Saterdagaand tien voor twaalf – 16 Desember 1967. Louis Washkansky
het longontsteking. Dié ontstellende gerug doen reeds vroegaand die ronde. Maar bevestiging kry, is min.
En nou, skuins voor middernag, die eerste ligstraaltjie vir ‘n moeë en gefrustreerde koerantman: ‘n wenk oor die telefoon dat Chris Barnard reeds ‘n halfuur tevore by die hospitaal weg is om te gaan slaap.
Afgemete skakel ek die nou so bekende Barnard-nommer. Aan die anderkant lui die foon. Ek maak keel skoon … 15 sekondes … 20 sekondes … 30 sekondes. En uiteindelik ‘n slaperige vrouestem: “Hallo … Ja?”
“Goeienaand, mevrou,” kom dit ewe optimisties van my kant af. “Is die professor miskien daar?”
Doodse stilte vir vier sekondes. Dan bars hierdie einste “vrouestem” donderend in my ore los … dun en skerp, maar gewis dié van ‘n man.
“Dis nie mevrou nie. Dis die professor hierdie!”
Toe hy boonop moes hoor dat ek ‘n koerantman is, was die gort behoorlik gaar. Dit was ‘n swetsende prof Chris Barnard wat met “geen kommentaar” die foon in my oor neergesmyt het.
Prof Chris Barnard |
Louis Washkansky, eerste ontvanger van 'n oorgeplante hart |
Nie vanweë die grootsheid en die omvang van hierdie wêreldgebeurtenis nie, maar miskien weens die tientalle insidentjies, soos die enetjie wat ek hierbo genoem het.
Klein dingetjies wat so tussen die drama, die slapelose nagte en die honderde frustrasies die lewe draaglik gehou het.
Ons was eintlik familie – ons koerantmanne, die Barnard-gesin en die Groote Schuur-hospitaal. Maar ‘n familie wat gedurig aan die twis was – die Barnards en Groote Schuur gesamentlik en onverbiddelik in die stryd teen die pers.
Maar ‘n boer maak ‘n plan. Ons plaaslike manne het gou vasgestel dat die oorsese koerantmanne (wat behoorlik in swerms op Kaapstad toegesak het) makliker geholpe geraak het.
Ann Washkansky |
Bennie van Delft |
Nietemin, ons het blykbaar indruk gemaak. Bennie met sy prag Hollands en ek met ‘n twyfelagtige Nieu-Seelandse aksent. Ons het ons storie gekry, mekaar op die skouer geklop en die voorval vergeet – daar was tien duisend ander opdragte – totdat ek ses dae later in foutlose Afrikaans myself as “Snyman van Dagbreek” by die einste mev Washkansky aangemeld het!
Jong Louwtjie Barnard |
Die volgende dag was ek weer daar en die ontvangs effens koeler. Ek was immers die 14e koerantman wat daardie dag aan die voordeur geklop het. Die Vrydag weer en, ja, glo dit, ook die Saterdag. Dis toe dat sy keelvol ‘n voorvinger dreigend onder my neus druk en met ‘n “Snyman, vir jou d… ek!” my van die werf af verwilder het.
‘n Goeie tydjie later was ons weer van aangesig tot aangesig. Hierdie keer in ‘n gang in Kaapstad se hooggeregshof – die dag toe sy aansoek gedoen het om van haar beroemde man te skei.
Sy het my nie daar verwag nie. Die egskeiding was ‘n bes bewaarde geheim. Sy het senuweeagtig aan ‘n sigaret gesuig, my vas in die oë gekyk en die einste voorvinger gelig: “Snyman, vir jou d… ek!” Toe het sy geglimlag: "Ag, olraait. Skryf die storie, jong.”
En die ontvangs drie dae later vir ‘n opvolgstorie was weer soos die eerste – hartlik. In so 'n mate dat Dagbreek op 1 Junie 1969 met die volgende hoofberig straat toe is:”Mev Barnard praat reguit”.
Dit was net terloops. Die staaltjies uit hierdie veelbewoë tyd toe Snyman gedurig aan die kortste ent getrek het, is talryk. Maar daar was ook die drama en die hartseer.
Die ouerpaar Darvall |
Denise Darvall |
… ‘n Ann Washkansky wat op ‘n tydstip oortuig geglo het dat haar man niks anders as ‘n proefkonyn was nie.
Ek volstaan maar. Genoeg om te sê dat dié wêreldgebeurtenis my altyd sal bybly omdat ‘n goeie 20 onvergeetlike karakters die hoofrolle vertolk het.