Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.2.17

Die dag toe Peet se profeet reg was

JOHAN LOTTERING skryf: Een middag sit ek in Die Transvaler se subkantoor in Mitchelstraat die middelblad en versorg. Net die HAB en middelblad moet nog sak. Die plek is blou gerook. Hoofsub Sandy MacDonald se oë traan. Sy hare staan wild. Hy’s moeg, want die oggendskof is al vroeg uit die vere.

Hy en Bere, ons oorlede vriend Johann de Beer, wil Western Hotel toe. More is Saterdag. Dis warm en ek moet saam. Ek hou hulle terug. Peet Simonis se kerkstories kom nie klaar nie. Sy goed is goed, maar 'n mens moet kophou.

Hulle mik vir die deur toe ek roep: “Die wat ‘n oor het!

Peet haal ‘n straatprofeet aan wat maan: Pretoria gaan oor 40 dae so wit soos ‘n laken wees.

Die Western Hotel, Pretoria
Ek was onder die kleintjies wat in September 1964 in Linden, Johannesburg se strate sneeuballe gegooi het en ek kan my net indink.

Bere maak ‘n vet kruis op die kalender.

"As Peet reg is", dink ek, "moet ek my nonsens los: ophou rook en vloek en al die ander goed".

Die dae en weke stap aan. Ons vergeet toe skoon van alles.

Sandy
MacDonald
Peet Simonis
Net ná vyf een Vrydag in komkommertyd trek ons weer op Western toe. Saterdag se uitgawe is “works” toe. 

Die weer is erg bedompig. Die datum: 1 November 1985, presies 40 dae later.

Sandy kry ‘n drinktoelae, so glo ons. Dit moet sy ronde wees … Net daar en dan bars alle hel bo ons koppe uit.

Donderslae! Bliksemstrale! Rukwinde! Hael! Die Western wil omwaai. Simson druk teen die drinkgate. Glasskerwe spat. Dakteels bars. Mense roep. Ouens duik onder die toonbanke in.

Een van Pretoria se grootste storms bars los.

In die Poort, hoor ons later, was die hael goed ‘n voet dink. Die motors wou met die Apies afdryf.
Niks beweeg nie. Twee miljard rand se skade in ‘n oogwink.

Buite moet jy ‘n donkerbril opsit teen die skrilwit. My Opel het honderde duike by. Sandy se rooi Spider se afslaankap lek soos ‘n sif. Bere se rooi Cortina was Beiroet toe.

Stilte ná die storm. Ons kan nie bel nie. Ons kan nie ry. Ons kan nêrens nie. Vasgekeer in ‘n kroeg.

“Bere,” vra ek versigtig, “is ons nou almal Sondag in die kerk?”

“Nee, *** my China! Ons *** vat daai *** ou Sun City (casino) toe! Dan maak ons sommer al ons karre reg!”

Ná baie water in die see geloop het, is ek Sondag, 9 Sep 1990 in die Hatfield-kerk gedoop -- my hart vir die Here gegee.

Peet se profeet was so presies op die syfers dit kon nie net geluk gewees nie.

(Die SA Weerdiens se reënvalsyfers vir onder meer Pretoria vir die tydperk November 1964 en Desember 2001 is HIER. -- Red.)