Die staatslykshuis in Braamfontein, Johannesburg, was die grootste en “besigste” lykshuis wat ek ooit mee te doen gekry het. Ek weet nie van
nou se dae nie, maar destyds vermoed ek as ‘n polisieman by Okiep se polisiestasie baie drooggemaak het, is hy na die Braamfontein se lykshuis verplaas.
Die ouens daar was altyd vol grappies en het graag ander mense poetse gebak. Waarskynlik om hulle werksomstandighede meer verteerbaar te maak.
Die lykshuis was ook waarheen mense geneem is wie se bloed getrek word vir dronkbestuur ná ‘n positiewe asemtoets geneem is. Die distriksgeneesheer, wat daar gehuisves is, het die bloedmonster geneem.
Een aand was daar (soos gereeld) ‘n vleisbraaiery in die agterplaas van die lykshuis. Die lykshuis-ouens het graag die misdaad-verslaggewers genooi, want hulle het geweet die verslaggewer bring doodseker nog ‘n bottel Klippies of iets dergeliks saam om die volgende storie-wenk te verseker. Omkoopbottel.
Destyds was een van die distriksgeneeshere ‘n jong meisie wat onlangs eers as dokter ‘n stetoskoop om haar nek mag gehang het. Dit was ook in dieselfde week dat ‘n boemelaar in Johannesburg dood is nadat hy byna 100 messteke letterlik oral oor sy lyf gekry het.
Ek was by die braai as gas toe ‘n verkeerskonstabel daar aankom met sy slagoffer wie se bloed getrek moes word.
Toe hulle die dokter bel om te kom bloed trek, het sy gevra of sy uit blote akademiese belang die boemelaar se lyk kon sien.
Hulle besluit toe dadelik dat sy ‘n poets gebak moet word. Die gewone mense se lyke het kaal op trollies in groot koelkamers gelê (Paasnaweke sommer op mekaar weens te min plek) en een van die lykshuis-ouens het sy uniform uitgetrek en langs die boemelaar op ‘n trollie gaan lê.
Ná die motoris se bloed getrek is, het hulle haar na die boemelaar geneem en is terug na die braai sodat sy haar inspeksie in vrede kon doen. Toe het hulle die krag se hoofskakelaar afgeskakel en die polisieman het in die donker langs die boemelaar orent gekom en by die dokter gekla dat hy koud kry. Sy het haar byna doodgeskrik en trollies omgehardloop op pad uit.
- Die ander lykshuis-storie wat ek onthou was toe iemand een Sondag by die Hartbeespoortdam verdrink het en ek soontoe is vir die storie.
Hulle het die lyk later gekry en ons is na Brits se polisiekantoor waar daar ‘n klein lykshuis was. Een van die lyke daar se maag was verskriklik groot.
Toe ek vra wat fout was, vertel hulle my dat ingeval iemand op wie ‘n nadoodse ondersoek gedoen is se familie nie die lyk opeis nie, werk hulle sy skoene, klere en alles wat hy by hom gehad het, sommer in sy maag toe om moeite te bespaar voor die staatsbegrafnis!
Ek dink die groot verskil vandag is dat sulke stories nou die koerant haal en nie verswyg is soos ek destyds gedoen het nie. Ek bieg en erken skuld.