter. Ook half anders gelyk toe hy weer hier in Johannesburg aanland - kompleet nes 'n Britse betoger met lang hare en al. Dit was egter gou duidelik dat vroulief nie hiermee gediend was nie, want net die volgende dag het die hare gewaai.
My (en Vorster) se eerste reis oorsee
John Vorster |
WILLIE HAVENGA skryf: Ek was ook een van daardie ouens wat daarvan gedroom het om oorsee te gaan, Drie maande lank wou ek op my eie tyd gaan, niks van daardie georganiseerde blitstoere waarvan daar gepraat word nie. Dit was my droom, 'n lekker rustige vakansie oorsee.
Voor ek weer 'n slag kon dink, was ek op 'n oorsese reis en wat meer is, dit was 'n blitstoer! Vier lande in twee weke en boonop moes daar rekening gehou word met die streng veiligheidsmaatreëls wat vir die Eerste Minister getref is. Die ergste was die vrees wat deurentyd aan die maagsenuwees geknaag het - sê nou ek word ge-“scoop” .
Frans du Toit |
Voordat ek nog my verdediging kon regkry, vra hy of my paspoort reg is, more moet ek Europa toe.
Johann (links) en Willie |
In Lissabon aangekom, is ons die aand om elfuur na 'n ateljee waar Johann sy storie sou skryf en ek my films sou ontwikkel. Daar was nie 'n fotograaf beskikbaar nie, net die bestuurder wat geprobeer help het en so ampertjies het sy hulp my in die warm water laat beland.
Sy kennis van fotografie was maar gebrekkig en van filmontwikkelaar nog minder.
Eindelik kry ons die ontwikkelaar. Net toe ek met die ontwikkeling wou begin, hoor ek hom gil en na veel gesukkel verstaan ek van hom dat die vloeistof wat hy aan my gegee het, nie filmontwikkelaar is nie.
Wat nou gedaan? Hier staan ek in die donkerkamer en as ek die deur oopmaak, is die hele film daarmee heen.
Die enigste genade was om die hele gebou se ligte uit te doof, die regte ontwikkelaar te kry en weer voort te gaan. Later sou ek tot die ontnugtetering kom dat daar ook nie 'n filmdroër is nie. Dit is mos die land van Manjana dié - more is nog ‘n dag.
Uiteindelik is die foto's reg en toe ons hier teen vieruur by die gebou uitstrompel. was die landlynmasjien besig om die foto's na Die Vaderland in Johannesburg te stuur.
Van Lissabon af het mnr. Vorster en sy geselskap per motor na Madrid gereis en ek en Johann is met 'n gehuurde motor agterna. In Spanje is die paaie reguit en die Spanjaarde is nie 'n bietjie haastig nie.
Johann het met die tikmasjien op die skoot in die motor gewerk om vir die "deadline" betyds te wees, maar hoe vinniger die motor gery het, hoe meer het hy die toetse misgeslaan.
• Die etery daar anderkant het dikwels moeilikheid gegee, veral omdat die kelners nie lekker kon verstaan wat 'n man wil hê nie.
Dit was toe mos in Parys dat ek vir 'n lekker Coke-float lus kry. Gelukkig ken Johann ‘n bietjie Frans en het hy beduie wat ek verlang, maar blykbaar het die Franse nog nie van so iets gehoor nie. Toe ek my oë uitvee, sit die kelner 'n yslike bord roomys voor my neer en netjies daarnaas 'n familiegrootte-Coke. Ek het nog nie weer roomys geëet nie.
Om die toer af te rond, het ons toe 'n draai in Genéve gaan maak met sy groot meer en spuitfontein wat 400 voet in die lug opstoot; die stad waar fotograwe in die somer tot agtuur in die aand sonder 'n flits kan foto's neem, want dit word eers nege-uur donker.
• Noudat dit verby is, kan ek maar net sê dat as ek die toer moet oordoen, ek sonder om te huiwer my goedjies sal pak, want daar was so baie hoogtepunte wat die moeilike dae oorskadu.
Ek sal altyd aan dié onverwagte blitstoer terugdink as mnr. John Vorster se eerste oorsese reis – en myne.
Lekker? Dit sal die dag wees!
JOHANN LIEBENBERG skryf: Saam met die Eerste Minister deur Europa? Ai, maar dis te heerlik!
Dit was, en is nog die algemene reaksie hier in Die Vaderland- gebou rond.
My antwoord daarop is: Dit sal die dag wees! en verskoon die goeie anglisisme.
Die rooi dui aan in watter lande aangedoen is. |
Die grootste enkele gevaar van die toer was dat ons op ‘n dag êrens in 'n Europese hoofstad sou afklim net om uit te vind dat die Eerste Minister in 'n ander hoofstad is. Weens veiligheidsoorwegings was inligting -- op alle gebiede -- beperk tot 'n minimum. En elke koerantman weet wat dit beteken.
Ons is uiteindelik deur Portugal,Spanje, Frankryk en Switserland. En dit was nie net die taalkwessie nie. Erger nog was die koskwessie.
Een van Willie se foto's: Me Tienie Vorster by 'n gesin op die platteland van Portugal. |
Maar ons het, soos Caesar, "gekom, gesien en gewen". Daar was darem oral kantore van ons agentskap, United Press International, en hulle het my berigte en -- soms -- Willie Haverrga se foto’s deurgestuur. Om te kla omdat my beste berig,'n eksklusiewe onderhoud met dieEerste Minister, êrens tussen Madrid en Johannesburg van die draad afgeval en verlore gegaan het, sal nou nie meer help nie.
Interessant was dit ook, veral onderhoude wat ek binne die paar dae op elke plek inderhaas gereël ken kry met segsmanne van die verskillende regerings. Dit is nogal soms 'n openbaring om te hoor wat 'n Portugees en 'n Spanjaard oor Suid-Afrika dink. En toevallig heeltemal in stryd met wat die Engelse pers ons probeer wysmaak.