Piet Ebersöhn |
Nee wat, sê hy laggend, hy het die storie jare gelede vir Rooi Rose geskryf, nog toe wyle Martie Snyman redaktrise was en dit g’n seksisties was om na ‘n redaktrise te verwys nie. Rooi Rose had destyds dan selfs “verteenwoordigsters” wat advertensies verkoop het. Hy het ‘n eksemplaar van die uitgawe en ek kan dit leen om ‘n afskrif te maak.
Rooi Rose: 17 November 1971 |
Herman loop nog met ‘n kierie ná ‘n aanval van Guillain-Barrésindroom, wat hom aanvanklik in ‘n rolstoel gehad het. Ná ‘n tyd met ‘n loopraam is hy gelukkig nou al by die kierie. Hopelik gooi hy aanstons dié ook nog weg.
Dis Rooi Rose se Kersuitgawe van 17 November 1971 wat hy in my hand stop.
Die skilder Jean Honore Fragonard se “Jong meisie wat lees” tooi die voorblad.Daar is vervolgverhale deur Bennie Fritz en Nickey van Schalkwyk. Bienkie Wessels het ‘n novelle geskryf, SC Brink en Maretha Maartens elk ‘n Kersverhaal. Henriette Louw skryf oor kos, Matty Reid oor modes. Fanus Rautenbach lewer ‘n rubriek “Dis my mense dié” en Hanlie Swanepoel een met die naam “Doodluiters”. Nivea vertel die lesers dis “die beskermengel vir u vel”; Playtex is “die gestopte bra om in te omhels”; Alupak-foeliebakkies belowe “geen las met panne was”; Luxuria-badmiddels weet te vertel dat skoonheid laer as skouerhoogte strek; en Marchand-Goue Haarwas maak Vaal-Annie oornag Witkop-Doedie.
Martie Snyman |
‘n Volle dosyn van hulle en elkeen vertel sy storie.
Maar voor ons Herman aan die woord stel, moet ons darem seker eers die man voorstel. Ek vra uit. Dit gaan maar traag, maar ek kry darem iets uit hom getrek.
Dirk Richard |
Met die stigting van die Afrikaanse Pers Beperk se koerant Sondagblad in Oktober 1961 het Ulrich Stark hom omgepraat om by dié koerant aan te sluit. Dirk Richard was die redakteur.
Die nuweling het net ‘n paar maande oorleef en Herman onthou hoe hy en Richard in Pretoria ‘n onderhoud met Gerrie Marais, die hoofbestuurder van die destydse Vleisraad, gevoer het toe die telefoon gelui het. Die hoofbestuurder het dit beantwoord en die gehoorbuis vir Richard aangegee. Hy het stil na die oproeper geluister, gegroet en die telefoon neergesit. Toe deel hy die Vleisraadbaas mee dat ‘n krisis voorgeval het en dat hulle die onderhoud nie kan voortsit nie.
Richard vertel die verhaal in sy boek “Tussen bid en droom”.
Uniegebou |
Hermie Hendriks |
Terug op kantoor het Dirk en Hermie lank agter geslote deure vergader. Toe is die nuus aan die personeel meegedeel.
“Dit was die vinnigste wat ek ooit van werk verander het,” sê Herman. “Dit was Dinsdag. Die Donderdag het ek by Die Vaderland ingeval. AM van Schoor was toe die redakteur.”
Die koerant se sluiting was ook die aanloop tot die samesmelting van Dagbreekpers en die APB om die APB (1962) Bpk te stig.
Richard het redakteur van Dagbreek en Sondagnuus geword. In dié tyd was Herman sedert 1965 ses jaar lank Kaapstadse verteenwoordiger van Dagbreek.
In Oktober 1972 het Herman as assistent-redakteur by Oggendblad onder Harald Pakendorf ingeval. Toe laasgenoemde Die Vaderland se redakteurskap oorgeneem het, is Herman as assitent-redakteur soontoe. Daarna is hy Transvaler toe, (nou sonder die “Die”), wat onder redakteurskap van Jan van Vreden ‘n Pretoriase middagblad geword het. Hy was onder meer finansiële redakteur.
“Ek het nie veel van finansies af geweet nie, maar ‘n mens leer mos maar,” vertel hy.
Onder Gerrit Velthuysen en Gerhard Burger was hy assistent-redakteur van Transvaler. Hy het uiteindelik afgetree as assistent-redakteur van Perskor se Pretoriase weekblad, Metro, onder redaksie van Francois Aucamp.
Een van die klein dingetjies wat hy uit sy loopbaan onthou, was van ‘n vrou wat van hoogverraad aangekla is en die Bybel as enigste leesstof gehad het. Sy het sterk beswaar daarteen gemaak dat dit ‘n “Nat Bible” was.
Die baie ryery by Dagbreek het hom ondergekry. Vandag Pietersburg (deesdae Polokwane) toe, more dalk Durban toe. ‘n Slag of wat selfs Lourenço Marques (nou Maputo) toe. Met al die gery het een van die motorbestuurders hom darem geleer om ‘n skaflike Sotho te praat!
Nou ja, ek weet dis nie ‘n pluimpie vir my joernalistiek nie, maar met dié lang inleiding is daar nie meer plek vir die storie nie. Dit moet maar tot more wag!