Hy het so ‘n groot swart boek met kontaknommers gehad. Elke kontak het sy eie bladsy gehad met die kontakpersoon se naam en
besonderhede, en sommer sy familie se name ook. Ek vermoed hy het in elke sentrale in die land ‘n kontak gehad. Hy het sy kontaklys een keer per week stelselmatig van voor af deurgewerk om voeling te behou.
Op ‘n dag stuur hy my en Ferdie Hand as voornemende joernaliste na ‘n Wes-Randse hoewe om ‘n berig te doen oor ‘n kind wat in ‘n komposgat versmoor het.
Ons het die hoewe ná ‘n groot gesukkel gekry, maar niemand was tuis nie.
Onverrigtersake keer ons terug. “Jammer, oom Sarel,” en ons gaan eet.
Ferdi Hand |
“Hoekom moet albei gaan?” wil ons effens voorbarig weet. “Een is mos genoeg.”
“Omdat ek so sê. Weg is julle.”
Ons bring sy koerante en hy verwys ons na bladsy drie. “Kind versmoor in komposhoop” of iets in dier voege, lui die opskrif. Bek-af sluip ons weg en maak gereed om huis toe te gaan.
Op ‘n ander dag roep oom Sarel ons nader en stuur ons Kimberley toe om ‘n foto te gaan neem van ‘n polisieman wat ‘n aartappel het wat soos Jan van Riebeeck lyk. En vra sommer wat se ander nuus daar is.
“Is oom Sarel ernstig?” koor ons.
“Cheers,” se hy en ons ry. Ons kom byna middernag in Kimberley aan en die polisieman se aartappel lyk soos ‘n aartappel. Ons neem’ n foto en ry terug. Kom vieruur se stryk tuis. Sesuur is ons dikbek terug op kantoor. Die foto word afgedruk en saam met ‘n byskrif op sy lessenaar neergeplak. Oom Sarel ignoreer ons tot die koerant gesak het.
Déjà-vu.
Die tweemanskap moet weer saam gaan koerante haal. Soek die aartappelfoto, maar kry niks nie. Ons gee sy koerante en stap weg.
Oom Sarel roep ons terug en stem saam dat die aartappel nie soos Jan van Riebeeck lyk nie. Toe wil hy weet wat se ander nuus daar was. Ons het so verontreg gevoel oor die onnodige rit dat ons vergeet het om uit te vis.
“Kyk bietjie op bladsy twee,” sê hy.
‘n Boer wat twee weke gelede vermoor is se moordenaars is gevang. Die polisie het op gesteelde geld en vuurwapens beslag gelê en die twee verskyn binnekort in die hof. Terwyl ons Kimberley toe gery het, het hy per telefoon “gereis” en die inligting vermoedelik by ‘n sentrale gekry en met die polisie bevestig.
Kom ek op ‘n dag van die polisie se daaglikse nuuskonferensie terug en oom Sarel wil weet wat is nuus.
“Huismoles en ‘n inbraak waar niks gesteel is nie,” lig ek hom in. Hy gee my so ‘n skewe kyk en ek besef hier kom bladsy twee of drie weer. “Maar ek gaan die inbraak van nader bekyk, oom Sarel,” spring ek hom voor.
‘n Ouerige vrou maak die eenkant-staande spoorweghuisie se deur oop, nooi my binne en stel my aan haar bejaarde ma in ‘n rolstoel voor. ‘n Inbreker het hulle telefoonlyn afgesny, die venster by die voordeur gebeek en die tralies met ‘n skroefsleutel oopgebuig. Die vroue het om hulp geroep, maar niemand het hulle gehoor nie. Terwyl hy ingebreek het, het die inbreker geld geëis en hulle met ‘n mes gedreig.
Volgens die ou tannie se dogter was sy histeries, maar het haar ma rustig gesit en brei. Elke dan en wan het die inbreker deur die venster probeer wurm en dan verder ingebreek. Toe hy byna kon inkom, is die ou tante kamer toe. Haar dogter het haarself in die badkamer toegesluit.
Die ou tannie het die inbreker gewaarsku om pad te gee of hy sal geskiet word. Meneer het haar geïgnoreer en ‘n skoot uit ‘n .22-geweer het die beleg beëindig.
Sy het nog ‘n paar skote in die muur geskiet. Van die bure het ondersoek ingestel en die polisie gebel.
Selfverdediging.
“Niks gesteel nie,” sê oom Sarel. “Maar kan jy dink hoe bang die twee vroue moes gewees het?”
Goed oom Sarel. Lessie geleer. Moenie aanvaar nie. Gaan maak seker of dit nuuswaardig is.