Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.2.13

Kalli of Ali – ’n hoofberig is ’n hoofberig

PIETER KRUGER, gewese sportskrywer van Die Vaderland, skryf: Nou die dag, toe die mense oor die Shosholoza Meyl kla, dink ek terug aan Alvin Kallicharran.

Wat het Kalli, soos hy alom bekend gestaan het, met die treindiens na Durban gemeen?

Niks nie, behalwe dat ek, Johan Esterhuizen (Die Transvaler) en Derek Amoore (The Citizen), danksy die destydse SA Spoorweë en Hawens, nie die eerste bal wat in Suid-Afrika na Kallicharran geboul is, kon aanskou nie – ons was nog op die trein op pad Durban toe.

Alvin Kallicharran
Kalli se koms na Suid-Afrika, waar hy vir die destydse Transvaal sou speel, was een van die groot krieketstories in 1981.

Dié klein kolwer van die Wes-Indiese Eilande, hy was Guyanese afkoms, het tussen 1972 en 1981 in 66 toetse vir die Windies gespeel.

Hy was saam met groot geeste soos Clive Lloyd, Gordon Greenidge, Viv Richards, Michael Holding, Andy Roberts, Joel Garner, Colin Croft en ‘n jong Malcolm Marshall spanmaats in die goue era van Windies-krieket.

Sy kolfwerk was om van huis toe te skryf; in sy 66 toetse het hy 12 honderdtalle en 21 vyftigtalle gemoker en hy was ook ‘n paar jaar kaptein toe Lloyd bedank het weens sy betrokkenheid by die Kerry Packer-sirkus in Australië. In sy eersterangse loopbaan het Kalli altesaam 32 650 lopies aangeteken, wat 87 honderdtalle en 160 vyftigtalle ingesluit het.

Dis hoekom ons in rep en roer was oor sy besluit om, ondanks die Gleneagles-ooreenkoms (dit het sportlui verbied om kontak met Suid-Afrika te hê) vir Transvaal te kom speel.

Daar was ook tergende vrae, soos hoekom hy sy internasionale loopbaan prygegee het, hoe hy in SA sou aanpas, waar hy sou tuisgaan, wat van sy vrou en kinders? Uit die Vrystaat was daar selfs ‘n navraag of hy nie van Indiese afkoms was nie, en dus nie langer as 24 uur in dié provinsie kon vertoef nie.

Ons was veronderstel om halfnege op platform twee in Durban te wees. Ons sou vinnig by die Blue Waters-hotel inbespreek en dan na Kingsmead laat spaander om betyds te wees wanneer die eerste bal om halfelf geboul word.

Ongelukkig het ons nie rekening gehou met die SA Spoorweë & Hawens nie. Ons was byna twee uur lank vertraag en hoewel ons per taxi na Kingsmead gehaas het, was ons net betyds om te sien hoe Kalli die laaste paar tree op pad kleedkamer toe gee. Ek was benoud, want die Die Vaderland se middaguitgawe het op ‘n hoofberig oor sy eerste kolfbeurt in Suid-Afrika staatgemaak.

My hart het in my skoene gesak toe Rina van Rooyen laat weet sy is gereed om my berig af te neem.
Ek moes ‘n berig uit my duim suig en siedaar: Die Vaderland kon spog met Kalli se eerste bal in Suid-Afrika, nogal met ‘n Kalli-aanhaling of twee (te danke aan Ali Bacher – wat ek tot vandag nog glo dat hy dié oggend nie met Kalli oor daai bal gesels het nie).