Ek het hom deur Willem Knoetze geleer ken, wat Saterdae as huursoldaat vir Dagbreek opgetree het. Willem het voorgestel dat ek
hom elke tweede Saterdag aflos sodat hy ‘n naweek saam met sy gesin kan deurbring. Die prinslike som van R14 per skof ná belasting het die deurslag gegee. En sommige maande met vyf Saterdae het tot drie skofte gelei.
Doug Jones |
“Dis tyd dat die ‘motorbike’ huil,” was gewoonlik die aanduiding dat my skof verby sal wees nadat ek die bottel afgelewer het. Die sjebien het straatverkope uit ‘n huis met ‘n helder lig gedoen. Ek was naderhand op voornaambasis met die smokkelaars. Een aand kom ek net ná ‘n polisieklopjag daar aan, vas oortuig dis neusie verby. Toe beduie een van die verkopers ek moet ‘n draai ry en terug kom. Met my terugkoms is ek na ‘n geparkeerde motor verder in die straat verwys. ‘n Kattebak is oopgemaak en die transaksie vinnig afgehandel.
Op pad Perskor toe dwing ‘n polisiemotor my tot stilstand, die gereg lê op my bottel beslag en ek word met inhegtenisneming gedreig.
“Wie’s jy?” wil die wetstoepasser weet. Ek verduidelik ek is ‘n Perskorjoernalis en sal nie maklik weer onwettige drank koop nie.
“Ken jy vir Dougie?” wil hy weet.
“Boesemvriende,” seg ek.
“Sê vir hom sersant Whatever stuur groete,” en ek kry my bottel en ‘n vrypas terug werk toe.
Op ‘n dag kry ons inligting oor die grootste bankroof in die jare sestig. Dit was nie eintlik rooftog met vuurwapens en gewelddadige dreigemente nie, eerder ‘n diefstal. ‘n Reuse-som geld het eenvoudig verdwyn. Die hele Brixtonse moord- en roofafdeling was op die toneel. Ons het ‘n bietjie inligting gekry en dit deurgebel. Hoofberig. Die bank se personeel is geskok en word intensief ondervra. Een van die manne tree op asof hy aan rooftogte gewoond is. Die polisie soek leidrade en oortreders, maar kry niks nie. Berigte oor die rooftog is elke dag in die koerante, maar niemand word aangekeer nie.
Namate die nuus opdroog, verskyn daar taamlike venynige hoofartikels in opposisiekoerante.
‘n Paar weke later werk ek op ‘n Saterdag vir Dagbreek. Dougie is taamlik skaars, maar duik skielik op en begin vervaard tik. Johan (Vossie) Vosloo, Dagbreek se nuusredakteur, is elke nou en dan in sy kantoor en daar word agter ‘n toe deur gekoukus. Laat aand roep Dougie my en word ek vir versterkings Fordsburg toe gestuur. Met die uitstap keer Vossie my voor.
“Waar gaan jy heen?” wil hy weet. Ek wil nie my ekstra joppie verloor nie en dink nog aan ‘n verskoning toe hy my in die rede val en geld in my hand stop.
“Maak nie saak nie. Koop vir ons nog ‘n bottel Oude Meester en moenie die Coke vergeet nie."
Met my terugkoms sit al die veterane koerant in die hand en wag en word die versterkings geskink.
Dagbreek kondig in ‘n hoofopskrif onder Dougie se naam aan die bankrowers is gevang en ‘n groot hoeveelheid van hul buit is teruggekry. Hy is die enigste een met die berig.
Moord-en-roof se span was gewoond om die gevaarlikste misdadigers en moordenaars binne enkele dae aan te keer, maar hulle kon nie hond haar-af maak met dié misdaad nie.
Volgens Dougie is moord- en roof se bevelvoerder (ek het sy naam vergeet) uit pure moedeloosheid terug bank toe om die mannetjie te ondervra wat gelyk het of hy nie na die rooftog geskok was nie. Hy het die kêrel blykbaar net opgelaai en vir latere ondervraging in ‘n kantoor laat sit. Van die manne het die rooftog naby die verdagte bespreek en verwys na ‘n deurbraak wat gemaak is nadat een van die rowers glo aangekeer is en bereid was om as staatsgetuie op te tree.
Die verdagte is glo ure lank gelos om oor sy lot te broei. Hy het naderhand gevra om met die kolonel te praat, maar is meegedeel die kolonel is te besig omdat hy aan ‘n groot saak werk. Die man het laat blyk hy weet ook van ‘n groot saak en wou weet of ‘n staatsgetuie genade kan verwag as hy getuig.
Hy is ondervra en die rowers is een na die ander aangekeer. Die polisie het een van hulle in ‘n woonwa vol geld in Knysna of êrens opgespoor en van die ander rowers het uitwysings gedoen van trommels geld wat in ‘n bos naby die bekende Uncle Charlies-padkafee aan die suide van Johannesburg begrawe is.
Volgens Dougie kon die speurders geen leidrade kry nie omdat hulle op verdagtes by die bank en familie en vriende gekonsentreer het wat skielik spandabelrig begin leef en voertuie of wat ook al kontant koop. Hulle kon niks kry nie. Die man wat die woonwa gekoop het, het nie kontant betaal nie, maar dit met ‘n deposito en maandelikse afbetalings aangeskaf.
Sulke deurbrake word gewoonlik deur hoë offisiere of politici aangekondig. Dougie het vermoedelik inligting bekom wat die polisie nie uitgeblaker wou hê nie. Hy het waarskynlik ná ‘n ooreenkoms met die polisie met sy swye alleenreg oor die trefferberig bekom en al wat leef en beef gescoop.