Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.11.13

Die dag toe die Swapoman ‘Kent gij dat volk’ saamsing

JOHANN S LIEBENBERG, destyds senior politieke skrywer van Die Vaderland, was een van diegene wat in 1971 aan Rooi Rose se Kerstafel ‘n storie vertel het wat hy nooit sal vergeet nie. Hy skryf in daardie jaar se Kersuitgawe van dié vrouetydskrif: Die Vrydagaand van 15 Julie 1966 was miserable en motreënerig. My gesin en skoonouers was op ons eerste vakansie in Europa, maar ek het in die kroeg van die Ambassador Hotel in Den Haag met die bestuurder staan en gesels toe
'n skraal swartman in 'n netjiese donker pak ingestap kom. Behalwe ek was hy die enigste persoon aan die drinkkant van die toonbank.

Den Haag
Daar was 'n goeie rede vir my teenwoordigheid in Den Haag. Ek was destyds buitelandse verteenwoordiger van Die Vaderland en die uitspraak in die Wêreldhofsaak oor Suidwes-Afrika sou die Maandag gelewer word. Ons regspan was in dieselfde hotel tuis en dit was dus net logies dat ek as 'n Afrikaanse koerantman, ook my intrek daar sou neem.

Die swartman het 'n rukkie alleen gesit en teug aan sy drankie -- daar's mos geen apartheid in die land van ons herkoms nie -- en toe beleefd gevra of hy maar by ons kan aansluit. Na 'n kort gesprek het dit geblyk dat hy ook 'n goeie rede vir sy teenwoordigheid in Den Haag het. Sy naam was Kosingwezi en hy was die sekretaris van SWAPO (South West African People's Organisation), die verbode agitator-organisasie.

Ons het aan die gesels geraak, oor die komende uitspraak, Suidwes-Afrika en onvermydelik die Suid-Afrikaanse Regering se beleid van veelvolkigheid. Daaroor het ons uiteindelik lank gesels todat ek later ergerlik opgemerk het: “Jy is 'n gek man. Hier sit jy, 'n wetsgeleerde met groot politieke aspirasies. In jou eie land onder die Regeringsbeleid kon jy daardie aspirasies ulitgeleef het, baie vir jou eie mense gedoen het en moontlik dalk eerste minister van jou eie mense geword het. Nou het jy jouself ore laat aanwerk deur 'n klomp mense wat hul eie doelstellings bo die belange van jou volk stel en waar sit jy nou? Hier in Europa en jy kan nooit weer na jou land terugkeer nie. Jy is 'n banneling."

Hy het my sekondes lank swygend aangekyk. Toe merk hy verwytend op: “Hoekom het die ander witmense in Suid-Afrika nooit soos jy met my gepraat nie? As hulle dit gedoen het, sou ek nooit vandag hier gewees het nie.”

Op daardie trant is ons uitmekaar … tot die volgende aand toe ‘n kollega daar met hom aankom en verneem of ek beswaar sal hê as Kosingwezi ons op ‘n ete-afspraak na die House of Lords-restaurant vergesel. En dit is hier waar ek inderdaad die onvergeetlikste ondervinding van my lewe gehad het.

‘n Orkessie met ‘n violis cum sanger het die aanwesiges op musiek vergas en uit weemoed gaan vra ek die man of hy nie ‘n paar Afrikaanse liedjies ken nie.

“Afrikaans?” O, u bedoel Transvaalse liedjies. Maar natuurlik,” en hy val weg met Suikerbossie gevolg deur Sarie Marais en ‘n hele repertoire uit die ou dae.

Ek neurie so saggies oor my kos en iemand anders doen dieselfde. Ek kyk verbaas rond. My kollega kan baie dinge doen, maar sing kan hy nie, nie eens vals nie.

My neuriemaat was Kosingwezi. Die verlange na Suid-Afrika brand al feller in die somber Den Haag en die neuriebrom slaan oor in woorde, eers saggies.

Klik op die wapen om die Transvaalse
volkslied te hoor en Afrikaanse
 lirieke te sien.

En toe die crescendo. Die violis en sy orkes trek lustig los met die Transvaalse volkslied: “Kent gij dat volk” en hier langs my sing die Swapo-leier, goot vyand van apartheid en die Afrikaner, uit volle bors noot vir noot saam, terwyl sy oë feitlik mistig blink van verlange.

Maandagmiddag laat toe ons ná die uitspraak uit die indrukwekkende hofsaal stroom, sien ek hom weer, vir die laaste keer. Hy kom reg op my aangestap en sê met ‘n eienaardige emosie in sy stem terwyl hy my die hand reik: “Geluk. Julle het gewen”.

Later het ek gehoor dat hy nie meer die sekretaris van Swapo is nie, om watter rede weet ek nie.

Maar ek wonder dikwels oor sy verwyt daardie aand in die hotel en oor die verlange na sy sonskyn-land wat selfs vreemde ideologieë en misleiermakkers nie uit hom kon kry nie - in so 'n mate dat hy selfs die Boerevolkslied moes saamsing.


En dan voel ek in my eie hart die bitter verwyt in my opstuif teen daardie witmense in Suid-Afrika wat met hul wanvoorstellings mense soos Kosingwezi mislei om hul eie mense te verraai en as bannelinge in die buiteland te eindig.