Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.12

‘Kiwi’s ryg my derm uit’

GERHARD BURGER skryf: Soos die skrywers van formele briewe sal sê: die storie van Willem de Klerk se worsteling met die blindederm verwys.

Ons sit een jaar in Nieu-Seeland, van links na regs: John du Toit, Herman le Roux, Phil Zaayman en ekke. Die All Blacks kom Suid-Afrika toe en ons kyk hulle deur en skryf oor hul voorbereiding.

In Christchurch besluit ons eendag ons gaan eers kyk of Queenstown so mooi is soos die mense sê. Daarvandaan gaan ons Wellington toe, waar die All Blacks die volgende week teen Skotland speel en die toerspan aangekondig word. Ons reël sake so dat ons die Maandagoggend vroeg uit Christchurch sal vertrek.

Saterdag kyk ons rugby en doen onderhoude met almal wat ʼn mening het. Sondag tik ons die berigte op perstelegramme voordat ons vir Maandag se vlug gaan pak en gaan inkruip.

Tane Norton
Daardie aand, so skuins voor middernag, kry ek maagpyn. Erge maagpyn. Dit brand so dat ek naderhand kaalpens op die badkamer se yskoue teëlvloer lê om die pyn te laat bedaar.

Sesuur die oggend bel ek Tane Norton, die All Blacks se haker. Ons ken mekaar en ek weet hy is ʼn assuransie-smous; hy ken heelparty dokters. Ek bel John-hulle ook en sê, soos Oom Boy glo gesê het: “Include me out.” Ek kan nie saamgaan nie.

ʼn Halfuur later is Tane daar. Hy vat my sommer na ʼn lugmagdokter toe, sê hy. Skuins na agtuur is ek in die hospitaal; ʼn lelike ou rooibaksteengebou. Nie lank nie, toe bevestig hulle die dokter se bevinding: blindederm. Dis ʼn noodgeval. Al genade is sny.

Die snyer is ʼn jong dokter van Finland of Denemarke of iewers. Sy Engels is maar yl, maar ek gee nie om nie. Solank hy net die pyn uitsny.

Later die middag, ʼn ruk ná die operasie, is Tane terug; hy en die voorsitter van die Linwood-rugbyklub. Tane moet Wellington toe vir die toets, maar George en die manne sal na my omsien.

Gerhard Burger in die hospitaal.
Foto:Christchurch Star.
Toe die doktertjie daardie aand kom besoek aflê, vra ek wanneer ek ook Wellington toe kan ry, want die toets is Saterdag. Nee, beduie hy, hier bly ek tot Sondag, want dit was ʼn groot operasie. Die ding het begin skeur toe hulle hom uithaal. Ek kan mos sien dis ʼn sesduim-sny; dis hoe hulle gesukkel het.

Die volgende dag begin bring George en die ander klublede vrugte; veral lemoene. Daar’s naderhand genoeg vir Fruit en Veg se naweekvoorraad. Hulle bring ook vir my ʼn Linwood-trui en ʼn das en ʼn erelidmaatskapkaartjie, wat ek in 1981 gebruik het om te gaan kyk waar die Springbokke in die klub se muurbalbane slaap.

Die Donderdag vra ek mooi of ek nie maar Wellington toe kan gaan nie; dis tog hoekom ek Nieu-Seeland toe gekom het. Vrydagoggend sê hulle ek mag gaan as ek regsdokumente onderteken. Teen daardie tyd het Perskor al onderneem om die rekeninge te betaal.


Ek kry so wragtig ʼn plek op ʼn vlug en George neem my lughawe toe. In Wellington kom haal John du Toit my. Hy dra selfs my tas taxi toe en ook die hotel in want ek loop soos ʼn knipmes wat half toe is.

Iewers raak my sakkie met my paspoort en reisigertjeks weg, maar die taxidrywer bring dit ná ʼn noodoproep terug.

Saterdag sit ons saam in die persbank op Athletic Park en kyk hoe die All Blacks wen en die Skotte verloor. Ná die wedstryd dra my kollegas my omtrent die onthaalsaal binne. Dis nie moeilik nie, want teen dié tyd is ek ʼn kapokgewig.

Robert Muldoon
Brian Lochore
Brian Lochore, wat in 1970 die All Blacks se kaptein was, bring ʼn stoel en sê ek moet sit. Ek moet net sê met wie ek wil onderhoude voer; hy sal hulle gaan haal. Hy is immers een van die keurders.

Naderhand kom Lochore (nou Sir Brian) met so ʼn kort mannetjie daar aan. “Let me introduce you to our Prime Minister, Mr Muldoon,” sê hy.

Ek wil opspring, maar die hardegatste man in Nieu-Seeland druk my met die hand op my skouer plat. “Sit down, son,” sê hy en vra of die Nieu-Seelanders darem goed na my omgesien het.

Toe ons die volgende week in Johannesburg aankom, het die kinders my amper nie herken nie, so maer en bleek was ek.