HANS LOMBARD skryf: Ek verwys na die berig in K’rant,
Kent gij dat volk, onder die naam van Johann Liebenberg, politieke redakteur van Die Vaderland, met verwysing na Johann se ontmoeting met Kosingwesi, sekretaris van SWAPO, tydens die Wêreldhof se uitspraak in Den Haag, wat saam met Johann Kent gij dat volk gesing het (lees hier). Net ‘n regstelling.
Die man se naam was Jariretundu Kozonguizi, president van SWANU (South West Africa National Union). Dit was ‘n opposisieparty van SWAPO van Sam Nujoma, wat die eerste swart president van Namibië geword het. Ek het altwee goed geken tydens my jare as joernalis in Londen.
Ek het ook destyds die uitspraak van die hof in Den Haag op 18 Julie 1966 bygewoon. Dit was ‘n Maandagmiddag, en wat ‘n verrassing ná ek my sitplek ingeneem het, toe kom sit niemand anders nie as Johann Liebenberg langs my. Ek het Johann natuurlik al geken van my jare by Die Vaderland voor ek na Londen verkas het. Hy was Die Vaderland se eerste buitelandse verteenwoordiger in Londen.
Kozonguizi is in 1995 in Namibië oorlede.
|
Carl Nöfke |
Nog ‘n interessante staaltjie. Die vorige week het die Nigeriese Hoë Kommissaris in Londen ‘n skemerpartytjie in Londen gereël vir sir Louis Mbanefo, van Nigerië, een van die regters van die Wêreldhof wat uitspraak moes lewer in die saak. Ek was een van die gaste op die partytjie. In geselskap van ‘n klein groepie vertel die regter vertroulik dat Ethiopië en Liberië wat die saak teen Suid-Afrika aanhangig gemaak het die saak verloor het. Daar was ‘n gelykop stemming onder die regters. Die voorsittende regter, Sir Percy Spender, van Australië het die beslissende stem ten gunste van Suid-Afrika uitgebring. Daar was g’n manier dat ek die inligting in daardie stadium wêreldkundig kon maak nie.
Maar toe ek by die hof aankom, ontmoet ek vir Carl Nöffke, destyds van die SAUK en later hoofredakteur van Die Transvaler, en gee vir hom die nuus ‘n paar uur voor die uitspraak, maar hy wou nie my storie glo nie.