Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.7.20

Die dierbare omie met die snorretjie

HANLIE VORNBERG skryf: As een van die joernaliste wat destyds in 1970 die Afrikaanse Pers se eerste joernalisteskool bygewoon en die eer gehad het om by Hermie Hendriks opleiding te ontvang, was ek hartseer om te verneem dat hy oorlede is.

Hoewel ek al oor die veertig jaar in die buiteland woon en nooit weer met hom kontak gehad het nie, was hy 'n deel van my jeug en is die herinneringe aan hom net positief. Dit is soos 'n lekker warm jas wat jy een of ander tyd in 'n ysige winter gedra het en nooit sal vergeet nie

Ons agt groentjies wat bevoorreg was om aan die kursus deel te neem het groot respek vir hom gehad. Sy grondige kennis van die joernalistiek, sy ervaring en sy wysheid. Vir ons was hy MENEER Hendriks.

Tog was daar in hom ook iets van die gawe Afrikaanse oom met die snor by wie jy die gevoel gehad het dat jy ook met persoonlike probleme op sy skouer kon gaan huil. Ek was destyds die enigste kandidaat uit die Wes-Kaap, het ook maar lekker huis toe verlang en die heerlike brrrrei-r wat meneer Hendriks uit Swellendam saamgebring het, het my sommer tuis laat voel.

Hy het ons vyf maande lank onder sy vlerk geneem. Daar was die kwinkslae, soms 'n gekruide woordjie, die raad en ook die nodige tugtiging, maar steeds met respek teenoor sy leerlinge wat nog besig was om stadig die bult uit te klim.

Dit was vir my, as Kapenaar, die eerste rou winter in die Transvaal en in Junie het die griep my lelik platgetrek. Ek het nog in 'n kamer in die Sans Souci Hotel gewoon.

Ek was met koors in die bed toe daar een aand iemand aan die deur kom klop. Meneer Hendriks het kom inloer. Hy wou net seker maak dat daar 'n dokter by my was en dat ek die nodige medisyne het.

Die dierbare Afrikaanse omie met die snorretjie!

Ek om ook al self aan in jare en 'n mens delf meer dikwels in die verlede. Vir my was daardie vyf maande in Hermie Hendriks se joernalisteskool, een van die beste tye in my lewe.

Ek is dankbaar dat ek hom geken het en sal hom nooit vergeet nie!

 Oom Hermie Hendriks se joernalisteskool van 1970.  
Links van voor tot agter: Hanlie Swanepoel, Molly Geyser,
Harry van den Berg, Wim van Volsem.

Regs van voor tot agter: Maureen Heyl, Nicolene Strydom,
Johann Britz, Buks Pietersen.

Foto uit: Hanekraai, Junie 1970