Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.2.17

Die dag toe Peet se profeet reg was

JOHAN LOTTERING skryf: Een middag sit ek in Die Transvaler se subkantoor in Mitchelstraat die middelblad en versorg. Net die HAB en middelblad moet nog sak. Die plek is blou gerook. Hoofsub Sandy MacDonald se oë traan. Sy hare staan wild. Hy’s moeg, want die oggendskof is al vroeg uit die vere.

Hy en Bere, ons oorlede vriend Johann de Beer, wil Western Hotel toe. More is Saterdag. Dis warm en ek moet saam. Ek hou hulle terug. Peet Simonis se kerkstories kom nie klaar nie. Sy goed is goed, maar 'n mens moet kophou.

16.2.17

Perskor-reünie 2017: geborg deur Dagbreektrust

Met die afsterwe van ons kollega en vriend, Hans Lombard, en die emigrasie van Piet Ebersöhn na Korfu is die reёlings vir vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) deur 'n nuwe komitee oorgeneem. In die voorsitterstoel is Harald Pakendorf en hy word bygestaan deur Margaret Lombard en Louise Blake.

Die reünie vind op Sondag, 26 Maart 2017 by die restaurant Keg and Eagle, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort plaas. Dis by die The Hub Crossing, dieselfde restaurant waar ons verlede jaar vergader het. (Wesrand Retail Crossing.)

10.2.17

Billy Graham in ongeluk by Thunder Gun

PEET SIMONIS skryf: Deur die koerante waar ons gewerk het, het ons joernaliste voorregte geniet wat nie die gewone man op straat beskore was nie. Ons het byvoorbeeld in kontak gekom met beroemde mense wat ons lewens verryk het. Soms was dit net vlietende ontmoetings, maar ander kere het daar vriendskappe uit gegroei.

Joe Venter en Gary Player het byvoorbeeld boesemvriende geword.

Ek weet Rika van Graan (wat ek aangestel het as eerste vrouemisdaadverslaggewer) het baie vriende onder polisiemanne gehad – van die laagste range tot heelbo by die generaals. Amanda Botha kan ook hoofstukke skryf oor van haar kontakte.

9.1.17

Tegnologiese Robinson Crusoe uiteindelik gered

PIET EBERSÖHN skryf uit Korfu: Dit het as't ware gevoel of ek `n tegnologiese Robinson Crusoe is toe ek aanvanklik langer as twee weke sonder internet of selfoon op die eiland Korfu in die Ioniese See gestrand was.


Ons moes seker maar dinge sien kom het toe alles nou nie uit die staanspoor verloop het soos ons beplan het nie.

Die gedagte was dat ons Maandag 7 November net ná 13:00 op Athene se lughawe sou land.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

1.12.16

Piet ontken vaderskap op rype ouderdom

PIET EBERSÖHN skryf: Dat ek nou op my rype jare vaderskap moet ontken! Peet Simonis is die vader van K'rant. Ek het dit bloot in opdrag van hom, Hans Lombard en Andries Botha help laat herleef.

(K’rant was vroeër deur middel van e-posse versprei. Onder Piet Ebersöhn se leiding het K'rant gestalte as ‘n webjoernaal (blog) gekry. – Red.)

29.11.16

Piet en Mariëtte skop nes in Korfu

GERT VAN ROOYEN skryf: Piet Ebersöhn, oud-Transvaler, die vader van K’rant en vir jare al die organiseerder van die Perskor-reünie, en sy vrou, Mariëtte, het toe die “groot Griekse stap” gedoen en aan die begin van November na die eiland Korfu verhuis.

Hulle huur tydelik `n landelike woonstel in die Achilleo-omgewing, suid van Korfudorp terwyl hul huis opgeknap word.

9.11.16

Joan Kruger se "biografie" oor Tafelberg

JOAN KRUGER, alombekende oudkollega by Die Vaderand asook Die Transvaler, het onlangs haar jongste boek, On Top of Table Mountain, gepubliseer.

Die boek kan teen groot afslag aanlyn by www.loot.co.za bestel word of by Graffiti-boeke in Pretoria gekoop word.

Hierdie lekkerlees-boek vertel die “storie” van Tafelberg soos ervaar deur die buitengewone besoekers wat tot bo-op hierdie ongewone berg geklim het.

7.11.16

Amper klap Notorius Pretorius se doppie

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!

My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!

Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!

1.11.16

As `n byskrif `n storie word ...

PIET EBERSÖHN skryf: Langer as twee jaar gelede het Somarie Grey, die dogter van Marius Jooste, grootbaas van Dagbreek en later Perskor, `n klompie ou foto’s uit die persgeskiedenis aan K’rant beskikbaar gestel.

Ek het gereken om die foto’s van behoorlike byskrifte te voorsien voordat ek dit aan K’rant voorlê, maar het intussen daarmee moed opgegee.

Ek het `n paar mense genader, maar wyle Bienkie Wessels was al een wat redelik kon help.

31.10.16

Volgende reünie ly nie skipbreuk

K’rant was Vrydagoggend skaars op straat toe Piet Ebersöhn laat weet het dat volgende jaar se Perskor-reünie gewis op die kalender is. Die borgskap vir die bymekaarkomslag is selfs reeds bevestig ook!

Piet, wie dit elke jaar gereël het en nou gaan verhuis, het laat weet dat niemand onvervangbaar is nie.

Die komitee in wie se bekwame hande die reëlings is, bestaan uit
  • Harald Pakendorf (voorsitter), 
  • Louise Blake en 
  • Margaret Lombard.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

17.10.16

Gert van der Walt oorlede

GERT VAN DER WALT is onlangs oorlede, het Gerhard Kleijn laat weet.

Hy was destyds betrokke by Hoofstad en Oggendblad se advertensieafdeling, waar sy broer die nuusredakteur was.

Gert en Tok Grobler het later 'n reklameagentskap begin en was verantwoordelik vir menige legendariese persuitstappies. Hulle het ook TV-reekse, soos Maak 'n Las, vervaardig.

13.10.16

Marius Janssonius oorlede

PIET PIENAAR skryf: Ek het ‘n foto van oud-Vaderlander Marius Janssonius in ‘n K’rant-berig opgemerk.

Marius is so drie jaar gelede oorlede. Hy het by sy dogter in Pretoria gebly. Hy het blykbaar, toe hy alleen tuis was, iets uit die swembad wou haal en vooroor in die water geval. Daar word vermoed dat sy hart gaan staan het. Dit was in die winter.

In 1988 het ek van Perskor na Sentrapers in Ficksburg geskuif. Marius was die bestuurder van die drukkery (wat voorheen aan hom behoort het.)

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.