Ek onthou hoe hy by ‘n vergadering van die SA Vrouefederasie waar elke vrou graag in die koerant wou wees, talle foto’s met flitslig (toe nog gloeilampies) geneem het totdat almal wat hulself op die voorgrond wou druk “afgeneem” is. Dan eers het Gert ‘n film ingesit en die drie vroue wat afgeneem moes word, nadergeroep en die foto geneem wat uiteindelik in die koerant verskyn het.
Gert Hattingh |
As hooffotograaf het hy sy span ook goed beheer sonder om ooit die sambok uit te haal. Kortom, Gert het sy werk geken, was ‘n meester met ‘n kamera en ‘n spanman sonder weerga.
Daarbenewens was hy en sy gesin dikwels kuiergaste in die huis wat ek en Abel Jones en Johan Vosloo op ‘n plaas in Oakdene gehuur het. (Albei dié manne was ook kleurryke karakters in die toentertydse media en welbekend. Albei is intussen oorlede - Red.)
Ons het dikwels tot die klein ure van die oggend om die vleisbraaivuur gekuier.
WILLIE BUYS skryf: In aansluiting by Andries se skrywe oor die vermaarde Gert Hattingh wil ek ook graag 'n stuiwer in die armbeurs gooi. Ek en Gert het jare lank saam gewerk en ek kan alles onderskryf wat Andries aan hom toedig. Gert was ook vir my 'n mentor/vaderfigguur wat my met waardevolle raad en daad bygestaan het toe ek as 'n kadetjoernalis by Die Transvaler aangesluit het.
Ek onthou dit was altyd 'n groot verligting vir al die juniors as hulle gehoor het Gert gaan saam op 'n nuussending. Dit het beteken jou opdrag was halfpad voltooi want Gert het nie net kamera-knoppie gedruk nie, hy was aktief deel van 'n onderhoud of nuusinsamelingsaksie. Soos Andries tereg opgemerk het: hy was 'n spanman. Hy het jong verslaggewers met bedagsaamheid help oplei. Dit geld natuurlik ook vir die jong fotograwe wat onder sy sorgsame vlerk was.
Gert het 'n diplomatiese, vriendelike teenwoordigheid gehad, sonder om oorheersend te wees. Myns insiens is dit een van die hoofkomponente van 'n suksesvolle fotograaf/joernalis.
Hy het die kuns geken om mense op hul gemak te stel want almal wat voor 'n kameralens staan, is in 'n mindere of meerdere mate stokkerig weens senuagtigheid.
Maar Gert het ook 'n harde kant gehad, soos ek as jong nuusredakteur uitgevind het. Ek gaan nie te veel uit die huis uit praat nie, maar Gert het eenkeer bedank weens 'n meningsverskil wat ek en hy gehad het. Hy het by die huis gaan sit en geweier om na die telefoon te kom as ek gebel het. Gelukkig is dié geskil op vreedsame manier besleg en ons het nog jare hartlik en met wedersydse respek saamgewerk. So het ek geleer dat jy nie onnodig aan'n leeu se snorbaarde moet pluk nie. Overgeset synde, benader elke mens op sy eie manier en betoon respek op diplomatieke manier.
Gelukkig is Gert nog springlewendig daar in Mosselbaai waar Piet Ebersöhn hom opgespoor het en K’rant hoop om nog uit eie pen van hom te hoor.
Eksentrieke Abel was legendemateriaal
Gepraat van fotograwe, kollega Andries het so skramsweg melding gemaak van wyle Abel Jones. Hy was ook 'n karakter in die destydse mediawêreld. Wat hom laat uitstaan het, was sy doofheid. Abel het twee gehoorstukke gedra om in die mediawêreld oor die weg te kon kom. En Abel het nie net oor die weg gekom nie, hy het dit met onderskeidng gedoen – soos sy werk getuig het! (Party mediamense het hom met deernis "ou Kwarteltjie" genoem, maar nie voor hom nie!).
Nou, Abel was partykeer 'n moelike, ongemanierde man, 'n soort van ruwe diamant. 'n Vroulike verslaggewer het eenkeer by my as nuusredakteur kom kla oor Abel se ongeskiktheid tydens 'n 'n ete vir die burgemeester van Johannesburg (as ek reg onthou). Abel en gesegde verslaggewer was haastig en moes nog op 'n ander nuussending vertrek, waarvoor hulle reeds laat was. Abel het sy foto geneem en toe summier na die etenstafel gegaan waar hy ongestoord sy sakke volgestop het met die lekkernye wat daar uitgestal was.
Abel was nie juis bekend vir sy goeie tafelmaniere nie, iets wat kollegas in die mediarestaurant nogal lugtig vir sy geselskap gemaak het, want hy het – figuurlik gesproke – geëet dat die soppies spat.
"Kwarteltjie" was egter ook by tye humeurig – soos feitlik alle skeppende mense maar is. As hy nie met jou wou praat nie en alleen gelaat wou word, het hy eenvoudig sy gehoorstelletjies afgeskakel en jou geïgnoreer. So het ek as nuusredakteur geleer om die bode of 'n verslaggewer te stuur om Abel te gaan roep as hy in die donkerkamer met afgeskakelde gehoorstukkies doenig was.
Dit mag miskien klink of ek nou skinder oor die dooies, maar Abel was 'n geliefde karakter met eksentrieke maniere waaroor legendes ontstaan het. Hy is ná 'n kort siekbed in sy vroeë veertigerjare aan bloedkanker dood, sonder die vroulike sielsgenoot waarna hy so knaend op soek was.