Eerstens laat dit my dink aan die naloop van ‘n baie suksesvolle viering van een van Dave Viljoen se verjaardae by die destydse Porterhouse-restaurant – bottel Viekerie en al. Die kollegas wat die avontuur met my gedeel het, kan dit nie meer onthou nie, dus noem ek hulle maar
Kollega A en Kollega B. Dan moet ek by voorbaat sê dat albei goed toegerus was om na hulself om te sien as sake dalk fisiek kon raak.
Dit was laatnag/vroegoggend toe die viering verby was en ek die twee by hul motors – wat heelwat verder as myne geparkeer was – gaan aflaai het.
Nou ja, hulle het in ‘n verkeerdekoers-eenrigtingstraat geparkeer gestaan, maar daardie tyd van die oggend was daar geen verkeer nie en stroomop-ry sou geen probleem skep nie. Of so het ons gedink.
‘n Ent weg het motorligte skielik geflits, toe trek die bestuurder uit ‘n parkeerplek en jaag met skerp hoofligte op ons af. Ons koes betyds en hy jaag verder.
A nee a, manne, sê Kollega A, dit kan ons mos nie duld nie. Kom ons gaan praat met die kêrel.
Met algemene instemming sit ons hom agterna.
Ons haal hom by ‘n rooi verkeerslig in en hou neffens sy motor stil. Daar is twee jong paartjies in die voertuig. Maar hulle wil nie praat nie. Hulle ry oor die rooi lig en ons is agterna. So gaan dit Hillbrow se bulte op en af, maar hulle kry ons nie afgeskud nie. En ons kry nie gepraat nie.
Die paartjie op die agtersitplek het eers styf teen mekaar gesit, maar hoe verder ons jaag, hoe verder skuif hulle uit mekaar uit.
Hillbrow-polisiekanoor |
Hy wil ‘n klag lê, sê die bestuurder. Met ‘n bietjie raad van die polisie besluit hy op “assault and battery”.
Nee, maar gaaf, sê Kollega B, ons doen ewe so: “Attempted murder!”
Toe ons ons oë uitvee het die klaer soos mis voor die son verdwyn en hoor ons sy voertuig buite wegtrek. Toe moet ons nog net vrede maak met ‘n polisieman in private klere wat op die trap raak ge-“praat” is toe hy tussenbei wou tree!
Gerrie Coetzee |
Dit was in die dae toe Gerrie Coetzee en Kallie Knoetze mekaar gereeld met bek en vuiste getakel het.
Jan publiseer ‘n onderhoud met Kallie waarin hy ongunstig na Gerrie se ma as “ouma” Meisie Coetzee verwys – en die Coetzees ruk hulle op.
‘n Kollega besluit toe om Jan ‘n streep te trek. Hy bel die sportkantoor naamloos en waarsku dat die Coetzees op pad Nieu-Doornfontein toe is om Jan op te dons.
Joe Venter antwoord die telefoon. Hy reken hy het die Coetzees se agent se stem herken en waarsku Jan om stilletjies by die agterste uitgang uit te glip.
Daardie middag, ‘n lange, het Jan die Coetzees se gewaande wraak in Exclusive Books in Hillbrow ontwyk.
Maar dit was ook nie altyd so veilig in Hillbrow nie.
Philip Deetlefs het destyds uit sy omswerwinge in Europa teruggekeer met ‘n strofe of wat van ‘n Italiaanse kommuniste-strydlied, Bandiera Rossa (Rooi Vlag), in sy repertoire. Dit het ons groot genot besorg om dié dekadente lied tydig en ontydig te sing waar ons geglo het niemand verstaan die woorde of strekking nie.
Op ‘n dag beland ons in ‘n hotel in Hillbrow (was dit die Crest?), net so ‘n swenk weg uit Pretoriastraat in Abelstraat met sy lekker groot plataanbome, terwyl ‘n skare Iere juis dié kroeg gekies het om die Heilige Patricius se dag te vier.
Soos die geesdrif sy loop kry, besluit ons later dis tyd vir Bandiera Rossa. Ons het net mooi die noot gevat, toe gryp ‘n knaap ‘n leë bierbottel, slaan die boom teen die toonbank af en kom staan dreigend voor ons met die ultimatum: “No Afrikaans songs tonight!”
Nodeloos om te sê, ons het alle verdere sang aan die Iere oorgelaat.
Dit was ook in Hillbrow dat die Afrikaner my verwerp het.
Die plaaslike Afrikaanse Kultuurraad het besluit om ‘n “kuierkring” te stig as toevlug vir die Afrikaanse eensames van dié voorstad.
Frans Scheepers |
Dit was in die Café Italia en ons kry almal sulke Republiekvlaggies om op ons lapelle te plak. Kort voor lank kla iemand oor die “politieke byeenkoms” en die bestuurder vra ons om te loop. Ons verkas toe na die voorsitter se woonstel vir koffie en daar word besluit om die stigting uit te stel en’n vriendeliker plek daarvoor te vind.
Dis toe in die skoolsaal van die Joubertparkse laerskool. Nie een van ons bly in Hillbrow nie, maar ek en Frans is weer daar. Voor die vergadering braai ons vleis en kuier. Teen stigtingstyd is daar geen keer aan my entoesiasme vir die saak nie.
Die kultuurraad het hul plan mooi uitgewerk, maar ‘n onderdrukte moedswilligheid kry die oorhand in my.
Die raad stel voor die naam moet die Hillbrowse Afrikaanse Kuierkring wees.
Nooit nie, weet ek te vertel. Ons moet die Afrikaans weglaat. Jy kan in geen ander taal “kuier” nie en ons moet die kuierkring gebruik om die Portugese en ander uitlanders te assimileer.
Die res van die vergadering gee my gelyk.
Dans behoort nie deel van die bedrywighede te wees nie, beduie die raadsmanne.
Arrie nee, sê ek, wat geen voet voor die ander op ‘n dansbaan kan sit nie, wat kan dan nou beter gees bou as ‘n lekker boeredans?
‘n Paar tannies juig my toe en die res van die vergadering gee my gelyk.
Die raad meen daar moet elke Vrydag gekuier word.
Dié keer kom die stok in die wiel nie van my kant af nie. “Nee, gaats,” skerm ‘n Hillbrower, “’n man wil darem tussen in ‘n ‘strip show’ of wat ingepas kry!”
Die res van die vergadering gee hom gelyk.
Met die verkiesing van die bestuur was dit gou duidelik dat die raad sy eie bestuur net so op die kuierkring wou oorplaas. Toe stel ek Frans as sekretaris voor.
“Die sekretaris moet darem kan tik,” het die voorsitter walgegooi, maar ek het hom getroef met: “As joernalis maak hy sy lewe deur te tik.”
Toe stem die tannies van Hillbrow Frans geesdriftig in!
Dit was die laaste dat ek van die Hillbrowse Kuierkring gehoor het – en ek kan nie juis onthou of ek ooit vir Frans gevra het of hy toe sy pligte opgeneem het nie.