Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

Thijs Nel en sy beeld "Samesyn", 'n uitbeelding 
van twee mense wat een word.
Die LongHouse Reserve is die belangrikste stigting wat kuns in Amerika bevorder en het ’n aantal Suid-Afrikaanse keramiek-kunstenaars genooi om elkeen twaalf werke daar uit te stal. Volgens Thijs was die uitstalling ’n hoogtepunt in sy loopbaan deurdat tien van sy werke binne ’n uur verkoop was.

Jack Nenor Larsen, president van die LongHouse-stigting, het persoonlik ook een van Thijs se potte vir sy eie versameling gekoop.

Die opening van die museum se nuwe vleuel is deel van Montreal se 375ste verjaardagvieringe. Die huidige uitstalling sluit die museum se internasionale kunsversameling in waar onder andere van die wêreld se voorste kuntenaars soos Picasso, Matisse, Otto Dix, Salvador Dali en die Britse beeldhouer, Henry Moore, se werke vertoon word.

Thijs sê dit is ’n eer om in sulke gevierde geselskap te verkeer. Thijs wat ’n pragtige, gedrukte uitnodiging ontvang het, sê hy kon weens die groot afstand en koste nie die opening bywoon nie, maar voel baie geëerd dat hy genooi is.

Die pot wat in Montreal uitgestal word, is sowat 75 cm hoog en het ’n Afrika-motief.

• Thijs is op 73-jarige ouderdom nog baie gedissiplineerd, aktief en produktief as keramiekkunstenaar. Hy skilder en beoefen feitliks daagliks nog kuns. Hy sê sy dryfveer is steeds om soos altyd die wêreld om hom mooi te maak.

Sy lowerryke tuin, wat vol van sy potte en keramiekwerke is, is as’t ware ’n sprokieswêreld waar sy kuns en die plantegroei mekaar aanvul. Thijs dink steeds vernuwend en dit vind inslag in sy werk. Deesdae eksperimenteer hy met driedimensionele kunswerke van papier. “Ek was nog nooit rêrig deel van die kontemporêre hoofstroomkuns en proteskuns nie.”

 Volgens Thijs is Europese versamelaars die grootste kopers van sy werke.

Foto en berig: Schalk le Roux, Die Hoorn, Oudtshoorn

-----------------------------------------------------

Só loop die storie

Net sodat almal wat destyds moes sukkel met films wat ontwikkel moet word en kopie wat aangestuur moes word in die ou dae, hier is die verloop van vandag se storie oor Thijs Nel:

Die pad van dié storie was:

• Thijs Nel word Kanada toe genooi;
• Die Hoorn in Oudtshoorn plaas ‘n storie hieroor;
• Iemand vertel oud-Vaderlander, Paul Kruger in Hermanus daarvan;
• Paul laat vir Japie Bosch in Jeffreysbaai van Thijs se prestasie;
• Japie bel Die Hoorn in Oudtshoorn.
• Die Hoorn stuur die foto en storie na laasgenoemde in Jeffreysbaai;
• Japie stuur dit na Philip Deetelfs in Windhoek vir beoordeling;
• Philip stuur die storie na Stella Niemand in Johannesburg om die taalversorging te doen;
• Stella stuur dit terug na Japie weer in Jeffreysbaai;
• Japie bel Thijs in Oudtshoorn en bevestig die korretheid van die storie;
• Vandag (24 uur later) is die foto en storie in K’rant en wêreldwyd!

-----------------------------------------------------