Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

Heelwat van ons wat nog nie onder ‘n hoop kluite rus nie, is al afgetree en het dalk tyd om bietjie rond te snuffel in K’rant se solder. Probeer dit gerus en laat weet ons wat julle daar afgestof het.

Piet Ebersöhn
Ons is deeglik bewus daarvan dat daar ook net sóveel herinneringe is waaroor mens “verslag” kan doen en dat daar al hoe minder van ons is wat oorbly om te probeer onthou, maar van moed opgee is daar nie sprake nie.

Die ander sakie wat moontlik iemand se aandag gaan verg, is volgende jaar se Perskor-reünie. Piet Ebersöhn wat elke jaar die moeite doen om dit moontlik en ‘n sukses te maak, is nie meer lank in ons midde nie omdat hy gaan verhuis.

Was vanjaar se reünie die laaste een?

Ons hoor graag van julle! – Red.