Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.4.20

Ons soek ‘n engel vir Rapport (Deel 1 van 2)

PEET SIMONIS skryf: Om ‘n vryskut-joernalis te wees, het in die ou dae beteken jy werk nie vir een werkgewerkoerant nie, maar verkoop jou storie aan enigeen wat belang stel. Die koper het oor die algemeen volgens vaste tarief betaal – per kolom sentimeter. Vir foto’s is apart betaal.

Min vryskut-joernaliste wat ek ken, kon genoeg produseer om gemaklik te lewe en na mate koerante se lesers se belangstelling wyer en wyer gestrek het, het dit meer en meer gekos om die storie daar ver te gaan haal.

Toe ek die Rwanda volksmoord gedek het, was ek verskeie kere na die land en terug SA toe want daar was nie selfone nie. Telefone het ook nie gewerk nie.

Fotomateriaal en stories moes fisiek uit die land na die beskawing geneem word.

Teen die einde van die oorlog het die drama weswaarts geskuif en het 'n vlugtelingkamp met oor 'n miljoen Hutus buite 'n dorpie met die naam Goma na aan die Rwandese grens verrys.

Dit het baie geld gekos om die storie te dek want die infrastruktuur was verwoes. Jy moes jou eie vervoer reël, petrol, kos en water van Uganda af saamry. ‘n Ou afgeleefde Landrover het duisend rand per dag gekos om te huur toe ek die land die eerste keer in is.

Maar dis ‘n ander storie – ek wil by die vierde besoek kom wat gemik was op die vlugtelingekamp by Goma. Dit was die keer toe ek dit ernstig aan my sak begin voel het. Ek moes ‘n plan beraam. Dit was om Rapport te betrek.

Goma was sterk in die nuus want cholera het onder die vlugtelinge uitgebreek. ‘n Tragedie het gedreig want die kamp is naby 'n vulkaan en die lawavloei van eeue het 'n harde kors gevorm met baie vlak bogrond waarin grafte vir honderde dooies nie gegrawe kon word nie. Die lyke is langs die enigste pad na die kamp in netjiese hope opgestapel – kos is ook langs die pad uitgedeel.

Ek het besluit om Rapport te nader en aan te bied om die storie vir hulle te doen.
Die koerant het aanvanklik nie baie belang gestel nie – daar was nie 'n sterk Suid-Afrikaanse hoek aan die drama nie. Maar toe verander die prentjie skielik.

The Star-koerant plaas ‘n klein storietjie oor ‘n vroulike dokter van Johannesburg wat glo in die Kongo is om te help. Sy is 'n vriendelke lig wat vir baie sterwendes hoop bring en siekes praat van haar as die “engel” van Goma. Nou het Rapport belang gestel.

Dit was tyd om te bereken wat dit sal kos om haar te gaan soek. My voorstel was dat die koerant sy eie man saam met my stuur. Ek sou alles reël en foto’s neem,  dan hoef die koerant nie 'n fotograaf ook te stuur en daardie koste aangaan nie.

Rapport sou in ruil vir my dienste my vliegkaartjie betaal en die helfte van die
koste op land. Kigali-lughawe was nog gesluit vir burgerlike verkeer. Ons sou Nairobi toe vlieg en van daar af oor land met ‘n gehuurde voertuig, deur Uganda, af in Rwanda en dan weswaarts Kongo toe. Daar was ook ‘n moontlikheid dat ons met ‘n vragvliegtuig van Nairobi af direk na Kigali, Rwanda kon vlieg maar dit was onseker.


Dié soort onderhandeling met ‘n koerant was vir my nuut en baie lonend. Tot toe sou ek uitvind wie stel belang en ‘n prys maak vir die storie wat nog gekry moes word ... en as ek misluk was daar natuurlik ook nie ‘n betaaldag nie.

Rapport se man wat saam is, was 'n goeie joernalis – Pieter Swart. Die derde lid van die span was Sarel Jordaan wat die video wat ons sou maak in baie lande sou versprei. Hy sou sy eie koste betaal.

By Nairobi aangekom, het ons die kanse opgeweeg en besluit om te skei. Sarel en Pieter sou Entebbe toe vlieg en van daar af ‘n voertuig huur om padlangs Rwanda toe te gaan. Ek sou ‘n rukkie in Nairobi agterbly en inligting kry oor die Rooikruis se hulpverlening in Rwanda. Dalk kon ek daarna ‘n saamvlieggeleentheid op een van hulle vlugte direk na Kigali toe kry, het ek gedink.

Albei planne het gewerk. Ek moes net eers ‘n vrywaringsdokument onderteken dat die Rooikruis nie aanspreeklik sal wees as hul reuse-Russiese vragvliegtuig nie veilig kan land op Kigali se (destydse) klein lughawe met kort aanloopbaan nie.

 Hier is Peet (naaste aan die rooi leer) by die groot Toepolef vragvliegtuig.

Een na die ander vragmotor met sakke vol boontjies het teruggestoot tot by die vliegtuig se agterdeur waar ‘n klomp helpers moes rug krom maak om te help laai – Peet ook.

So dis nie altyd net vir skryf nie!

Ons vliegtuig het veilig opgestyg en veilig in Kigali geland. Ek het vir Sarel en Pieter daar gewag. Ons ontmoetingsplek was die Hotel des Collines waar dramatiese dinge gebeur het om baie lewens te red tydens die volksmoord. ‘n Fliek (Hotel Rwanda)  is later daaroor gemaak.

Die hotel was nog deurmekaar en vuil en nie in gebruik nie, maar sekuriteitspersoneel het darem vir ons ‘n groot kamer aangebied om te oornag. Ons het sommer op die vloer geslaap.
 
Die volgende dag is ons met ‘n gehuurde minibus-taxi weswaarts vir die vier uur lange rit na Goma wat net oorkant die Rwandagrens in die DRK is.

Daar aangekom wou die Kongolese nie ons taxibestuurder in die land toelaat nie. Daar was net een raad en dit was om hom by die grens agter te laat en om daar vir ons te wag. Ek het die taxi verder bestuur.

Bo en onder: Die vlugtelingkamp is ‘n entjie noord van Goma.


By 'n vuil waterpoel is bees geslag. 
Geen wonder hier het cholera uitgebreek nie.

Ons was geskok deur wat ons daar gesien het – takskuilings met plastiek oor so ver die oog kon sien. 'n Rookmis het oor die plek gehang. Daar was sterwendes langs die pad.

Pieter het foto’s geneem en het nie die man met die mes agter hom gewaar nie. Ons het ‘n waarskuwing geskree wat die aanvaller laat aarsel het en Pieter kon die veiligheid van die taxi bereik.

By ‘n mobiele kliniek het ons tot ons groot teleurstelling uitgevind dat dr Harrington - die dokter na wie ons soek nie meer daar is nie. Sy was waarskynlik in die omgewing van Bukavu, ongeveer 300 kilometer suid van Goma en heeltemal buite ons bereik met die taxi weens slegte en gevaarlike paaie.

Ons moes terug Kigali toe, maar eers nadat Sarel ‘n vername kerkleier in Goma opgespoor en ons eerstehands by hom kon hoor watter soort praktiese hulp uit Suid-Afrika gegee kon word waarby die Verenigde Volke nie kon uitkom nie.

Pieter het heelwat te doen gehad in Kigali om verslag te kan doen oor toestande daar.

Navrae oor die “engel van Goma” het voortgegaan maar steeds niks meer opgelewer as dat sy moontlik in die Bukavu-omgewing was nie.

Deel twee volg more.