PEET SIMONIS skryf: Charlie die sjimpansee van Bloemfontein was/is waarskynlik die bekendste sjimpansee op aarde. As hy beloon sou word vir die plesier wat hy aan mense – veral kinders – verskaf het, is hy nou in ‘n hemel.
Dat hy sy rokie geniet het – kyk na die kostelike insetsel daaroor op die internet – sou nie teen hom gehou word nie.
Hy was nie net 'n roker nie, hy was ook ʾn bokser in Boswell se sirkus. Wanneer hy sy handskoene
aangetrek het vir ‘n geveg met ‘n hanswors, het die kinders gejil en gejuig van genot. Hy het ʾn venynige regter gehad – so erg so dat geen hanswors dit later meer in die kryt wou waag met hom nie en toe is Charlie maar aan die Bloemfonteinse dieretuin geskenk.
Sy verslawing aan rook was alom bekend en rokers wat vir hom gaan kuier het, het dit aanhou waag om sy lus na ʾn dampie te bevredig. Hulle het die dieretuin se reël oortree en as van die personeel nie naby was nie vir hom nou en dan ‘n brandende stompie deur die tralies geskiet.
Vra vir Google om jou die foto van Charlie wat ʾn dampie slaan te wys – dis waar ek dit gekry het. Daar is ook 'n kort video daaroor. Soek onder “Charlie the Chimp”. Klik HIER om dit te sien.
Op ‘n koue wintersoggend toe daar geen besoekers by die dieretuin was wat hom kon help om sy rooklus te bevredig nie, kon Charlie dit nie meer hou nie.
Hy het waarskynlik lank tevore reeds gesien hoe die valdeur van sy staalhok werk waardeur sy kos altyd geskuif is. Die dieretuinpersoneel was waarskynlik ook 'n bietjie laks en het nie die valhek gegrendel terwyl die kosgee en hokskoonmaakproses aan die gang was nie.
Aap se koning het sy kans mooi afgewag, ʾn harige vinger onder die swaar skuifhek ingewikkel en toe niemand kyk nie, het hy die hek opgeskuif en homself behendig onderdeur gewring.
Ek was nie daar nie, maar dis naastenby hoe mnr CA van Ee, die kurator van die Bloemfontense dieretuin, dit later verduidelik het. ‘n Ruk lank het Charlie in die omgewing van sy hok rondgekuier – waarskynlik op soek na ‘n rookdingetjie.
Hy is opgemerk en mnr Van Ee is ontbied, want met hom had Charlie 'n goeie rapport. Die kurator het mooi gepraat: “Kom nou Charlie, wat soek jy hier – jy weet jy’s nou baie stout” het hy die gespierde gewese sirkussjimpansee probeer sagmaak om hom weer in die hok te lok, maar Charlie had ander planne.
Met ʾn kragtige arm, het hy Van Ee wat ewe liefdevol sy hand probeer vat het, onderstebo gepluk en met die kenmerkende sjimpansee-waggeldraf triomfantelik hek toe laat vat. Met Van Ee (mank-mank) en ander dieretuinpersoneel agterna.
‘n Hele end van die dieretuin af – verby die plek waar die Vrystaatstadion nou is, het Charlie Parkweg gevat. Daar het ek hom die eerste keer gewaar – eintlik nie vir hom eerste nie, maar ‘n klompie swart vroue wat gillend en skreeuend voor hom uitgeskarrel het. “Jo-jo!” en “Tokkelossie!” was van die angs-uitroepe wat ek kon onderskei.
Iets van sy sirkusdae het in hom opgestaan, want dit was asof Charlie soms daarop uit was om te vermaak. Hy het kort-kort sy pas versnel om die mense wat die naaste aan hom was, veral swartes, die skrik op die lyf te jaag.
Die verkeer het tot stilstand gekom in die besige straat en al hoe meer mense het agter Charlie aangetou om niks van die pret te mis nie. Wanneer hy moeg geraak het, het Charlie sy pas verslap en ʾn keer of wat skielik omgesit. Dan het die skare nuuskieriges agter hom soos een man teruggeval.
Charlie is later by die Parkweg-polisiekantoor verby en daar het ʾn klomp geregsmanne by die laggende, skreeuende, gillende agtervolgers aangesluit.
Aan die onderend van Parkweg was die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Daar het die Vrystaatse Administrateursvrou, mev Marthie “Sand” du Plessis, pas die ontvangssaal verlaat waar daar ‘n oggendtee vir haar aangebied is.
Charlie is die saal kort op haar hakke binne en ons het laggend deur die venster gesien hoe hy homself help met oorskiet teetjies – teen die tyd was hy baie dors na sy lange vlugpad. Hy het ook sy kieste vol koek geprop.
Hy moes aangevoel het dat sy agtervolgers hom in die saal sou vaskeer, want soos blits is hy weer daaruit – terug dieretuin se kant toe en weer verby die polisiekantoor.
Hier het hy die fout begaan wat hom sy kortstondige vryheid gekos het. Die lowergroen rugbyveld (nie vandag meer daar nie) was te aanloklik as koele rusplek vir sy nou pootseer lyf. Hy het vir ‘n wyle tot stilstand gekom en dit het die kans gegee om ‘n net te gryp – die soort waarmee die vrag op oop vragmotors vasgemaak word.
Hierdie foto’s vertel die res.
Op die foto hierinder is dit (‘n nog jeugdige ekke) wat die vangwa se deur vir Charlie oophou. Mnr Van Ee het Charlie aan die hand beet.
Ek dink dit was Cas Dreyer of Lappies Labuschagne (Die Volksblad) wat die trefferfoto’s geneem het.
Ek was nogal jammer om vir Charlie sy kortstondige vryheid te help ontneem – soos die uitdrukking op my gesig getuig.
Van daardie dag af het ek ‘n buitengewone sagte plekkie vir sjimpansees – soos die meeste mense seker maar ook het.
Die klein sjimpansee hiernaas is nou nie ʾn nasaat van Charlie nie – hy en ek is saam afgeneem in Liberië waar ek gaan werk het net ná die staatsgreep waartydens die president se naakte lyk agter ‘n voertuig aan deur die strate gesleep is.
Ons vliegtuig het op ʾn afgebrande lughawe geland. Oral was daar nog getuienis van die bloed en geweld.
Watter kontras met die geweld deur mense was dit om die vriendelike outjie daar te ontmoet. Hy het naby die uitsaaistasie op ʾn grondpad wat afgaan na die see vrylik rondgeloop, my hand gevat en behendig op my heup geklouter vir ʾn oorvryf.
‘n Gesinnetjie wat die geweld van die oorlog oorleef het, het hom aangeneem. Hy kom en gaan soos hy wil, slaap in die huis en eet saam met die mense – sy kos uitgegooi op ʾn piesangblaar. Hy het nog nie geleer om met ʾn lepel te eet soos die res van die huisgenote nie en slurp en lek die kos behaaglik op.
Vrylaat in die bos?
Agge nee – hy is mos vry om te kom en gaan soos hy wil. Die mense in die bos sal hom opvreet – van honger, nie van liefde nie! Hy speel wel in die bos agter die huis, maar weet waar daar veiligheid is en kom altyd weer terug. Sjimpansee wel, dom geensins nie!