Hoewel my heeltydse Perskortyd maar kort was, het dit ‘n stewige grondslag gevorm van my mens-, media- en PR-begrip vir die jare daarna. Een van die lesse was dat mens baie meer moet stilbly en meer luister.
So lees ek een van Willie Buys se stories in K’rant raak waar hy van Die Vaderland se destydse nuusredakteur, Frans du Toit, praat. Toe spring daai verleentheid van 1970, toe ek as student vir Die Vaderland geskryf het, soos ‘n langvergete Jack-in-the-box voor my op.
Daar het iets op die Goudstadse Onderwyskollege se kampus gebeur wat ongerieflik nuuswaardig was. (Ek kan om de dood nie nou meer die besonderhede onthou nie.)
Ek was om die een of ander rede in die SR-kantoor toe die telefoon lui en ek die enigste was wat kon antwoord:
“SR-kantoor goeiedag.”
Frans du Toit |
“Hallo, dis Frans du Toit.”
“O, hallo Frans. Dis Marius du Plooy. Ek wou juis net vir jou laat weet dat ... ”
En so kom ek met die hele sak ‘ongerieflike’ patats vorendag.
Ek wag dat Frans moet sê: “Dis ‘n lekker storie.”, maar daar is ‘n doodse, erg swanger swye.
Dis toe dat ek die stem herken en besef ek het pas met my LO-dosent, ook ‘n Frans du Toit, gepraat het, en nooit met Die Vaderland se nuusredakteur nie.
Ek het my vergeefs uit die moeilikheid uit probeer verduidelik.