Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.7.13

Reaksie op Peet Simonis se berig op MV Jooste

WILLIE BUYS skryf: Ek wou eintlik al vroeër ‘n brief geskryf in reaksie op Peet Simonis se puik artikel waarin hy met ooglopende bewondering vertel van die positiewe kant van mnr. Marius Jooste as mens én sakeman wat ‘n magtige mediaryk opgebou het uit feitlik niks.

Nou, ek was een van die mense wat taamlik oningelig was oor die blink kant van Jooste want hy was nie eintlik ‘n toeganklike man nie. En, soos Simonis dit gestel het, mense was bang vir hom omdat hy so ‘n eksentrieke en reguit persoonlikheid gehad het. Soos een van sy lofswaaiers dit gestel het, as hy in ‘n vertrek was, was almal bewus van sy aura. Ongelukkig lei laasgenoemde daartoe dat net die sappig-omstrede kant van sy lewe en optredes so ongeërgd en traak-my-nie-agtig aan sy persona gekleef het.

Ek het Peet se vertelling – meestal positief – veral baie geniet omdat ek altyd gevoel het die prentjie oor dié besonderse man is onvolledig, iets haper. Dit is omdat ek betreklik laat in sy lewensjare eers op uitvoerende vlak as nuusredakteur van Die Transvaler en later as hoofredakteur van Perskor se nuusdienste, met hom te doen gekry het. Toe het omstredenheid reeds soos ‘n alter ego aan hom gekleef.

Mense soos ek onthou ook makliker buitensporige en irrasionele optredes en uitsprake en vergeet van die weldade wat uit die verskansing van die mensgerigte kant van sy persoonlikheid gespruit het. Hy was beslis ’n mens met ‘n warm kant wat weens die kronkelloop van die lewe al minder na vore kon kom, veral in die laaste jare van sy media-heerskappy.

Omdat ek in my kontakjare met hom slegs kennis gemaak het met sy jarelange en veelbesproke “stryd”met my baas van destyds, Willem de Klerk, het dit my mening moontlik na eensydigheid geswaai. Miskien is dit die regte tyd om nou meer te konsentreer op glimpse van sy lojaliteit en menslikheid. So het mnr. Jooste ‘n jarelange werknemer en vriend in ‘n hoë posisie met ‘n ernstige drankprobleem uit lojaliteit toegevou in medemenslike begrip en beskerming. Hy het hom selfs ‘n paar keer in rehabilitasiesenrtums laat opneem met die versekering dat sy posisie op hom wag as hy terugkeer.

Rika van Graan, een van die puikste misdaad- en algemene verslaggewers van haar tyd wat, soos almal wat haar ken weet, dié dapper mens ly aan ‘n ongeneeslike siekte wat haar nou tot totale bedlêendheid afgetakel, het in ‘n onlangse artikel in K’rant vertel van sy barmhartigheid teenoor haar. Hy het haar op Perskor se onkoste na Londen laat vlieg, na haar hospitalisering omgesien en weer met hoop op ‘n beter lewe laat terugkeer. Alles op die maatskappy se rekening.

Ek vergeet ook maklik hoe ‘n sagte plekkie hy vir my oorlede broer Tom Buys gehad het. Tom was een van Perskor se redaksionele uitblinkers wie se lewe in die fleur van sy opgang in die maatskappy kortgeknip is deur ‘n uiters rare breinsiekte. Jooste het sonder skroom ‘n hele jaar se salaris aan Tom se weduwee, Annemien, uitbetaal na sy oorlye. Dit het nie daar opgehou nie, want hy het my kort na die begrafnis ontbied uit besorgdheid oor Annemien. Hy het my vaderlik gemaan dat daar allerlei skewe karakters is wat op sulke weduwees teer en van hulle van hul eggenotes se geldelike nalatenskap vervreem. Gelukkig is en was Annemien daarteen bestand, sodanig dat sy nooit weer getrou het nie.

Ter afsluiting wil ek in die gees van wat Peet se berig weerspiëel, sê: Geen mens is nét sleg nie. As jy fyn kyk, sal jy iets goeds in sy persoonlikheid ontdek. En dat daar baie ander verhale oor Jooste die weldoener is, waarvan baie mense nie bewus is nie.

Maar Krismishoenders sal by feitlik alle Perskoriane onlosmaaklik deel van sy beeld bly! - Redaksie