Die verskillende nuusredakteurs uit Suid-Afrika het daagliks ook 'n lysie gestuur van mense uit hul kontrei wat Brittanje besoek en met wie
ons moes probeer gesels oor hul doene en dinge daar.
Die SA amabassade was ook 'n belangrike bron van nuus.
Marius Weyers |
In die jare sewentig wat ek daar was (eers saam met Hennie Kotzé en toe met Thys Human) was die Ierse Republikeinse Leër taamlik nukkerig en baie bedrywig met hul aksies om hul onvergenoegdheid met geweld onder die Engelse se aandag te bring.
Een aand loop ek 'n meisie raak, wat ek graag beter wou leer ken, en nooi haar toe om ietsie saam met my te gaan hap by 'n restaurant om die hoek van waar sy woon. Ons het lekker gesels en in 'n stadium het ek vir haar gevra of sy my nie vir koffie by haar woonstel wil nooi nie. Sy het gou 'n verskoning gehad oor haar koffie wat op is en dat 'n ander keer beter sal werk.
Skaars het sy my versoek van die hand gewys toe ontplof daar 'n bom oorkant die straat wat die groot venster van ons restaurant in skerwe na binne laat vlieg het. Byna almal in die restaurant het die een of ander besering opgedoen van die glasskerwe wat die wȇreld vol gespat het. Gelukkig was ons twee nie so erg beseer dat mediese hulp nodig was nie. Water en hegpleister kon die ding doen.
Die polisie was blitsig op die toneel en het die hele straatblok afgekamp. Niemand is toegelaat om die afgekordonde gebied te verlaat voor hy nie behoorlik ondervra is nie en die mense wat nie in die afgekampte straatblok gewoon het nie, is eerste ondervra sodat hulle kon huis toe gaan.
Toe dit eindelik my beurt was, het die meisie gesê ek kan maar by haar kom koffie drink, want die "bomskok" het haar laat onthou waar sy nog koffie gehad het. Wonderlik hoe ‘n enkele bom ‘n mens se geheue so mooi kan verfris!
Die volgende dag kon ek darem meerendeels 'n eie-ervaring-storie oor die bomaanval stuur. ‘n "Ons-man-koes-vir-IRL-skrapnel"-soort van storie.
Daar was 'n faksie van die Iere wat hulle met die destydse blanke Suid-Afrikaners vereenselwig het toe die apartheidstelsel so min of meer 'n hoogtepunt bereik het. Hierdie Iere het gemeen die Suid-Afrikaners verstaan hulle saak baie goed omdat hulle self tydens die Engelse Oorlog onder die hande van die Engelse onderdrukking deurgeloop het. Ek het een of twee van hierdie Iere as vriende in my voorkamer-kroeg leer ken en ons het baie aande oor onder meer politiek/godsdiens gepraat.
As jy vir een van hierdie ouens sou vra of hy 'n Roomse Katoliek of 'n Protestant is, kon hy antwooord dat hy bv. 'n ateïs is, maar 'n Rooms Katolieke ateïs.
Die ander storie wat ek onthou, is dat daar destyds nog nie outomatiese tellermasjiene oral op straat was nie. Jy moes dus 'n tjek by jou bank gaan wissel om kontant te kry. Een van die eerste dinge wat jy gedoen het ná jou aankoms in Londen was om lid van die Playboy Club te word. Nie vir wat 'n onskuldige boerseun sou wou doen of sien nie, maar om kontant oor 'n naweek te kon kry.
As lid van die Playboy Club, wat eintlik net 'n casino is, kon jy 'n tjek vir dobbelskyfies omruil en dan weer terugruil vir kontant. Destyds het ek en Thys Human nogal graag ons geluk by die dobbeltafels op die proef gaan stel. Ek onthou een aand na werk het Thys gedink ons moet gaan kyk of die geluksgodin vir ons glimlag.
My salaris destyds was R500 per maand wat teen 'n vaste koers van R1,50 vir 'n pond omgeruil is. Dit was die dae toe die rand sterker was as die Amerikaanse dollar!
Thys Human |
Net voor middernag wanneer die moltreine ophou loop, het ek by die tafel waar Thys was, my volle vyf pond op nommer 8 neergesit en is toe sommer met die trappe af om die trein te haal.
Ek was nog nie halfpad af nie toe roep Thys my terug. Die balletjie het op nommer 8 geval! Ek het meer as die helfte van my maand se salaris net daar in die sak gesteek, en onder soos 'n wafferse miljoenêr vir die taxibestuurder gesê: "Home, James!"