Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.2.15

Karina fnuik my planne

Skrywer en akademikus André P Brink is Vrydagaand oorlede.  Hanlie Swanepoel-Vornberg het 'n ruk tevore meegaande aan K'rant gestuur.

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: ´n Wedstryd en ´n reeks artikels is ´n goeie sirkulasiebouer in ´n tydskrif.

Só het ons op ´n dag by Rooi Rose oorweeg om ´n reeks oor bekende Suid-Afrikaanse skrywers te doen. Ek was om meer as een rede vuur en vlam.

"Asseblief, mevrou Snyman " het ek by redaktrise Martie Snyman voorbrand gemaak. "Indien ons die reeks aanbied, kan ek tog asseblief met André P Brink ´n onderhoud voer?"

Op Stellenbosch, waar ek tydens die jare sestig ´n student was, het ek die eer gehad om onder prof DJ Opperman te studeer. Prof Opperman was ´n groot voorstander van die sestigers en het baie tyd aan hulle werk bestee.

André P Brink
My gunsteling sestiger was altyd André P Brink.

Op ´n dag was daar in die hoofgebou van die fakulteit Afrikaanse Letterkunde ´n kennisgewing opgeplak dat André P Brink Stellenbosch sou besoek om ´n voorlesing te hou.Ek was een van dié wat in die voorste rye wou sit.

Daardie jare wou ons almal graag wees soos die meisies in Brink se boeke. Die Skandinawiese Gunhilde in "Miskien nooit". Blond en sexy met puntborsies en min inhibisies.

Ná weke van uitsien na Brink se koms, het ´n tweede kennigsgewing aangekondig dat die besoek afgestel is.

Die lugbel het gebars. Die teleurstelling was groot.

Martie Snyman
By Rooi Rose het die reeks oor Afrikaanse skrywers ook nie die lig aanskou nie. ´n Makliker verteerbare tema is uitgesoek. Martie Snyman was nie oortuig daarvan dat André P Brink en Etienne le Roux tant Sannie van Koekenaap sou aanstaan nie!

Met Brink in Grahamstad en ek in Johannesburg het ons nooit bymekaar uitgekom nie.

Later is ek Europa toe en het al my Brink-boeke met die boot laat stuur. Hulle is met groot liefde in my biblioteek uitgestal. Met die jare het talle nuwes bygekom.

Toe, in Desember 2004 was daar ´n konferensie oor Suid-Afrikaanse letterkunde in Salzburg, Oostenryk. André P Brink was uitgenooi om dit by te woon en as spreker op te tree.

Buiten Salzburg, sou hy ook hier in Wene ´n voorlesing kom hou. Dit sou gaan oor Suid-Afrikaanse letterkunde ná Apartheid. Ná die lesing, so was dit beplan, sou Brink nog ´n ruk vertoef om met ons te gesels en te gaan koffie drink.

Salzburg, Oostenryk
Uiteindelik! Ná al die jare en mislukte pogings, sou ek die kans kry om hom te ontmoet en ´n paar persoonlike woorde te wissel. Ek het besluit om sy boek "Kennis van die aand" saam te neem sodat hy dit kon teken.

Gestewel en gespoor het ek die pad gevat om my gunstling-sestiger in lewendy lywe te ontmoed.

Die voorlesing was goed besoek en dit was ´n plesier om na hom te luister. Aan die einde van die voordrag was daar ´n paar minute tyd vir vrae en het hy my boek vinnig geteken.

Toe moes ons hoor dat Brink nie van plan was om verder enige tyd aan ons te bestee nie.

Hy was skielik baie haastig en ´n groepie bittereinders het in ´n tros om hom geskarrel, terwyl hy vinnig in die hysbak en deur die foyer van die gebou gestap het. Dit was duidelik dat hy van ons wou ontslae raak.

"Prof Brink," het ek nog probeer om ´n woord in te kry." Ek het dit wraggies reggekry dat my ma op tagtig die eerste keer van u boeke begin lees het."

"Die arme ou mens," het hy net droogweg geantwoord.

Buite in die koue het ons van hom afskeid geneem voordat hy die straat oorsteek en in die rigting van die moltreinstasie verdwyn het.

Saamgebondel soos verkluimde hoenders het ons bespiegel waarom hy sy koffiedrinkplanne saam met ons so terstond afgestel het.

Tipies Brink, was die vlieg in ons salf weer ´n mooi jong vrou.

In sy outobiografie, "n Vurk in die pad" het hy later geskryf:

Erkenning:  Huisgenoot, 22 Februarie 2007
"En toe ek op die lughawe in Wene uit die vliegtuig strompel, was jy daar, Karina, lank en pragtig en met ´n stralende glimlag, jou lang donker hare in ´n dik vlegsel agter jou kop vasgemaak."

Hy en Karina Sczcurek, ´n jong Poolse vrou wat in 1987 met haar ouers as vlugtelinge in Oostenryk beland het, het saam op die trein geklim Salzburg toe waar hulle volgens Brink, " ´n eindelose gesprek" begin het wat tot vandag toe nog nie opgehou het nie.

In 2006 is hulle getroud. Dit was Brink se vyfde huwelik. Die ouderdomsverskil tussen hulle was 42 jaar.

Die langverwagte ontmoeting en gesprek met hom waarna ek so uitgesien het, is toe deur Karina gefnuik. Ek is egter nog steeds een van sy grootste aanhangers en het nie opgehou om sy boeke te lees nie.