FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Joe van Buuren het ‘n rukkie gelede in K’rant berig oor die wonderwêreld van hedendaagse slimfone en hoe dit joernaliste se lewe vergemaklik. Jare gelede het die polisie maklik op ‘n kamera beslag gelê om te voorkom dat ‘n foto in die koerant verskyn. Deesdae kan enigeen foto’s, beeldmateriaal en klank op ‘n selfoon afneem en kantoor toe stuur voordat iemand kan inmeng. ‘n Regering kan ontken dat rebelle ‘n helikopter afgeskiet het soos in
Sirië. Die regeringswoordvoerder se woorde is kaars koud of beeldmateriaal van die voorval kan wêreldwyd op CNN of Sky gesien word.
Selfoongetuienis speel ter plaatse ook ‘n beduidende rol soos in die Marikana-skietery waar vermeende polisietoesmeerdery met selfone weerlê word. Of ‘n geestelike wat woedend op televisie teen die polisie uitvaar en ontken dat betogers moetie gebruik het om hulle teen polisiekoeëls te beskerm. Kort na dié TV-berig word ‘n insetsel van rye halfnaakte mans gewys wat blykbaar ‘n moetieseremonie ondergaan.
Toentertyd was dit moeiliker om ‘n berig uit ‘n afgeleë gebied betyds by die koerant te kry. ‘n Mens kon dit deurbel, maar moes eers ‘n foon opspoor. Daarna moes gejaag word om ’n foto van die gebeurtenis betyds in die koerant te kry. Op ‘n dag word ek na ‘n grusame moord en verkragting in ‘n bos naby Heidelberg gestuur. ‘n Werklose egpaar het na ‘n naburige dorp of plaas gestap om werk te soek. Hulle is aangeval toe hulle onder ‘n boom gaan rus het.
Die polisie het dit bevestig, maar kon bitter min feite gee. Ons is hospitaal toe waar ons die vrou opspoor wat bereid was om ‘n onderhoud en foto te gee. Ons kon selfs ‘n foto van haar oorlede man van ‘n identiteitskaart af neem. Verkragtingslagoffers se identiteit is woonlik deur die media verswyg, maar dié slagoffer was so kwaad vir die polisie oor wat sy as onbeholpenheid beskou het, dat sy daarop aangedring het om te vertel wat gebeur het. Ons het seker gemaak dat sy ‘n vrywaringsgeskriffie onderteken net in geval sy later van gedagte verander.
‘n Ervare speurder wat die voorval ondersoek het, het vasgestel dat die konstabel wat dit aanvanklik ondersoek het drooggemaak het.
Toe ons by die hospitaal uitstap, kry ons The Star se verslaggewer en ‘n speurder by die voordeur. Die polisieman het skaars met die verpleegpersoneel gepraat of hy storm op ons af en dreig ons omdat ons in sy ondersoek ingemeng het. Fotograaf Hannes Niemand draai sy rug op die ontstoke geregsdienaar en ruil blitsig sy kamera met die Star-fotograaf s’n om. Toe hy omdraai gryp die polisieman die kamera en pluk die film uit. Ons en die Star word summier polisiekantoor toe geneem om glo van regsverydeling aangekla te word.
The Star het Mercedes-motors met ‘n foon gehad. Die Star-fotograaf los Hannes se kamera in ons motor en ek sê die bestuurder kan maar ry. Ek en Hannes sal saam met The Star terugkom. Ons reël vinnig dat die Die Vaderland die foto’s sal afdruk en ‘n stel foto’s by die Star aflewer. Die ontstoke polisieman neem ons in kruisverhoor en jaag ons ná ‘n uur se gedreig met ‘n waarskuwing weg. Ek bel die berig op The Star se foon deur en my kollega herhaal dit met ‘n paar veranderinge. Albei koerante se nuusredakteurs het die verkragting verswyg,