Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.2.13

Boesemvriende ‘oor grense heen’

HERMAN LE ROUX, gewese sportredakteur van Die Volksblad en later van Beeld, skryf: Gerhard Burger se storie oor ons noue ontkoming in 1981 in Nieu-Seeland (lees hier) bied my die gaping om meer oor daardie besoek en oor Gerhard in die besonder te vertel.

Hy sê hy hou nie daarvan om geselsies met taxibestuurders of haarkappers aan te knoop nie. En tog is Gerhard Burger ‘n vriendelike,
opgewekte kêrel wat maklik vriende maak. Voeg hierby sy aanvoeling vir ‘n goeie storie, korrekte taalgebruik, vloeiende skryfstyl; sy kennis van die spelers en die spel, dan kan ‘n mens verstaan waarom hy een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde Afrikaanse sportjoernaliste geword het.

Gerhard was sportredakteur van Die Vaderland en later redakteur van Die Transvaler. As sportskrywer was hy twee keer (in 1982 en 1985) SA Brouery se Afrikaanse Sportskrywer van die Jaar en hy is ook opgeneem in SAB se Hall of Fame.

By Die Vaderland het hy ‘n gewilde rugbyrubriek, Voetap se Sportploeg, geskryf en ook ‘n taalrubriek, Taaldorings. Voetap is in boekvorm uitgegee, maar Taaldorings behoort ook ‘n bundel te wees wat vir skole en universiteite voorgeskryf kan word.

Ek het Gerhard op rugbytoere as mens leer ken en baie jare saam met hom in persbanke in Suid-Afrika en Nieu-Seeland deurgebring. Ondanks die feit dat ons vir mededingende persmaatskappye gewerk het, hy vir Perskor en ek vir Naspers, het ons wedersydse respek vir mekaar gehad en besonder goeie vriende geword.

Ons het voor die All Blacks-toere van 1976 en 1970 in Suid-Afrika ‘n maand lank Nieu-Seeland besoek om die All Black-proewe by te woon en die spelers en beamptes beter te leer ken. Voor die 1976-toer het ek saam met drie Perskor-manne met die All Blacks gaan “kennis maak.” Die ander drie was Gerhard Burger, John du Toit (wat in die jare tagtig en negentig saam met my in Beeld se sportredaksie was), en die fotograaf Wessel Oosthuizen.

Voor die sogenaamde betoger-toer van 1981 het ons ook vroeër na Nieu-Seeland vertrek. Ons het saam ‘n motor gehuur en die Noord-Eiland van hoek tot kant deurkruis.

Die vier mediamanne van Suid-Afrika wat in 1976 
voor die All Black-toer in Suid-Afrika na 
Nieu-Seeland gereis het om die All Black-proewe 
by te woon. Van links is: John du Toit (Die Transvaler), 
die fotograaf  van Perskor, Wessel Oosthuizen, wat hier in 'n 
Wellingtonse kroeg sy Coke uit 'n bierglas gedrink het; 
Herman le Roux (Die Volksblad) en Gerhard Burger 
(Die Vaderland).
Ons het die natuurskoon bewonder, maar ons moes ook die motorradio aanskakel om na die nuusflitse te luister. Só het ons op die hoogte gebly van die betogers/aktiviste se dreigemente en planne om die Springbokke se toer te ontwrig of afgestel te kry. Tussen-in het ons tot vervelens toe geluister na die nuwe weergawes van Mister Sandman en Honesty en die treffers van daardie jaar, All those years ago en Medley 45.

Die betogers het dit in 1981 ook vir ons moeilik gemaak. Ron Don, destydse rugbybaas van Auckland, het ons na ‘n rugbyklub geneem, maar hy kon ons nie later die aand na die hotel terugneem nie. Hy vra toe een van die spelers om dit te doen. Maar toe die speler verneem ons is Suid-Afrikaners het hy geweier om ons terug te neem. Ons moes ‘n ander plan maak. Daardie speler is vir ‘n wedstryd of twee geskors.

In die week ná die All Blacks se toets teen Skotland in Auckland het ons suidwaards gereis na Palmerston North waar ons by Mahoestraat 45 by ons Nieu-Seelandse “peetouers,” John en Mary Clifford, oornag het.
Dit is moeilik om te beskryf hoe gasvry en hulpvaardig John, president van die Nieu-Seelandse Rugby-unie, en Mary teenoor my en Gerhard was.

Graham Mourie
Ons volgende stilhouplek was Bulls, waar JJ Stewart, All Black-afrigter van 1976, hoof van ‘n landbouskool was. Eintlik was ons op pad na Noel Stanley, goedige, gemoedelike bestuurder van die All Blacks van 1976, op sy plaas buite New Plymouth. Maar op Opunake, naby New Plymouth, het ons afgedraai na die plaas van Graham Mourie, All Black-kaptein van daardie jaar, wat geweier het om teen die Springbokke te speel.

