

∙ So praat hy my om om saam met hom te gaan na ’n nasionale tydren, meerendeels in die woude van die diepe Oos-Transvaal. Dit het hom die kans gegee om ’n nuwe bakkie op die mark te toetsbestuur onder uiters moeilike omstandighede wat verder ontaard het in ’n baster wolkbreuk. Die halfbegaanbare paadjies waar die manne gejaag het, was later ’n modderpapperysel.
Iewers op pad na een van die sneltrajekte staan twee jong duimryers, ’n ou en ’n meisie, soos natgereënde hoenders langs die pad. Ons hou stil en laai hulle op met die bedoeling dat hulle agterop kan ry tot op die volgende dorp. Toe die twee (dit blyk hulle was Europeërs wat deur die wêreld getoer het) hoor waarmee ons besig is, wou hulle op stuk saam, natreën agterop die bakkie of nie.
André draai af en ons ry verby die beamptes so ’n ent in by ’n spesiale sneltrajek en wag vir die optog haastige gevaartes, wat toe nou nie opdaag nie. Ons pluis uit die trajek is gekanselleer omdat die pad onbegaanbaar is en André besluit dis mos nou die kans om die res van die trajek wieletjie te draai, soos hy sy gunsteling-tydverdryf beskryf. Agterop die bakkie het ons twee passasiers hulle knus en warm saam toegehul in ’n slaapsak. En André laat wiel met daai bakkie; by tye het die naald geboer by die 160km/h plus terwyl ons die wêreld vol gly en meer op die skouers van die paadjie is as in die pad self. Hulle noem ’n slaapsak vir twee ’n streepsak, maar die tweetjies agter ons het natuurlik geen vleeslike gedagtes gehad nie; hulle was saam toegekoekon en kon nie eens met hul arms en hande keer toe hulle die bak vol geslinger word nie omdat hulle angsbevange aan mekaar geklou het.
Toe ons die trajek verlaat, vra ek vir Kockie hoe vinnig ons nou eintlik gery het. Sy droë antwoord: “Ons sou nie laaste gekom as ons deelgeneem het nie.” Op die naaste dorp (ek kan om die die dood nie onthou watter een nie) het ons ’n hotel gevind met ’n kaggel en iets om jou van binne af warm te maak. Ek weet nie in watter stadium ons Europese gaste verdwyn het nie, maar hulle het nie eens gegroet nie.
∙ In dieselfde jare het André saam met Piet van Niekerk met ’n syspan-motorfiets gejaag en dit was nie sommer ’n voertsek-voertuigie nie; as ek dit nie mis het nie, was dit die eerste Honda König in Suid-Afrika. Hy was so ’n plat projektiel met breë wiele, verstommende versnelling en ’n onmenslike topsnelheid. André het op die syspan gery en die motorfiets gebalanseer in die draaie, as hy hom nie in die pylvakke so skaars moontlik gehou en weggekruip het om die windweerstand te flous nie. Op die ou Kyalami huil daai motorfiets op ’n dag af in die pylvak, Piet slaan ankers aan vir Crowthorne-draai, André klouter na die ander

∙ Ek was die aand daar op Tarlton toe André die rekord opstel vir die vinnigste pasassier in die wêreld. Hy is agterop Mick van Rensburg se versnelmotor met ’n vegvliegtuig se straalenjin vasgegord en as ek reg onthou het hulle by die 400km/h oor die 400m gehaal. André het van die geweldige swaartekrag in die versnellingsproses sy bewussyn verloor en ons almal het angstig getou na die eindpunt waar die kar met valskerms tot stilstand gekom het. Johann Verster het bekommerd gevra: “Kockie, is jy orraait?” André het sy oë oopgemaak en met ’n salige smile “wiele” met ’n “p” gesê.
∙ Dit doen my goed dat my vriend van jongtyd geen voorneme het om briek aan te draai nie; De Kock sal dit nooit maak as daar nie nog ’n doodsveragtende uitdaging vir hom is nie.