Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.10.13

Ouma Pulane se huis toe gaan

In Rooi Rose se Kersuitgawe van 1971 skryf die blad se redakteur, MARTIE SNYMAN, onder die opskrif “Dit sal ek nooit vergeet nie” soos volg:

As ‘n mens terugkyk op ‘n joernalistieke pad wat byna 25 jaar ver na die dinge van gister en eergister toe streep, is daar baie insidente wat jy onthou. Sommige borrel só oor van die lag en die lekker dat jy jou
nou nog verkneukel by die blote lekkerte daaraan. Ander weer is so deurweek van die hartseer en verlorenheid van menswees dat jou keel maar knaend branderig raak. Daar was ook enkele dinge wat maak dat die ydelheid van die mensehart jou raakvat en jy met trots jou bors uitstoot. Maar daar is ook dinge waarop jy minder trots is; plekke waar jy oor jou eie mensheid gestruikel het en wanneer jy hieraan dink, glip jy vinnig om die hoekie van jou herinnering omdat jy dit nie kan bekostig om te lank voor die armoede van jou menswees stil te staan nie.

Een van die baie dinge op die lang pad terug wat ek nooit sal vergeet nie, is die ou Mosoetoevrou wat bang
was dat ons Liewenheer altemitters nie die taal van koning Moshoeshoe sal verstaan nie. Maar voor ek haar storie kan vertel, moet ek eers ‘n oomblik stilstaan by suster Enid se blessitse honger perd, want dis eintlik hy wat my op die spoor van Pulane se hartseerstorie gebring het.

Jare gelede toe ek nog verslagggeefster in die redaksie van ‘n Engelstalige koerant in Bloemfontein was, word ek eendag vir my pekelsonde na ‘n klooster in Bloemfontein gestuur. Hier hoor ek dat suster Enid ‘n groot probleem het. ‘n Jaar tevore het ‘n familielid in Engeland vir haar ‘n tjek van R10 gestuur, maar omdat hulle nie toegelaat word om enige besitting van hul eie te hê nie, het sy toe ‘n treppie en ‘n maer perd gekoop. Verder het sy toe ‘n afbeen-Outa gehuur om dag vir dag deur Bochabela te ry en al die siek Bantoes na die hospitaal te vervoer.

Alles het goed gegaan tot dit winter geword het en die perd, Tsedeso, se voer opgeraak het. Dis net hier
waar ek in die prentjie gekom het. Ná suster Enid my die storie vertel het, is ek op ‘n galop terug na die koerantkantoor en ek skryf ‘n hartroerende storie oor die verknorsing van Tsediso – die genadebringer – en die moontlikheid dat hy en sy treppie van die Bochabela-toneel af kan verdwyn.

Die volgende dag begin die telefoon lui. Die een bied ‘n paar gerwe hooi aan, die ander een ‘n sak mielies en ‘n derde ‘n spaarkampie waar Tsedeso ‘n rukkie kan wei.

Ek en suster Enid en Tsedeso se koppe is ‘n rukkie lank los deur, maar dis nie hoe lank nie of die vraterige perd het alles verorber en die hele geherrie begin van voor af aan.

Ek skryf die een snik-en-tranestorie op die ander en die mense stuur groenvoer en hawer en die duiwel en sy maat weet wat nog alles. Maar ek kan eenvoudig nie voorbly nie, want die vergalste Tsedeso verorber alles wat in sig is en teen die derde jaar weet ek nie meer raad nie.

Ek voel naderhand of ek kan runnik, want elke more as ek op kantoor kom, is my opdrag “sister Enid’s hungry horse” en ek weet voor my siel ek het nie meer ‘n enkele snik of ‘n traan oor waarmee ek ‘n mieliepit of ‘n hawersprietjie uit iemand kan pers nie.

Toe besluit ek te duiwel met alles. Nou gaan ek soos ‘n agterryer ‘n hele week lank deur Bochabela agter Tsedeso en die treppie aandrentel om eerstehandse inligting in te win oor alles wat die “genadebringer” vermag.

Die afbeen-Outa bied ewe hulpvaardig aan dat ek langs hom op die treppie kan sit, maar ek gooi haastig wal en beduie: "E lokele … baie dankie … fenks joe”, maar ek het bietjie oefening nodig en ek sal liewer loop.
Die pad is stowwerig en dit voel my of die Desemberson doodstil staan soos die dag in die dal van Gibeon en ek wonder of ek sal moet aanhou loop tot die maan oor Ajalon opkom.

Illustrasie
Toe beduie iemand dat ons gerus ‘n bietjie met Pulane kan gesels. Pulane is 105 jaar oud en dis nou al baie
maande wat die ou bene nie meer wil loop nie. Nou het Pulane gehoor dat die witvrou wat sorg dat Tsedeso kos het in die buurt is en daar is by haar ‘n groot nodigheid om met die Mosadi wa Makgoba – die vrou van die witman – te praat.

Ek gaan die huisie binne en toe ek in die slaapkamer kom, voel dit my asof die hittewalm daarbinne die asem uit my liggaam uit pers. Op die bed lê die uitgeteerde geraamte van ‘n mens. Maar die oë lewe. Die oë pleit en soebat en toe ek nader gaan , is die stem net ‘n fluistering. Toe praat sy met my. Sy praat in die taal van koning Moshoeshoe en sy mense en sy vertel my dat haar voete moeg geword het vir die lang pad wat sy gekom het. Sy sê sy het al só baie keer vir Modemo – die Liewenheer – gesê sy is nou moeg. Sy wil hê Hy moet haar na sy huis toe kom haal. Maar dit lyk vir haar die Modemo verstaan nie Sesoetoe nie, want hy het haar nog nie kom haal nie. Nou wil sy assegrootblief vra dat ek Hom in die taal van die Makhoa die boodskap moet gee: Pulane wil huis toe gaan.

Drie dae later kom haar kleinseun hoed in die hand die koerantkantoor binne. Hy loop reguit na my lessenaar toe en beduie hy het ‘n boodskap vir my. “Nkhono Pulane o tsamaile” – ouma Pulane het geloop. Maar voor sy dood is, het sy gesê hy moet asseblief vir my dankie kom sê dat ek in die taal van Makgoa gesê het wat haar nodigheid is. Nou het die Liewenheer verstaan. Hy het haar kom haal.