TV was in sy kinderskoene en Haas Das se Nuuskas was ‘n belowende nuwe program uit eie haard.Met sy slag om ‘n humoristiese storie te skryf, was Jaap die aangewese man om Diereland se spog-nuusprogram aan die volk van Suid-Afrika bekend te stel.
Jaap het hom deeglik van sy taak gekwyt. Dis bladsy een se stoep.
In die gees van Jaap se gekskeerdery besluit nagredakteur Peet Simonis om saam te speel. Hy gee die berig toe die “byline” SWAAP JANEPOEL.
Jaap was nie geamuseer nie – nie in die minste nie.
My herinneringe aan Jaap het nie juis verder as die sub van sy stories gestrek nie, en hy speel nie juis ‘n regstreekse rol in wat ek te vertel het nie.
Jaap Swanepoel |
Twee oproepe moes vroegoggend – so seweuur se stryk – gedoen word om bepaalde feite vas te stel en om die een of ander rede kon Jaap dit nie doen nie. Hy het die nommers vir my gegee om die mense te bel: ‘n prokureur op Madagaskar en Amnestie Internasionaal in Londen.
Die storie gaan eintlik oor die doeltreffendheid van Perskor se skakelbord.
Seweuur was ek op my pos en bel die skakelbord. Toe’s die inkwisissie los! Wat doen ek daardie tyd van die dag in Transvaler se kantoor? Wie gee my die reg om oorsese oproepe te maak?
Uiteindelik, ná ‘n lang gekibbel, is my bona fides aanvaar en bereik ons darem ‘n punt dat ek die nommers vir bel kon voorlȇ.
Die fout was om albei nommers gelyktydig te gee. Ek het nog nie behoorlik die man in Madagaskar gegroet nie, toe val die skakelbord ons in die rede: “Londen op die lyn!”
Verder onthou ek Jaap as ‘n knap organiseerder.
Toe Perskor se rugbyspan toenteryd op toer Laeveld toe is en sy puik skakels (Chris Swanepoel, Piet Coetzer en Willie Buys) nie beskikbaar was nie, was dit einste Jaap wat gereël het dat die destydse Transvaalse skoleskakelpaar vir hulle instaan!
Met sy organisasievermoëns was dit nie vreemd dat hy op ‘n tydstip Die Transvaler se redaksionele promosies hanteer het nie.
In dié dae het Pick n Pay ‘n hipermark – toe nog ‘n redelike nuutjie – in Norwood geopen. Een van die hoogtepunte op die openingsprogram was die plaaslike uitdun van die destyds baie gewilde Kellerprinz-braaiwedstryd.
Johan Estdrhuizen |
Veral Philip Deetlefs, wat in ‘n soort bestuurder-afrigter ontwikkel het, het die geesdrif hoog aangeblaas. Hy het iewers iemand aangetree (van alle mense vir Whitey Odendaal, telekshoof van Beeld, na wie Dirk Benadé in ‘n vorige storie verwys het), wat al aan die Kellerprinz-eindstryd by Goudini deelgeneem het. By dié het ons kers opgesteek oor hoe om ‘n wenvuur te pak (so in ‘n vierkant wat boontoe nouer word), dat bykosse deurslaggewend kan wees, tot hoe om die braaiplek op te ruim dat daar geen teken van is nie (jy plaas kartondose onder en bedek dit met sand).
Wyle Lou Henning het ons oortuig dat daar geen beter braaihout is as die proteahout in die veld daar by hom in Helderkruin nie. Dus is ‘n uitstappie soontoe gereël om van dié gesogte hout te gaan optel.
Lala Wahl |
Niks is aan die toeval oorgelaat nie.
Toe die groot dag aanbreek, is daar een klein vliegie in die salf. DT se krieketspan speel die oggend eers teen Elsburg – en Essie is ‘n anker in die kolfaanslag. Maar dit behoort nie lank te duur nie, dan is hy op sy pos in Norwood.
Dit duur toe langer en die organiseerders beduie ek moet begin vuur aanslaan of DT word gediskwalifiseer. So gesê, so gedaan.
En al wat opdaag is Essie.
Lala spring ook maar later in en maak so ongemerk moontlik die slaai vir ons.
DT se Kellerprinz-braaispan (1977) saam met die trompoppies
van die Goudstadse Onderwyskollege. Die poppe het gedink
hulle gaan in die koerant verskyn!
|
Eers stamp iemand die bak slaai om en ons kanse begin in die sand wegloop. Toe eet Jan van Vuuren die nagereg se sjokolade op. Telling vir bykos: 0.
Ons kuier lekker op die Kellerprinz. Toe die kroegman geld vra, sê iemand “maar Mathilda (Pansegrouw, skakelbeampte vir Kellerprinz) het dan gesê dis verniet”. “Op Mathilda se rekening,” beduie hy vir sy maat, en dié teken dit aan. En ons kuier verder. En verder.
Frans Scheepers |
Teen dié tyd was die partytjie ons voorkeur, die braaiwedstryd vergete.
Die strooi op die kameel se rug was toe iemand ‘n emmer water omkeer en ons karton-en-sand-onderlaag in ‘n pappery omskep. Ons sou ook nie vir die skoonmaak-afdeling inskryf nie.
Laatmiddag het die polisie kom sê die musiek op die openbare luidsprekers steur die bure en moet sagter.
… en of hulle nie tevrede was om ons pret in Norwood te bederf nie, kom hulle daardie selfde aand en kom vat ons drank by die klub in Troyeville …
• Ten slotte terug na Jaap met ‘n storie wat wyle Gert Kotzé vertel het.
Illustrasie |
Laat Sondag, toe Gert al mooi bekommerd was, daag Jaap toe darem daar op. Nee, sê hy, hy dink nie hy sal die Alfa koop nie.
Gert, só het hy vertel, het eers heelwat later agter die kap van die byl gekom. “Jaap het reëlings getref gehad om die naweek in Durban te kuier. Toe breek sy kar.”