Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.3.13

Noue ontkoming met kaptein Dawie se Peugeot

RIKA VAN GRAAN, gewese misdaadverslaggewer van Die Transvaler en The Citizen, skryf: Baie jong joernaliste is nie deur die meule van weleer nie!

Op 2 Januarie 1970 het ek saam met vier kollegas by DT begin werk. Vier van ons, Koos Roelofse, Piet Coetzer, Marieta Coetzee en ek was van die Puk af en Ona Lombard (later Viljoen) was van Tukkies af.

Koos moes papier skeur. Laat ek verduidelik: Berigte het van die Suid-Afrikaanse Persvereniging (Sapa), United Press Internatonal (UPI), Agence France-Presse (AFP), Reuters ens. op die teleksmasjiene deurgekom en hy moes die stories afskeur en sorteer sodat elke kantoor, algemeen, sport, kuns ens. hul berigte kry. Die teleks het 24 uur per dag geloop.

Ons klompie het 16:00 begin en moes werk tot 02:00. Ons het berigte vertaal. Die destydse hoofsub was Piet Gouws. Hy het die berigte aan ons uitgedeel. Tot die weervoorspelling moes vertaal word.

As die eerste uitgawe gesak het, moes Koos vir Piet ’n glas water bring om sy hoofpynpille te drink. Dit was elke aand se ritueel. Later die aand moes hy water bring om by die versterkings te gooi. Elfuur was die tweede uitgawe se saktyd en 02:00 die derde. Die eerste koerant het platteland toe gery, die tweede na Durban en Bloemfontein, die finale uitgawe was vir Johannesburg, Pretoria, Oos- en Wes-Rand en die Vaaldriehoek. Een aand gooi ek die weervoorspelling onder die tafel in. Redelik gatvol vir die storie om elke aand dié “joppie” te doen.

Kort voor die koerant sak vra Piet: “Rika waar is die weer?” Ek het nie gedink hy sou onthou vir wie hy dit gegee het nie.

Ek kon nie onder die tafel soek vir die kopie nie en moes vinnig dink, Piet wag! Die enigste uitweg was om self ’n voorspelling te waag! Ek moet sê, ek was redelik in die kol die volgende dag.

Die subs daardie tyd was Jan Celliers, Johann Botha (hy kon nogal lekker swets), Lucky Roux, Jan de Beer en Bets van der Merwe (sy is later met Piet Gouws getroud). Sy was ’n professor aan die Puk se dogter.

Ná ek drie maande in die vertaalkantoor gewerk het, is die plattelandse redakteur, Dries Jensen, na die Vaaldriehoek verplaas om DT se vlerke te sprei. Mnr Carl Nöffke, die hoofredakteur, skuif my toe in Dries se pos in. Ek moes leer sub en blaaie opmaak nadat ek my stories bymekaar gemaak het. Dit was lekker om met die plattelandse mense te werk.

Dawie de Villiers
Hier moes ek een aand ook vinnig dink. Die All Blacks was hier. Dawie de Villers, die Springbokkaptein, moes 'n Peugeot 404 in groen en goud gespuitverf by 'n motorhandelaar in Bethal as geskenk gaan ontvang. Dit was die hoofberig op my plattelandse bladsy.

Maar o wee, Hennie Kotzé sien die blad toe die proef van die settersy af opkom en byt amper my kop af omdat die berig eintlik op die voorblad moes wees. Sien, as amateur rugbyspeler mag Dawie nie presente ontvang nie.

Die Springbokke het op Springfield geoefen. Toe ek 18:00 van diens af gaan, jaag ek Springfield (die rugbyklub Diggers se hoofkwartier) toe om Dawie te gaan waarsku. As DT hom bel moet hy eenvoudig sê dat hy nie die motor in ontvangs sal neem nie. So was my saak en sy saak beredder!

Kort voor lank kry ek nog ‘n plig by: die eiendomsblad, wat my weer in verbinding gebring het met talle ontwikkelaars en sakemanne. Die plattelandse redaksie en eiendomsblaaie het ek later saam met my misdaadstories behartig tot ek Augustus 1976 by DT weg is na The Citizen.