Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.2.17

Billy Graham in ongeluk by Thunder Gun

PEET SIMONIS skryf: Deur die koerante waar ons gewerk het, het ons joernaliste voorregte geniet wat nie die gewone man op straat beskore was nie. Ons het byvoorbeeld in kontak gekom met beroemde mense wat ons lewens verryk het. Soms was dit net vlietende ontmoetings, maar ander kere het daar vriendskappe uit gegroei.

Joe Venter en Gary Player het byvoorbeeld boesemvriende geword.

Ek weet Rika van Graan (wat ek aangestel het as eerste vrouemisdaadverslaggewer) het baie vriende onder polisiemanne gehad – van die laagste range tot heelbo by die generaals. Amanda Botha kan ook hoofstukke skryf oor van haar kontakte.

Van ons kollegas het bevriend geraak met eerste ministers en presidente.

Golda Meir
Billy Graham
Onder die belangrikes met wie my pad gekruis het, was mev Golda Meir, eerste minister van Israel, prof Chris Barnard en dr Billy Graham. Laasgenoemde het my genooi om vir hom te kom kuier in Amerika en ek het gegaan. Onvergeetlik.

Ek het hom in Durban ontmoet op ‘n perskonferensie en toe het ‘n persoonlike onderhoud gevolg. Hy was in Suid-Afrika om twee groot byeenkomste toe te spreek – een op die stadion in Durban en die ander op die Wanderers se krieketveld in Johannesburg. Derduisende mense het kom luister na die eenvoudige maar treffende manier waarop hy die Evangelie kon verwoord.

In Suid-Korea was meer as ‘n miljoen mense bymekaar om dr Graham aan te hoor. Dit was op ‘n ou aanloopbaan vir vliegtuie. Terwyl die Koue Oorlog nog aan die gang was, het die Russe hom genooi om byeenkomste te kom hou van Siberië in die noorde tot in die suide van die Sowjetunie. Net soos deesdae met Trump, was daar baie wat nie daarvan gehou het dat hy Russiese toenadering nie afgewys het nie.

Dis verbasend hoe een of twee vrae op perskonferensies of tydens onderhoude met belangrike mense tot vriendskappe kan lei.

Dit was die geval met my en prof Chris en ook met dr Graham. Vir laasgenoemde was die vraag: “As daar sulke geweldige groot skares na u byeenkomste stroom en duisende tot bekering kom, maak dit u nie soms ‘n bietjie trots nie?”

Groot glimlag: “Yes it happens - but then the Lord spanks!” en hy klap sy hande teen mekaar om te wys hoe sy liefdevolle hemelse Vader hom reggestel het.

Ek was nuusredakteur van Die Transvaler toe Graham daardie Sondag op die Wanderers gepraat het. Hermie Hendriks het my pligte in die nuuskantoor vir 'n paar uur waargeneem sodat ek die storie en foto’s kon gaan haal.

Billy Graham se byeenkoms in 1973 in Johannesburg.
Foto: Billy Graham Evangelistic Association.

Hermie het besluit die verslag is hoofstorie en so het dit gebeur – seker vir die eerste keer in die nuusbladgeskiedenis dat ‘n storie oor Johannes 3 vers 16 en bykans 10 000 bekerings die voorblad van ‘n sekulêre koerant gehaal het. Plakkaat-storie ook!

Ek het gehoor dat Dr Billy saam met Gary Player en Cobie le Grange ‘n paar putjies sou gaan speel op die Randparkse golfbaan en is genooi om saam te stap.

Billy Graham en Gary Player op die Randparkse gholfbaan.
Die beroemde evangelis was vol grappies op die gholfbaan en dit was duidelik dat hy en Gary goeie
vriende is. Dit was nie hulle eerste ontmoeting nie. Ek het gevra dat hy asseblief vir my 'n foto teken en die beroemde Godsman het sonder seremonie plat op die grond gaan sit om dit te doen.

Die ding wat eintlik daartoe sou lei dat ek dr Graham beter leer ken, het omtrent ‘n uur later gebeur. Dr Graham en ‘n medeprediker van sy span, eerwaarde Smythe, was van die golfbaan af onderweg na hulle hotel. Hul voertuig is bestuur deur ‘n chauffeur.

Ek het agter hulle aan gery in my motor toe die Graham-kar in die destydse DF Malan-rylaan naby die bekende Thunder Gun-restaurant teen ‘n ouerige blou Volksie gebots het.

Die skade was nie ernstig nie, maar die bestuurder van die Volksie – ‘n middeljarige wit vrou, het uitgespring en begin “thunder”. As sy ‘n "gun" gehad het, sou sy dalk geskiet het ook, want sy was in skok en woede. Die ongeluk was duidelik die skuld van die swart bestuurder van die ander voertuig.

Sy het die deur van haar karretjie kwaai oopgepluk en al swetsende (in Afrikaans) na dr Graham hulle se mootor begin stap. Ek het besef hier kom nou 'n voorval wat internasionaal kan uitkring en Suid-Afrika skade kon berokken. Ek kon betyds keer.

“Mevrou, ek is ‘n koerantman en het alles sien gebeur. Die ongeluk was nie jou skuld nie, maar agter in die motor wat teen u gebots het, is belangrike buitelandse gaste. Ek begryp dat u baie geskok is, maar moet asseblief nie bekommerd wees nie – my koerant – Die Transvaler - sal al die koste dra en die Volksie perfek laat regmaak!”

Daardie dae het koerante nog baie geloofwaardigheid en aansien gehad, maar dit het ‘n rukkie geneem voor die oorlog uit haar oë verdwyn en die gloed op die wange effens getaan het. Ek het my naam en telefoonnommer vir haar op ‘n bladsy van my notaboekie geskryf en ook wat ek onderneem het, en haar motor se deur vir haar oopgemaak.

Arme chauffeur – hy was vaal van skok. Ek het na sy venster gestap en gesê als is reg en hom herinner aan "afstandhou".

Dr Graham en sy vennoot was geskok oor die ongeluk en die ontluikende drama. Hulle was baie dankbaar vir my hulp om die situasie te ontlont.

Voor sy vertrek uit Suid-Afrika het ek deur dr Graham se pers-skakelman, Art Matthews, ‘n uitnodiging gekry om vir dr Billy te gaan kuier in die VSA.

My geloof het deur my kontak met dr Billy soveel gegroei dat ek werklik gedink het die pers sal betaal vir die skade aan die blou Volksie; en vir die vliegkaartjie Amerika toe.

Maar dink nou aan aan Perskor se hoender-vir-Kersfees en oom Marius se kwaai kyk en sê my wat was my kans, op ‘n skaal van nul tot tien, om daai geld te kry?