Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.4.20

Ons soek 'n engel vir Rapport (Deel 2 van 2)

PEET SIMONIS skryf verder: Drie dae voor ons moes terugkeer na Nairobi, was ons op die Kigali-lughawe. Baie van die groot ruite van die lughawe was flenters geskiet en daar was ander oorlogskade.

Ons het gehoop om op 'n leë vragvliegtuig na Nairobi te kom – dit sou ons die lang oorlandroete spaar waarvoor daar kwalik genoeg tyd was voor ons weer die vlug na Suid-Afrika by Nairobi moes haal.

Ons was moeg, maar skielik is ons vaakheid verdryf deur ‘n aankondiging oor die luidspreker van die lughawe dat ‘n vragvliegtuig op die punt staan om te vertrek na Bukavu -- en daar is een sitplek beskikbaar.

"Daar’s jou kans Pieter!”

Pieter: “Dis ‘n wilde kans wat ons vat. Dalk is sy nie eens daar nie. En wat van die terugkom? Nee, Peet, jy weet hoe om in die gewestes te opereer; gaan jy maar – jy het ‘n beter kans om te slaag. Ons hou vir jou duim vas, ou maat!”

Ek het my sak gegryp, die manne gegroet en uitgestap na waar die tweemotorige vliegtuig al opgewarm het, want daar was heelwat vrag aan boord.

Die vlug het net meer as ‘n uur geduur.

Kigali na Bukavu = 257 km.


Bukavu se lughawe was baie klein – 'n kort aanloopbaan waarvan die landingstrook besig was om op te breek omdat dit nooit vir swaar vliegtuie bedoel was wat dit nou noodgedwonge gebruik het nie.

Gruis en klippe het teen die vliegtuig se romp geslaan toe ons land – benoude oomblikke!

Met die uitklim het die hitte my ook geslaan.

Daar was geen taxi’s op Bukavu se (destydse) primitiewe lughawetjie nie. Ná ‘n lang wag waartydens ek my maar tuisgemaak het onder die vlerk van ‘n klein vliegtuigie as beskerming teen die son, het ‘n werker van die Verenigde Volke aangebied om my ‘n saamrygeleentheid te gee na Bukavu-dorpie omtrent 15km van die lughawe af.

Hy het my afgelaai op ‘n plek waar daar juis 'n perskonferensie sou wees.

Ek het gehoor daar is nie blyplek vir `n muis in Bukavu nie. Alles was beset deur buitelandse helpers en die Rooi Kruis wat sy hoofkwartier in Bukavu ingerig het. Rwanda, met sy probleme, was net oorkant die Kivumeer se uitloop wat die dorp begrens.

`n Tropiese reënstorm het skielik uitgesak en dit was donker toe ek by die enigste hotel kom wat volgens die persmense miskien nog blyplek sou hê.

Jammer, alles vol, moes ek daar ook hoor.

“Ag, asseblief, mense, julle moet my help al is dit net vir een nag!”

Ja, daar is een kamer oop en net vir een nag, maar dit kan nie sommer vir my gegee word sonder die toestemming van die huurder wat op die oomblik in Rwanda is nie.

En wie is die huurder?

`n Dokter van Suid-Afrika.

Die naam?

Dokter Harrington.

Ek kon nouliks my opgewondenheid bedwing. Dis dan juis vir haar na wie ons soek – die engel van Goma!

“Kan ek haar kontak en vra?”

“Nee, net die Rooi Kruismense kan. Sy werk vir hulle en hulle kan haar miskien per radio opspoor”.

Ek het gebid vir twee wonders – dat hulle haar sou kry en dat sy haar kamer vir `n nag aan `n volslae vreemdeling sou leen. Sy moes gewillig wees om my te ontmoet en met my te praat, want die Rooi Kruis sê sy praat nie met die pers nie.

Hulle kry haar toe op die radio en dis ja, ek kan die kamer vir een nag kry terwyl sy weg is!

Dis ook ja, sy sal my vroeg die volgende oggend by die Bukavu-grens ontmoet om te hoor wat aangaan en waarom ek so ver gekom het om met haar te praat.
Maar dis nee vir `n personderhoud. Sy sal miskien praat afhangende van wanneer sy my sien en van my vrae hoor, maar dit moenie oor haar wees nie, sy soek nie publisiteit nie.

Ek het dankbaar gevat wat ek kon kry en gegroet: “ ... tot more dan”!

Daardie aand het ek toe verniet by die hotel kos gekry, want die een wat die kamer kry, kry ook die kos. Alles is ingesluit by die prys wat die dokter die einde van die maand betaal.

Daardie nag het ek min geslaap, want ek het gebid dat sy met my sal praat en gedink oor wat ek haar kon vra wat aanneemlik sou wees, maar ook my doel sou dien.

