Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.2.13

‘Sproetjies’ styg uit die snippermandjie tot roem

GERT VAN TONDER, gewese advertensiewerwer by Perskor en lid van die beroemde sangpaar, Groep 2, skryf: Dit was so teen Julie se kant in 1975 toe ek by Perskor, toe nog in Aucklandpark, vir diens aangemeld het. Ons het 'n paar maande later Doornfontein toe getrek.

Ek het 'n pos as advertensiewerwer gekry. Dit was geen maklike taak, selfs al in daardie dae, om advertensies vir Afrikaanse dagblaaie te
werf nie. Ek was nog nooit eintlik 'n verkoopsmens nie. Tog het ek vyf jaar uitgehou en dit eintlik geniet.

My Groep 2 optredes was hoofsaaklik oor naweke. Hier en daar moes ek maar toestemming vra om soms op 'n Vrydagmiddag 'n bietjie vroeër te kon loop wanneer ons iewers ver moes optree.

Dit was ook hier by Perskor waar ek die woorde vir “Sproetjies” geskryf het wat 'n yslike treffer vir Sias geword het.

Ek is deur Joe Nofal van EMI gevra om Afrikaanse woorde vir die Engelse liedjie “Freckles” te skryf. Op 'n dag nadat ek reeds weke lank met die kassetbandjie in my motor rondgery het, het Boet Pretorius, die grootbaas van die Decibel-platemaatskappy, my gebel en gevra hoe ek met die woorde vorder. Hy wil dit oor so twee weke met Sias en Joanna Field opneem. Ek het altyd gespot en gesê ek skaaf nog aan die woorde, maar het ek nog nie eens daaraan begin werk nie. Nietemin, ek het toe plegtig belowe dat ek dit so gou moontlik sal afhandel.

Twee weke het verby gegaan en ek het steeds niks daaraan gedoen nie toe Boet my weer een oggend net ná tien bel. “Gertjie” het hy oudergewoonte gegroet en ek het met “Boetie” geantwoord. “Hoe gaan dit met die woorde? Ons is in die ateljee en wil dit vandag opneem,” het Boet voortgegaan.

“Goed, Boet, ek sal dit voor twaalf vir julle bring.”

Ek het met 'n vaart daar uitgehardloop na my motor wat 'n entjie van die gebou in die straat geparkeer was, die motor aangeskakel en na die bandjie geluister en die woorde geskryf op 'n stuk papier, wat ek in my haas gegryp het. Die hele storie van bo tot onder. Ek is terug kantoor toe om dit netjieser oor te skryf, nie dat ek eintlik bekend is vir 'n mooi handskrif nie. Ek is toe daar uit, kastig na 'n kliënt toe, en het die woorde vir hulle gaan gee.

Sias was glad nie ingenome daarmee nie en wou dit nie opneem nie. Ek verstaan dat hulle dit later, op Johanna se voorstel, uit die snippermandjie gehaal het en Sias het dit opgeneem.

Die uiteinde van die storie: dit is die derde grootste Afrikaanse ligteliedjieverkoper in die geskiedenis. Meer as driehonderd duisend eksemplare van al die opnames is reeds verkoop. Dit sluit ook Dana Winner se verkope in.

'n Paar staaltjies wat my nog al die jare bygebly het, het eintlik van 'n kollega gekom. Peter Wolmarans. Hy was ook 'n sanger en het dikwels saam met Nico Carstens opgetree en getoer en het ook reeds 'n paar langspeelplate die lig laat sien.

Een ysige wintersoggend het Piet, soos almal hom genoem het, by die werk aangekom met 'n dik khaki weermagjas wat tot op sy enkels hang.

Wim Cremer in 1971
Ons afdelinghoof, Wim Cremer, het vir Piet op en af gekyk en gesê: “My maggies, Piet, kry jy koud?”

Waarop Piet antwoord: “Nee meneer, ek het dan 'n jas aan.”

Nog een was toe Piet een middag ná ete by die kantoor instap, sy hare netjies kort gesny. Wim vra toe: “Piet, dit lyk my jy het jou hare laat sny,” waarop Piet bevestigend antwoord.

“Maar jy weet mos jy mag dit nie in werktyd doen nie.”

Piet: “Maar meneer, dit groei dan in werktyd.”

Iemand kan dalk die volgende storie bevestig. Dit was 'n paar maande nadat The Citizen-personeel ook daar by Doornfontein ingetrek het toe een van die verslaggewers effe onvas op sy voete terug van Vegkop af in die hyser instap. Mnr Marius Jooste was reeds in die hyser.

Toe dit na die boonste vloer vertrek, sê die man: “Do you also work for this place?”

Mnr Jooste se. “Yes, I do.”

Waarop die kêrel sê: “What a sh*t place to work for”.

Nou ja dit is seker onnodig om te se dat die ou die volgende dag nie meer daar gewerk het nie.

Dit is wonderlik om te sien dat daar nog so baie oud-Perskormense is wat van hulle laat hoor. Ek is gelukkig nog baie aktief en tree gereeld naweke op, waarvoor ek baie dankbaar is.

Ons het so drie jaar gelede ' n laserskyf gemaak van al die Groep2-treffers van weleer, asook 'n paar van Sias se bekende liedjies. Twintig van die top-Afrikaanse sangers het elk 'n liedjie saam met my gesing. Dit was 'n wonderlike ervaring om saam met die manne en vroue van vandag te werk.

Ek het die afgelope paar jaar aan 'n klomp projekte vir kinders gewerk en ons beoog 'n nuwe laserskyf later vanjaar. Ek het lanklaas self liedjies geskryf, maar hoop om binnekort weer daarmee te begin.

Ek en my vrou Eunice, wat terloops ook in daardie tyd by Perskor werksaam was, woon die afgelope 24 jaar op 'n kleinhoewe in Randjesfontein, Midrand.

Die foto hiernaas het in Januarie 1976 in Perskorhaan verskyn.  Die byskrif  was:

LANK, lank gelede was daar twee jong Boereklonge -- Gert van Tonder en Sias Reynecke. Later was hulle die bekende Groep II. En as julle al so 'n stil, vriendelike kêrel hier in die omgewing van die advertensie-kantoor in Aucklandpark gesien het, sal julle seker weet dat Gert reeds 'n paar maande in ons geledere is.

Onlangs het Groep II die Sarie-toekenning vir die beste Afrikaanse langspeelplaat ontvang. Te oordeel na die glimlag, is dit te betwyfel of Gert daardie aand aan advertensiesentimeters gedink het. Of het hy dalk 1975 se Mej Wêreld, Anneline Kriel, se lengte (in sentimeters) so in die stilligheid uitgewerk?