Dit was veral in die nagkantoor sigbaar waar 'n Gideonsbende aand na aand die byna onmoontlike vermag het deur Die Transvaler betyds persklaar te kry. (Met die hulp van Die Vaderland se huursoldate.)
Die vroeë sub het gewoonlik teen tienuur die oggend die hoofartikelblad, die middelblad en een of twee vroeë blaaie versorg totdat die aandsubs teen vieruur se kant kom help het.
As Die Vaderland-helper weens siekte of 'n verkeersvertraging laat of glad nie opgedaag het nie, was dit moeilik om blaaie se spertye te haal. 'n Vertraging by die rolpers het daartoe gelei dat skoolseuns wat die koerante op die platteland en in Durban versprei reeds in die skool was as die Perskor-vragmotor daar aankom.
Die helfte van die vrag koerante is by kafees en winkels afgelewer en die res het na Johannesburg teruggekom. Oom Hermie was nie baie beïndruk deur die terugsendings en gepaardgaande verlies aan advertensie-inkomste nie. Ons verweer van te min subs is na Willem de Klerk deurgegee.
Op 'n dag stap 'n lid van die hoofredaksie met 'n tiekie en baksteen hoë vrou by die subkantoor in en stel haar as leerlingsub voor. Krummel (eintlik Helena van Vuuren) is aan die vroeë sub vir haar opleiding afgesmeer en het saans, wanneer hul skof voltooi is, maar die druk op die subkantoor toeneem, met 'n vriendelike groet saam met dié sub na hul huise verdwyn.
'n Maand later sluit sy by die aandspan aan en ons voormalige leraar, Vernon Marais, neem die predikantsdogter onder sy vlerk. Herman Gouws, wat gewoonlik baie stil was totdat die jakkals en wolf laataand uitgehaal is voordat hy profeteer, het haar namens die span oor haar herkoms en huweliksplanne uitgevra.
Toe hy hoor sy en 'n tokkelok is verloof, wou hy weet of sy darem eendag vir die dominee sal kan sorg. Sy het bevestigend geantwoord.
Hy toets haar met 'n skimp soos “wat van 'n koppie koffie vir 'n bedrywige sub?” en sy troef hom met 'n: " Hoeveel suiker?" Fout. Sy moes die res van die span se geweeklaag aanhoor tot sy vir elkeen 'n koppie koffie of tee aangedra het.
Krummel wou op 'n kol weet waarom die nagsubs eers kort voor middernag aandete eet. "Omdat die restaurant reeds toe is as ons by die werk kom, my kind," lig 'n veteraan haar in. Harry vat dadelik die gaping en vra wat sy haar aanstaande gaan voer en watter soort nagereg hy kan verwag. Voordat sy kan antwoord noem hy dat hy wat Harry is 'n voorliefde vir pannekoek het.

Midde-in die krisis was Krummel soek, en ek het een van die subs gevra om diplomaties by die vroue se kleedkamer navraag te doen en haar in te lig ons het hulp dringend nodig. Toe ek weer opkyk, stel sy haar tokkelok aan my voor. Die kêrel staan daar met 'n primusstofie, 'n skottel en ander toebehore en wil weet waar hulle kan begin bak – pannekoek!
Harry wat die pannekoekbakkery aangevoor het, was in die fabriek om die krisis te bestuur toe hy van die bakkery hoor. Hy het elke nou en dan 'n vorderingsverslag gestuur en benoud seker gemaak dat hy nie vergeet word nie.
Krummel het sy pannekoek in die fabriek afgelewer en Harry het geweier om dit met die voorman en sy maters te deel. Wat natuurlik verhoudinge versuur het.


Krummel het haar nagesiene proef ongestoord opgevou en aan Steyntjie oorhandig. Met haar skof agter die rug en die pannekoek klaar gebak, het sy en haar toekomstige man beleefd gegroet, hul toerusting opgepak en is hulle huis toe.
Steyntjie en sy makker is druipstert daar uit, sonder selfs die bevrediging van ’n gil toe die rot uit die buis peul ... en sonder ’n enkele stukkie pannekoek.