Mourie was nie tuis nie. Ons het om die huis geloop en by die vensters ingeloer. Wat ons daar gesien het, was nie ‘n goeie getuigskrif van ‘n All Black-kaptein nie: Rugbyskoene vol modder en klere het op die vloer gelê; skottelgoed wat nog nie gewas is nie; portrette wat skeef gehang het; lang gras om die huis, ens ens – ‘n deurmekaarspul soos min.

Gerhard en ek het besluit om nie ‘n woord oor ons besoek aan die plaashuis te skryf nie.

Skeidsregter Gert Bezuidenhout in die tweede toets
tussen die All Blacks en die Springbokke in 1976.
By Noel Stanley het ons ‘n besondere aand, die laaste van die 1976-toer van die All Blacks in Suid-Afrika, in herinnering geroep. Ná die All Blacks se nederlaag (14-15) in die vierde en laaste toets op Ellispark was die atmosfeer in die Hotel Landdrost nie juis aangenaam nie. Die All Blacks was baie teleurgesteld omdat die skeidsregter, mnr Gert Bezuidenhout, nie die middag ‘n strafdrie aan Bruce Robertson toegeken het nie. Ek en Gerhard het Stanley laataand in die voorportaal van die hotel raakgeloop. Hy nooi ons toe om ‘n afskeidsdrankie in sy suite te kom drink. Stanley het daardie nag behoorlik sy hart oopgemaak en ons vertel hoe jammer hy is dat Steve Strydom nie die skeidsregter in die laaste toets was nie. Sy pleidooi dat Strydom die fluitjie moet blaas, het op die toerbestuur se dowe ore geval. Toe die son die volgende oggend opkom, was ek en Gerhard steeds in mnr Stanley se suite!

Voor die Springbokke in 1981 in Nieu-Seeland aangekom het, het ek en Gerhard ook ‘n draai op Masterton gemaak. Ons moes maar versigtig met ons sakgeldjie werk en het probeer om slegs saans ‘n behoorlike ete te geniet. Daardie aandete op Masterton was maar eina en ek het iets gedoen wat ek gewoonlik nie tuis doen nie: om ook slaai te eet. “As Rina my nou moet sien …”. Ek vertel Gerhard van my slaailose lewe tuis en vra hom om nie by ons terugkeer in Suid-Afrika vir my vrou, Rina, te sê ek het slaai in Nieu-Seeland geëet nie Maande ná die toer, kry ek ’n brief van Gerhard: “Weet jou vrou al jy eet slaai?”

In Gisborne het ek ‘n groot mislukking gemaak van ‘n poging om ‘n paar snye brood in ‘n rooster te braai. Dit was houtskool en ons moes keer dat die motel nie afbrand nie. Gerhard kan met reg deesdae vir my vra: “Kan jy al ‘n rooster gebruik?”

Herman le Roux (middel) van Naspers saam met twee 
Perskor-vriende, Neil Steyn (links) en Gerhard Burger
in 1970 in Wellington, Nieu-Seeland.
Die koudste wat ek egter in my lewe gekry het, is Gerhard se skuld! Ná ‘n wedstryd tussen die Vrystaat en Transvaal op Ellispark vra Gerhard of ek nie die aand saam met hom na die boksgeveg tussen Pierre Fourie en Victor Galindez in die Randse stadion wil gaan kyk nie. In die Vrystaat het ek nie die kans gekry om beroepsboks te sien nie en ek aanvaar toe die uitnodiging. Dit was in die hartjie van die winter en bitterkoud. My hemp en baadjie was goed vir die middag se rugby, maar nie vir die aand se boks nie. ‘n T-hemp met ‘n afbeelding van die twee boksers en die brosjure in A4-grootte voor my bors het nie veel gehelp om die koue weg te hou nie.

Sandra Burger
Ek en Gerhard het werklik die spreekwoordelike lang pad saam geloop. In 1970 in Wellington, Nieu-Seeland, was daar egter nie tyd vir stap nie. Ons moes ná die All Black-proewe, voor die toer na Suid-Afrika, haastig by die poskantoor kom om ons kopie na Suid-Afrika te versend. Gelukkig het ‘n vriendelike Nieu-Seelandse rugbybeampte en sy vrou ons nood gesien en ons poskantoor toe geneem. Daar kon ons by ‘n tafeltjie langs die teleksoperateurs ons stories afrond wat dalk dieselfde inleiding gehad het: “Drie Maori’s en een Samoaan is vandag ingesluit in die All Black-toerspan na Suid-Afrika.”

Gerhard, ‘n boorling van Kakamas, praat en skryf Engels vlot. Dalk het sy huwelik met die pragtige Sandra hom daartoe gehelp. Ek is baie dankbaar, want Gerhard het my biografie oor Gysie Pienaar briljant in Engels vertaal.