Amper soos ‘n 40-jarige Zimbabwiër vandag die wêreld sal aanskou? Sy lewe lank nog net een heerser beleef.
My werk by die koerant het gemaak dat ek skielik aansienlik meer koerant gelees het en nie net Die Transvaler nie – die Rand Daily Mail en ander Engelstalige koerante se inhoud het my denke oor die situasie van destyds help perspektief gee. (As ek reg onthou was Helen Zille in my tyd misdaadverslaggewer by die Rand Daily Mail.)
Só het ek begin lees en stories hoor van die mees berugte "terroris" van daardie dae, Nelson Mandela.
Die koerant mag nie foto’s van hom gepubliseer het nie en hy mag nie aangehaal gewees het nie. Nie eens oor iets wat hy vroeër as ‘n vry man sou gesê het nie.
Alles dit het natuurlik die nuuskierigheid oor hierdie man in 'n mens wakker gemaak. As jy sulke streng wette rondom ‘n individu formuleer, moet daardie persoon ‘n wesenlike bedreiging vir volk en vaderland wees.
Jong Nelson Mandela |
Tot een dag stap ek by tannie Kotie se biblioteek in en begin by “M” snuffel en wraggies, daar kry ek in ‘n dik lêer die enigste foto van Nelson Mandela wat ons destyds in die biblioteek gehad het.
Dit was ‘n paspoortgrootte kop-en-skouersfoto. Ek moet darem erken dat ek niks wyser kon word uit wat ek daar gesien het nie -- net ‘n foto van ‘n "terroris".