FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Op ‘n dag stap ek en The Star se misdaadversaggewer, Alan Hardy, op pad na ‘n misdaadkonferensie in John Vorsterplein met die trappe op en kry ons ‘n plas bloed op die trappe. Alan wonder of dit ‘n ongeluk- of aanrandingslagoffer se stille getuienis is.
“Nee,” help ek hom reg. “Voluntary confession.”
• Iemand vat my van agter af aan die nek en ek en Alan word deur die Randse speurhoof, brig Stoffel Buys, uitgeboender. Ons is albei die gebou belet. Hy gee ‘n opdrag dat die polisie as gevolg van my onsensitiewe opmerking nie met ons mag praat nie.
Ons was nie die enigste uitgeworpenes nie. Die Sunday Times se misdaadverslaggewer is ook op die swartlys. Dié kêrel was wat ons as ‘n “what if”-verslaggewer bestempel het. Hy het berigte uit sy duim gesuig en ingeligte bronne aangehaal.
Sy fiktiewe berigte was onopvolgbaar en hy het die polisie se tyd verspil deur te weier om sy sogenaamde bronne bekend te maak. Ek en Alan moes op ambulansmanne, die brandweer en ander koerantkollegas se wenke staat maak om ons werk te doen. Sipke de Vries het nie omgegee om die misdaadkonferensie se hoogtepunte met ons te deel nadat hy sy radioberigte deurgebel het nie.
• Toe besluit ek en Alan op ‘n “what if”-beriggie of twee. Sal dit nie nuuswaardig wees as ‘n blanke ‘n anderskleurige in Joubertpark van R2 beroof nie? En ons wit leuen haal twee koerante.
Ons gewetens pla en ons staak die “what ifs”.
• Toe bel iemand Die Vaderland met ‘n wenk oor ‘n groep ongenooide gaste in die suide wat by partytjies opdaag en die huismense terroriseer. Ek nooi Alan saam en tussen ons twee kry ons inligting en foto’s van vyf groepe mense wat deurgeloop het. Ek bel die polisie om te bevestig dat dit ondersoek word en word as gevolg van die speurhoof se verbod afgejak en noem in die berig dat die polisie nie daarvan bewus is nie.
Toe ek die volgende dag by Die Vaderland instap, gee die nuusredakteur, Sarel van der Walt, my die voorbladberig met 16 rooi navrae blykbaar regstreeks van die polisiehoofkwartier in Pretoria af.
Oom Sarel lig ‘n offisier in van die verbod en is bereid om saam te werk as die verbod opgehef word. Hy verskaf die nodige inligting en stel voor ek en Alan gaan wag by van die klaers om te sien wat gebeur waaroor ons verslag kan doen. Toe ons op die toneel aankom, is die boewe reeds in hegtenis geneem, die klaers is ondervra en die dossiere is aan ‘n aanklaer oorhandig. Die Vaderland en The Star het die polisie se vinnige, knap optrede op die voorblad aangekondig en brig Buys laat ons weer by die misdaadkonferensie toe.
Hoewel die res van die polisiegemeenskap ons vir my onsensitiewe opmerking vergewe het, was blitspatrollielede steeds suur.
• Só kry ons een ogged inligting oor ‘n gesinsmoord in Booysens. ‘n Blonde vrou en haar twee dogters is deur ‘n messteker vermoor. Vermoedelik haar vervreemde man. Die moordtoneel is deur die blitspatrollie afgesper en net moord- en roofvoertuie word voor die huis toegelaat. ‘n Hardgebakte blitspatrollielid bevestig die moorde en deel ons mee ons kan maar ry, want dis al is wat ons daar gaan kry tot nadat die ondersoek voltooi is. Ek doen navraag by een van die bure en die polisieman verbied hulle om met my te praat.
Hy dreig om my toe te sluit as ek aanhou om in die ondersoek in te meng. “Wat van die ander joernaliste?” wil ek weet. Toe hy sy boeie loswikkel, gee ek pad en soek ons motorbestuurder. Die kêrel gesels met ‘n huishulp en wil weet waarom ons padgee. Ek lig hom oor die dreigende inhegtenisneming in. Ons gee ‘n ent pad en hy vertel my die vrou met wie hy gesels het, werk vir die oorledene. Sy was ‘n ooggetuie en is klaar deur die polisie ondervra. Ek bel die berig deur en wonder hoe ons ‘n foto kan kry. Ons slinkse motorbestuurder doen by die huishulp navraag en sy smokkel ‘n foto uit die huis wat fotograaf Hannes Niemand terstond afneem.
Die motorbestuurder en die foto is terug koerant toe en ons wag om te hoor of die man al in hegtenis geneem is. Die Vaderland se vroeë uitgawe is in daardie jare reeds om twaalfuur versprei. Terwyl ons op die motorbestuurder wag, stel Hannes voor dat ons by die kafee gaan kyk of die koerant al daar is. Dit was. Hoofberig met ‘n driekolomfoto van die oorledenes. Ons koop ‘n koerant en wag vir ons bestuurder. Toe hy opdaag ry ons stadig verby die moordhuis. En die blitspatrolliekonstabel dwing ons tot stilstand.
Voor hy weer kan begin dreig, sê ek ons het inligting wat ons met hom wil deel.
“Wat se inligting?” wil hy weet.
Hannes oorhandig die koerant met die berig en foto op die voorblad en sê: “Bel ons as daar nog iets is wat jy wil weet.”
Waarna ons blitsig padgegee het.