Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.11.16

As `n byskrif `n storie word ...

PIET EBERSÖHN skryf: Langer as twee jaar gelede het Somarie Grey, die dogter van Marius Jooste, grootbaas van Dagbreek en later Perskor, `n klompie ou foto’s uit die persgeskiedenis aan K’rant beskikbaar gestel.

Ek het gereken om die foto’s van behoorlike byskrifte te voorsien voordat ek dit aan K’rant voorlê, maar het intussen daarmee moed opgegee.

Ek het `n paar mense genader, maar wyle Bienkie Wessels was al een wat redelik kon help.

My versoek aan haar het so gelui:

Kan jy dalk help om die mense uit te ken, asseblief? Die foto is op Dagbreekpers se 1954-jaardinee geneem.

Ek sien in die agterste ry van links mnr Jan de Klerk, [onbekende vrou], mnr Willem van Heerden (hoofredakteur Dagbreek & Sondagnuus), [mev Ella van Heerden ?], dr Hendrik Verwoerd, mev Susan Strijdom, mnr Marius Jooste (besturende direkteur), mev Betsie Verwoerd, adv Hans Strijdom (voorsitter), mev Marguerite Jooste, prof Wicus du Plessis, [onbekende vrou], mnr Ben Schoeman, [onbekende vrou], [mnr Tom Naudé?], [onbekende vrou], [onbekend].

Regs aan die tweede tafel van voor af sit mnr Koos Buitendag en teenoor hom mnr Neels Haupt. Kan dit Piet Meiring wees twee plekke links van mnr Buitendag?

Tweede en derde van regs met hul gesigte na die kamera aan die voorste tafel lyk na mnr Willem Schoombie en sy vrou, en links van haar mnr Tjaart van der Walt. Is dit reg?


Ek stuur nog ‘n foto wat van die ander kant van die saal af geneem is.

Jou hulp sal hoog waardeer word.

En saam met die tweede foto van 1954 se dinee:

Hier is die ander foto van 1954 se dinee.

Agterste ry is steeds dieselfde mense.

Mnre Buitendag en Haupt en moontlik Piet Meiring is by tweede tafel van voor.

Vierde van links in die voorste ry is mnr Jim McIntyre van Strathmore.

Tweede van links aan voorste tafel lyk besonder baie na Joop Venter, maar was hy ooit so hoog op in die strukture?

Mnre Mick van Rensburg en Otto Schwellnus behoort ook op die foto’s te wees, maar ek kan hulle nie uitken nie. Ander moontlikhede is Jack Scott en CW Roper, HS Wakefield en genl Ray van Strathmore; Anton Rupert, regter J van Wyk de Vries, RL Barry wat die Afrikaanse verteenwoordigers in die eerste direksie was, Dirk Richard, Mike Meiring (redaksielede), Danie Coetzee (rekenmeester en later sekretaris), Fred Kiloh (fabrieksbetstuurder).



En Bienkie antwoord:

Nou kyk nou wat doen jy my aan!! En jy weet tog ek is erg vir jou. Vra nou vir `n oude vrou om mense te eien – en sy onthou baie van die gesigte (kan selfs onthou hoe ek oor hulle gevoel het) ... en baie min name.

Bienkie Wessels
Net gou iets van my storie: ek het eers in die tweede helfte van 1954 by Dagbreek begin en aanvanklik in die bib gewerk tot daar `n vakature was. Het die Strathmore- mense nie geken nie.

(Ná Stellenbosch sommer reguit vroueredaktrise van Die Volksblad geword. Was 19 en baie dom. Het geskryf van `n kalkoen se rugstring en `n gemmerbierresep sonder gemmer die wêreld ingestuur. Die 19 was nie so ongewoon nie; in my BA-klas was ons drie wat 15 was in Matriek. Ons kon mos daardie jare in die laer skool twee klasse per jaar doen.)

Ewewel, ná n jaar en `n half by Die Volksblad het ek toe nog `n draai by Die Volksgenoot in Salisbury gemaak voor die miesies die grootstad aangedurf het.

Jy wonder oor Jopie. Dis hy, ja. Al die redaksielede – toe ek begin het, was ons 'n stuk of vyf (!) - is genooi. Ek het lekker onthou van die dinees; dit was vrolik.

En eindelik is ons by die foto’s. Hooftafel: stem saam met dié wat jy het en al wat ek kan toevoeg is mev Ben Schoeman wat tussen mnr Van Heerden en dr Verwoerd sit. Ella van Heerden eien ek nêrens. (Sy en mev Jooste was my twee groot gunstelinge; totaal sonder aansit.) Die vrou tussen prof Du Plessis en mnr Schoeman, verbeel ek my is Tom Naudé se vrou, maar ek is nie doodseker nie.

