Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.11.13

Weduwees as roofdiere beskou

GERHARD BURGER het ná Jasper Schelleringhout se uittreksels uit Kort en Goed van November 1942 in sy eie boekrak gaan krap en op iets afgekom: Wat elke weduwee behoort te weet.

Dit was die treffende opskrif van ʼn artikel in Desember 1941 se uitgawe van Kort en Goed, ofte wel K en G.

Byna 72 gelede, toe party van ons nog nie eens gesoute joernaliste was nie (skryf Gerhard) het Kort en Goed ʼn hele rits opsienbarende artikels gehad. Onder meer:

Wonderlike Breinoperasies, Satan se Dissipel (nié deur ds Jasper geskryf nie), Genesing deur Asemhaling, ʼn Boer Waag ʼn Miljoen Dollar, Die Invloed van Lawaai op Ons Liggaam, Hollywood Voel Siek, Krag per Radio deur die Lug Gestuur en Opgewek maar ongesond.

Op bl 3 is verkondig: “Kort en Goed is gedruk op papier wat van mielieblare en gras in Suid-Afrika vervaardig is.”


Die tydskrif van 100 bladsye het nie foto’s gehad nie en is maandelike deur Afrikaanse Pers Beperk (Pleinstraat 3, Johannesburg) uitgegee. Dr Hj (stet) Reitz was saam met APB die mede-eienaar en saam met JHS van der Walt die mede-redakteur.

Ene AM van Schoor was een van die medewerkers, saam met Johanna van Broekhuizen, mev AE Carinus-Holtzhausen, Helene de Villiers, dr PJ Kloppers en ʼn paar ander. Die intekengeld, vooruit betaalbaar, was 15 sjielings per jaar. Los eksemplare is teen 1/6 aangebied.

Op bl 2 was 'n volbladadvertensie:
ROOK
C to C
VIR KWALITEIT


Op bl 4 het Nescafé geadverteer: “Geen moer, geen verkwisting, geen gekook. Volmaakte koffie. Oombliklik gemaak.” (Met die aanwysing: “Uitgespreek Nes-Caffy”). Kitskoffie!

Oor die weduwees is berig: “As u ʼn weduwee is, is daar verskeie feite wat u onder die oë moet sien.”

Een van daardie feite: “U word deur ander vroue as ʼn roofdier beskou – en deur mans as hul prooi.”

En: “U sal in die vergetelheid versink, tensy u aantreklik, ryk of slim is, of ʼn groot talent vir vriendskappe het.”

Verder: “ʼn Weduwee sal goed doen om te besluit om opsy te staan en mans hoflik te laat wees. Laat hulle deure oopmaak, swaar voorwerpe dra, kaarttafeltjies verskuif, die vuur aanwakker ens.”

Weduwees is aangeraai om nie te veel aan mense te raak nie” en “meer belang in vroue as in mans op ʼn byeenkoms te stel.”

Dan sê die skrywer, Margery Wilson, ook: “As sy wil vermy dat mense van haar skinder, moet sy meer as een mansvriend hê. Tog moet daar nie te veel wees nie.”

Naskrif: Dié uitgawe het ʼn algehele gebrek aan spel-, taal- en setfoute.