Waaroor? Om Oom Willem Wikkelspies, alias William Shakespear, se
fameuse woorde van eeue gelede ("To be or not to be?”) ‘n bietjie moderner te kontekstualiseer is die Groot Vraag deesdae of die gedrukte media (soos in koerante) se rakleeftyd nou afgeloop het en of dit vervang moet word deur internetkoerante.
Die kernprobleem met laasgenoemde is dat daar nog nie ‘n trefseker manier gevind is om ‘n bedryfswins te maak uit dié verstommende en snelle elektroniese mediarevolusie nie. In my geval is dit ‘n kwessie van dankbaar wees dat ek dit weens my uitgetredendheid nie as verpligtend hoef te aanvaar nie, maar wel uit eie vrye wil.
Wat was nou eintlik die sneller vir my gekweel oor elektronika, al dan nie? Behalwe dat dit ‘n baie aktuele en onafwendbare kwessie is wat deur fases van vooruitgang in die mens se evolusie, soos die nywerheidsrevolusie, genoodsaak word, is dit ook ‘n nostalgiese kwessie vir baie van ons ou, eenvingerslaners van die tikmasjien. Soos ook onlangs bewys is deur kollegas se half melankoliese mymerings oor die stand van die hedendaagse media.
Willie verkies die oorspronklike rekenaar. (Erkenning: www.grapgat.co.za) |
Water onder die brug, soos ook die era van tikmasjiene en ander argaïese bedryfsitems wat alles in ‘n reusenetwerk van honderde werkers in verskeie afdelings ingespan is om saam te vloei in ‘n eietydse geskiedenisbron op papier. Ander kollegas het reeds berig oor die gestadigde voortstuwing na ‘n papierlose omgewing waarin geprogresseer is van tikmasiene na rekenaars, vastelyntelefone na roepradio’s na mobiele telefone met ingeboude kameras wat fotojoernalistiek soveel vergemaklik, die vervanging van ou teleksmasjiene om wisselwerking tussen die maatskappy se verskillende publikasies moontlik te maak. Ensovoorts.
Gerrie Fourie |
So het ek wyle fotograaf Gerrie Fourie in die jare vroeg sewentig na die Vrystaatse dorpie Excelsior in die seimste kombi gery vir een van die opspraakwekkendste ontugverhore in die land (en wêreld?) se geskiedenis. Joernaliste vanoor die wêreld het op dié eens rustige dorpie afgeswerm en ons “state of the art”-kombi was dikwels die middelpunt van nuuskierige gesprekke.
Perskor was egter nie so flink met sy betreding van die rekenaarera nie. Jare nadat Nasionale Pers rekenaars aangeskaf het en die stelsel boonop totaal verafrikaans het, het Perskor se joernaliste nog hul berigte op ‘n tydrowende en omslagtige manier via tikmasjien, via nuusredakteur, nagredakteur, hoofsub en drukbuise tussen redaksie en fabriek gestuur. Nou sit verslaggewers sommer op die nuustoneel met hul skootrekenaars en tjoef-tjaf, die berig is lank voor hom op kantoor vanwaar dit elekronies versend word na ‘n fabriek wat dikwels kilometers daarvandaan geleë is!
So kan ‘n mens aangaan oor die wondere van die elektroniese revolusie wat by verre nog nie volledig voltrek is nie.
Internetkoerant? Wat ook ‘n groot lekkerte is, is dat ‘n mens nie gebonde is aan die gewone beperkings van die papierkoerant nie. Hierdie vryheid neem die gewone spanning en angstigheid weg wat gepaardgaan met die uiteindelike papierproduk.