Aan die voorste tafel, waar hulle met die rûe na die kamera sit, lyk dit soos Albert Wessels sesde met die ry af. En aan die oorkant, tweede van onder, dink ek dit was dr Verwoerd se privaat sekretaris, maar dit help jou niks, want ek kan nie sy naam onthou nie. (Hy’t by `n latere dinee vir my `n briefie laat aanstuur. Heel romanties.) En dan hier aan die bopunt sit mnr Otto Schwellnus, langs die laggende vroutjie in die strepiesrok. (Sy vrou is elders.)

By die tweede tafel, waar Koos B teenoor Hoefie sit, is Hoffie de Beer (sportredakteur) derde van onder. En aan die oorkant van die tafel is dit Daan Coetzee en sy vrou; Gert Politiek (jammer, sy van vergeet; en hy was só `n liewe mens!) en Pieter ? (kyk in die kamera) en vreemde vrou en Neels Haupt en weer 'n vrou wat ek nie kan eien nie.

Het nog baie te praat; stuur liewer vir jou nog 'n e-pos.

(Word vervolg!)

Bienkie: Hi, Piet - steeds ek.

Nou vir die foto met Tafel D in die voorgrond:

Aan die kop sit mnr Resnick (ken ongelukkig nie sy voorletter nie). Van die gaste aan die duskant ken ek niemand nie. (Eien darem gesigte).

Aan die oorkant sit Jopie Venter; dan drie van wie ek net die gesigte onthou; dan Willem Schoombie en langs hom mev Schwellnus. Heel onder, skuinsoor Tom Naudé, sit 'n man wat ek gedink het dalk Piet Meiring was. (Hom net effens geken, maar onthou hom nie so totaal bles soos die een wat julle geëien het nie. Julle’s ongetwyfeld reg.)

By die tweede tafel, aan die duskant oorkant Koos B, sit Johan Fourie. Toe ek daar gekom het, was Dirk Richard pas weg (APB toe) en Johan Fourie was waarnemende nuusredakteur. (Hy't my my eerste storietjie vir Dagbreek laat doen, sommer terwyl ek nog in die bib was.) Hy het waargeneem totdat Steve de Villiers ons nuusredakteur geword het.

En met die ry af is dit dan Onbekend, CG Haupt, Onbekend, Pieter, Jane de Beer (Hoffie se vrou), Gert Politiek, mev Coetzee en Daantjie Coetzee. (Hy't baie mooi omgesien na die geld. Kan onthou dat ek op `n keer vir hom 'n pennie kleingeld van my tremkaartjie stad toe, gaan teruggee het. (Sommer moedswillig.)

Aan die oorkant (van links) is Koos, Bettie Haupt? (in later jare het ek haar goed geken, hier lyk sy regtig effens vreemd), julle Piet Meiring, `n onbekende vrou en man, dan Hoffie de Beer, en weer `n onbekende vrou en man.

En dis sover as ek kan help, Piet. Anton Rupert sien ek nie. Dirk Richard en Mike Meiring was nie een daar toe ek daar begin het nie. Maar die een oor wie ek die meeste wonder, is Mick van Rensburg.
Waar is hy?

Jammer ek kon nie meer help nie. Maar as ek Gert Politiek se van onthou, laat ek jou weet. (Tsk. Hy en sy vrou was so goed vir my toe ek op `n keer Kaap toe was vir die Parlementsopening. Hy is betreklik vroeg oorlede.)

Piet Ebersöhn:

Ek heg foto’s aan van Fred Barnard (stofomslag van sy boek “13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd”, wat ook noem dat hy in 1952 dr V se PS geword het) en G Rezek (Erasmus se “’n Volk staan op uit sy as”) en dit lyk tog vir my na dieselfde mense (lg. net sonder sy bril).

Ek sal naslaan, maar Piet Meiring was dalk toe al by Staatsinligting. Hy was mos eintlik ‘n Transvalerman en ek weet nie of hy ooit by Dagbreek was nie.

Weer Bienkie:

Gert Coetsee-met-`n-s natuurlik! So bly jy't dit vir my opgeklaar.

En Fred Barnard was einste sekretaris – maar nie doodseker of dit hy is op die foto nie. Wat mnr Rezek betref, vir my was hy Resnick (jare lank!)

Nou wonder ek oor Piet Meiring. Wie was dan die groot man, aantreklik soos 'n groot beer, met `n bietjie hare en daardie sproeterige vel van die Meirings, wat ek as Piet Meiring onthou.

Stuur gerus nog foto's. Weet nie of ek jou veel sal kan help nie maar dis vir my alte lekker om daarna te kyk. Doerie vroeë dae by Dagbreekpers, toe nog Bienkie Barnardo, was vir my baie besonders. Ons was so `n gesellige groepie; meer as kollegas – regtig vriende.

Lang groetnis

Bienkie