Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.7.13

Bierplesier om die koffietafel

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Ooggetuies is meestal nie geloofwaardig as daar ‘n kamera in die omgewing is nie. Mense wat net die slag van ‘n noodlottige botsing gehoor het, wurm maklik voor die kameraman in en ‘n afleiding word ‘n ooggetuieverslag. Die Vaderland se fotograwe sou ‘n groepfoto van die vertellers neem en sodra die ware ooggetuie uitgeken is, sou hulle eenkant ‘n foto van dié neem. Dis egter nie net sogenaamde ooggetuies wat op die foto in die koerant
probeer kom nie, jonger joernaliste sou ook poseer sodat hulle by die familie kan spog.

“Ons het jou in die koerant gesien,” sal familie, vriende of bure sê. “Is dit?” sal ‘n mens ongeërg opmerk. “Wanneer?” Totdat Kotie Venter uit die biblioteek bel en sê sy het jou foto ook gesien, maar sy is dankbaar dat ‘n onvleiende foto nie geplaas is nie. En moet sy dit weggooi of wil jy dit hê. Jy gaan kyk en sien jou fotograafvriend het ‘n foto geneem waar jy in jou oor of neus krap. Dit sou in elk geval nie die koerant haal nie, maar kan jou maklik by die koffietafel neffens die nuusredakteur se glaskas verras waar almal dit kan sien.

So ry ‘n lid van die sakeredaksie en ‘n fotograaf op ‘n keer na een van die myne om ‘n berig oor ‘n miljoen ongeluksvrye skofte te doen. Sulke prestasies is gewoonlik behoorlik met produkte van die brouerye gevier. Ná die viering vertrek Die Vaderland-manne huis toe en die joernalis verduidelik sy bierplesier noodsaak ‘n stilhou by ‘n boom of ‘n bos. Die bestuurder hou stil en ons vriend bestorm ‘n struik. Die knypery het egter ‘n probleem veroorsaak. Hy het so lank geknyp dat toe hy wou, kon hy nie. Ons fotograaf raai hom aan om aan ‘n waterval of ‘n sterk stroom te dink.

Uiteindelik neem die natuur sy loop en hulle ry verder. Die volgende dag kom kuier die fotograaf by die koffietafel. Hy staan met sy rug teen die glaskas. Toe die sakejoernalis by ons aansluit, vertel die fotograaf van ‘n voorval op Johannesburg se stasie toe hy ‘n nood ontwikkel het. In daardie jare het die porseleintrone se kleedkamerdeure ‘n muntbussie gehad om boemelaars en vandale uit te hou. ‘n Pennie het jou toegang verseker. In die tyd van ponde, sjielings en pennies was ‘n pennie en ‘n halfkroon ewe groot. ‘n Halfkroon was 30 pennies werd.

Toe vertel die fotograaf sy nood was so groot dat hy die halfkroon gebruik het om die deur oop te kry. Die ry krippe waar die manne kon staan was almal beset. “Maar jy het ook gister ‘n probleem gehad,” sleep hy die joernalis by die gesprek in. “Ja,” sê ons vriend. “Dit was nie ‘n ekonomie-probleem nie. Ek het te lank uitgehou en die kleppe wou nie ontsluit nie.” En toe?” wil die fotograaf weet.

“Man ‘n bier is ‘n plesier, maar toe daardie klep uiteindelik oopmaak was dit pure bierplesier,”sê hy.
“Iets soos dié,” sê die fotograaf en gee pad van die glasvenster af. Agter hom pryk ‘n foto van die joernalis wat met ‘n vredige glimlag oor sy skouer kyk terwyl sy nood sy lende in ‘n sierlike boog verlaat.