Ek het 26 jaar lank in Johannesburg oor misdaad, rampe, die
grensoorlog, en slagoffers se stories geskryf. Nadat ek in 1972 van Engeland teruggekeer het (lees hier), het ek soos gewoonlik aangegaan met die plattelandse blad. Op 2 November het ‘n vreeslike storm die Wes-Rand getref en baie dramas het daardie aand afgespeel. DT het die hele storie gemis!
Arme Peet Simonis, die nagredakteur, was op die tapyt! Hy vra my toe of ek nie misdaad wil skryf nie. My onmiddellike reaksie was nee, ek dra nie minirokke nie en gaan nie my stories op my rug kry nie.
Peet Simonis |
In die eerste week het ek sukses behaal deur stories te kry wat ander koerante misgeloop het. So twee weke later het die polisiekantoorbevelvoerders my aangeraai om die speurders ook te bel. So het my netwerk van inligting uitgebrei.
In Desember toe die polisieverplasings deurkom, het my netwerk eenvoudig breër geword en so het dit jaarliks gegaan dat ek, toe ek uitgetree het, omtrent in elke dorp en stad 'n polisieman geken. My grense het gestrek tot Ondangwa bo in Suidwes-Afrika, Swaziland, Lesotho, Mosambiek en Salisbury in Rhodesië.
Ek het oor die eerste ongevalle van ons polisiegrenswagte geskryf. Konstabel Niekie du Toit het in Suid-Rhodesië gesneuwel. Kaptein Taljaard is aan die Suidwesgrens doodgeskiet. Só sou daar nog vele volg.
Elke dag het ek oor moord en doodslag geskryf. En dit was vir my lekker om ander koerante te uitoorlê. Ek het die lief en leed van die polisiemanne geken en ook hul skandes.
Van my inligtingsbronne was die ambulansmanne, predikante, hospitale, begrafnisondernemings, lykshuise en telefoonsentrales. In die weermag was ook bronne. Ook by die SA Lugdiens en burgerlugvaart.
Dit was ’n groot werk om daagliks al jou bronne te bel, maar toe hulle sien ek werk hard, het hulle hul kant gebring en my baie keer geskakel met nuus.
Ek sal graag van die ondervindinge met julle wil deel.