Ná die Oggendblad-dae het ek Johann weer by die Pretoria News raakgeloop. Boks was Johann se forte en eendag moes hy 'n groot geveg in Johannesburg gaan dek. Ek is saam om 'n stoep te skryf.
Bushy Bester |
Die geveg het toe ietwat anders verloop as wat Johann verwag het, maar hy het sy resitasie aangepas en dit 'n keer of twee geoefen, 'n tiekieboks opgespoor en homself met 'n paar skynbokshoue opgewen vir sy bravura voordrag.
Hy het die kantoor gebel en pleks van aanhef, gaap-gaap hy soos 'n vis op droë grond. Doodse stilte. Na 'n paar sekondes skree hy: "Hallo, hallo, hallo!", en met elke hallo styg sy stem 'n benoude oktaaf. Met groot teenwoordigheid van gees skree hy vir oulaas "F@k, hierie f@kken foon werk nie!" voor hy die handstuk neerplak.
"F@k, dit was Drysdale!" stotter hy, sy rympie se woorde skoon weggeskrik. "Waddef@k soek die redakteur dié tyd van die nag op kantoor?" ' n Baie verbouereerde De Beer het pen en papier gegryp om sy gedagtes te probeer orden en toe hy na 'n wyle weer op stryk is, bel hy weer van dieselfde tiekieboks af, mompel 'n verskoning oor 'n stukkende foon en dikteer bedees sy notas aan Andrew Drysdale.
Ons is toe na een of ander klub vir 'n laat versnapering maar Johann was duidelik uit sy gewone joviale element en het hom sit en verknies oor die verwagte preek wat Drysdale, immer 'n gentleman, oor die vloekery en lang vertraging gaan afsteek. Hy was verniet bekommerd. Die volgende oggend by die nuuskonferensie is De Beer by name opgehemel as 'n pligsgetroue koerantman wat deur niks - nie eens 'n stukkende tiekieboks - gestuit word om 'n storie deur te kry nie.