Die redaksie is by aanvang afgedreig om hul opdragte vir die dag onmiddellik te begin, want die storie wat daar kan uitkom, sal dalk al diep binne more se koerant op ‘n vroeë blad weggewerk moet word.
So aan tot vannag wanneer die settery die subs begin dreig met verspreidingsbehoeftes na die platteland. Die belangrikste faktor is die saktye en hoe nader hoe kwater. Almal dreig almal.
In Die Transvaler se subkantoor was die wagwoord “haas jou en wag”. As die subs hulle saktye gehaal het, het almal gesit en wag om proewe te kan sien en dan begin die oormaak van die voorblad, ens.
Die wagtye is interessant gemaak deur poker te speel. Poker speel is ‘n taamlike verslawende speletjie, al speel jy net vir vuurhoutjies.
Omdat die nagsubs moremiddag eers vieruur weer inval, is die nag daar om dinge te doen, want jy hoef eers in die oggend te gaan slaap. Ons het dikwels deurnag poker gespeel of in Hillbrow iets gaan soek om te eet en doen.
Lou Henning |
Toe die sekuriteitsmense rondom twee-uur die oggend die deure wou sluit, het Lou op die blink plan gekom dat ons almal by sy huis (iewers aan die Wes-Rand) moet gaan vleis braai en ons hoef nie eers by Fontana te gaan vleis koop nie, want hy het baie vleis in die vrieskas.
So besluit, so gedoen. By Lou se huis aangekom, kry almal gou ietsie om te drink, Lou steek ‘n vuur aan en gaan krap in sy vrieskas rond vir die braaivleis.
Om ‘n spesifieke snit vleis uit ‘n ongemerkte, bevrore pakkie uit te ken is nie maklik nie en Lou moes maar raai wat binne is as hy so voel en deur die ys loer of hy iets herken.
Dié nag was dit effens makliker om bevrore vleis raak te sien en dit was nie lank nie of Lou haal twee pakke gevriesde (braai)vleis uit en sit dit in lou water (met ‘n klein “l”) sodat ons kan braai wanneer die kole reg is.
Toe die kole later gereed is, het Lou die nog gevriesde tjops met warm water onder die kraan van mekaar losgespoel. Dit was toe nie braaitjoppies soos hy gedink het nie, maar skaap-nektjops. Die vriestjops is net daar op die kole gesit waar hulle in dieselfde proses ontdooi het en gaar geword het.
Honger bly ‘n uitmuntende kok en almal het heerlik gesmul aan die tjops wat seer sekerlik taaier as ou skoensole was, maar nie ‘n klag van êrens af nie. Net Lou se arme vrou, Gloria, wat so een of twee keer “sjarrap” uit die slaapkamer gesê het!
Sedert daardie dae het Philip oupa geword. Op meegaande foto is Philip (4de geslag Deetlefs) met klein Philip (6de geslag Deetlefs) op die arm in 'n wildtuin met ‘n mak renoster in die agtergrond.
( Sy vrou, Wilma, het laat weet dat sy nie die foto aan K'rant gestuur het nie en dat sy is ook nie bang is dat Philip haar daaroor gaan verkwalik nie. Sy meen dit is 'n pragfoto wat Philip se oud-kollegas sal waardeer. - Red.)