`n Vreemde geluid wat ek nog nooit gehoor het nie, het my ook by tye wakker
gehou.


Eers die volgende oggend douvoordag, toe my vervoer grens toe opgedaag het, en ons deur die middedorp gery het, het ek agtergekom wat daardie geluid veroorsaak het. Dit was die moeë, soms stukkende voete van tot soveel as honderd duisend vlugtelinge wat oor die pad voortsleep. Min het van hulle skoene oorgebly en hulle het die nag oor die brug by die grens begin stroom waar ek dr Harrington sou ontmoet.

Die grens na die Kongo was eers gesluit vir hulle, maar daardie nag is die grens oopgemaak en het hulle doodmoeg deur Bukavu na vlugtelingkampe en veiligheid begin aanslof.

Die Kongolese grenspos was nog gesluit, maar die Rooi Kruis het vrye toegang gehad en my deurgevat. Aan die anderkant het die skraal, skamerige vrou al gewag.

Jy sal nie glo hoe ek die foto geneem gekry het nie, maar hier gesels ek met die “engel van Goma” by die Bukavu/Rwanda-grens.



“Wat doen `n klein vrou soos jy hier op só `n gevaarlike plek?

Sy (laggend): “Wat het dit met jou te doen en wat soek jý hier?”

“Ek hoor jy het by Goma gewerk waar só baie cholera opgedoen het. Dit kon jou lewe gekos het!”

“Ek’s `n dokter, dis my werk.”

“Het jy geweet hulle noem jou die “engel van Goma?”

Sy bloos – eers van skaamte toe van kwaadwees.


“As jy nonsens wil praat, ry ek nou,” en sy begin ook sommer aanstaltes maak om te vertrek!

“Goed, jammer! Maar wat gaan hier aan?

Wat gaan julle met al die vlugtelinge doen en is daar hulp nodig – iets wat ons deur die koerant kan doen?”

Op die trant het ons nog `n ruk gepraat. Ek het bitter min oor haarself gekry. Sy het niks daarvan gedink dat sy gekom het nie. Daar was baie dokters en verpleegpersoneel wat hul lewens gewaag het.

Die onderhoud was verby.

“Baie dankie vir die kamer en die kos!”

Sy het floutjies geglimlag, gewaai en in `n stofstreep weggetrek. Die grond was deur die vlugtelinge tot poeier vertrap.

Ek het terug grens toe gestap en daar `n groot probleem ondervind. Hoekom is my paspoort nie gestempel toe ek uit is nie? Nou moet ek weer vir `n visum betaal.

“Maar ek gaan van hier af lughawe toe, landuit”.

Dit maak nie saak nie. Dis betaal of in Rwanda bly!

Ek het betaal.

Geld was byna op – my kos en drinkwater ook.

By die Rooikruis-hoofkwartier het ek ‘n gehawende taxi gekry wat my lughawe toe moes neem. Die pad was verskriklik sleg. Ons is by strome vlugtelinge verby.


Dit het nie maklik gegaan om ‘n vlug te kry Nairobi toe nie.

Op die ou end is ek met 'n swaar gelaaide skroefvliegtuig daar uit wat byna nie kon opstyg met sy reusevrag oorlogmateriaal nie.

Ek het tot by Goma gevlieg en daar was ek baie gelukkig om ‘n gratis vlug Nairobi toe te kry – op ‘n ou Viscount wat omgeskep is as vragvliegtuig.


Dit was bitter koud in die romp van daardie vliegtuig – natuurlik sonder die gerief van die gebruiklike vliegtuigsitplekke ook! Maar ek het nie omgegee nie.

Na middernag was ons in Nairobi vanwaar my vlug daardie oggend teen tienuur sou vertrek. Ek het gehoop Sarel en Pieter is alreeds daar, maar hulle was nie.

Teen twee-uur het ek sommer in ‘n hoekie op die vloer gaan lê – tas onder my kop en uitgeput maar gelukkig aan die slaap geraak. Ek het die engel van Goma gekry en saam met Pieter sou ons ‘n paar goeie stories vir Rapport kon skryf.

Dit het gevoel soos tien minute toe iemand my wakker skud. Dit was Pieter! Hy het ‘n ruk tevore daar aangekom. En Sarel? Nee, hy het in Uganda agtergebly om meer inligting te kry en verdere kontak te maak met die oog op hulpverlening.

Ek en Pieter het lank gesels oor die opwindende ervarings wat ons gehad het en besluit wie skryf watter stories vir die koerant.

Van dr Harrington, “die engel van Goma” het ons nie weer gehoor nie, maar haar storie het mense se harte geroer en hulp van allerlei aard is na die Kongo gestuur.