Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.3.21

Hulp met foto's gevra

HENNIE VAN DEVENTER, Melkbosstrand, skryf: Ek kom by K'rant uit via Gerhard Burger.  

In September verskyn van my, by Naledi, ‘n boek met die titel “Koerantkamerade”.  Dit behels 50 gemoedelike, informele “grafskrifte” vir ontslape tydgenote. 

Synde ‘n lewenslange  Nasperser het my seleksie ‘n Naspers-oriëntasie.  Perskor-mense wat wel ‘n buiging maak, sluit in PG du Plessis, Koos du Plessis, Gerrit Velthuysen en fotograaf Willie van der Walt.

12.2.21

Anita de Kock oorlede

Anita de Kock

FANUS BOTHMA skryf: My jarelange vriendin en oudjoernalis en -kollega, Anita de Kock, is Woensdag 10 Februarie 2021 skielik aan 'n hartaanval in Robertson oorlede. Sy was 66. 

Sy was ‘n algemene verslaggewer, subredakteur en kunsredakteur by Perskor tussen 1981 en 1992. 

Haar belangstellings was ongekend, veral in die uitvoerende kunste, veral teater en klassieke musiek met 'n voorkeur vir opera en ballet. Sy was ook 'n groot aanhanger van die Grand Prixrenjaers en -renne! 

Vele beginnerskrywers het onder haar leiding gepubliseer. Haar spitsvondigheid, aweregse uitkyk op die lewe en soms galgehumor sal gewis gemis word!

26.1.21

Huldeblyk aan Coenie Slabber

KARIN PRETORIUS bring hulde aan Coenie Slabber (81) wat die afgelope 23 jaar dieselfde woonstelblok as sy in Bloubergstrand gedeel het.  Hy is verlede week oorlede.

Sy skryf:  Hy was ‘n goeie vriend, altyd beleefd teenoor my, vriendelik maar stil en baie privaat. 

25.1.21

Stella Niemand tree uit

K’rant se redaksie het met ‘n derde verminder. Stella Niemand het aangekondig dat sy as taalversorger van K’rant gaan uittree. 

Ons is Stella diep dankbaar vir die jare se getroue diens wat sy verrig het om K’rant ‘n suiwer Afrikaanse publikasie te hou. 

Stella was en is ‘n taalpuris en het haar voortdurend op die hoogte gehou met die evolusie van ons taal. 

Ons wens jou alles van die heel beste toe vir jou welverdiende aftrede, Stella.  Weer eens BAIE DANKIE! -- Redakteur.

23.1.21

Coenie Slabber sterf

Netwerk24 het gister berig dat Coenie Slabber (81), ’n voormalige kunsredakteur van Rapport, vroeër vandeesweek dood in sy woonstel in Bloubergstrand aangetref is.

22.1.21

Komkommertyd by die koerant

KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.

Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?

26.11.20

2020 op sy rug

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: 2020 was ‘n jaar wat lank onthou sal word vir meestal die verkeerde redes. Die pandemie het ons ganse wêreld verander. Ons sal waarskynlik nooit weer die prepandemiese leefstyl en doene beleef nie. 

Hier by K’rant was die nuus hoofsaaklik die aankondiging van ‘n oud-kollega wat heengegaan het. Nietemin, die lewe gaan aan, al is dit nie op dieselfde trant meer nie. K’rant se redaksie wens al sy lesers ‘n vreugdevolle feestyd toe en hoop reise sal voorspoedig wees en dat die nuwe jaar aangename verrassings vir almal sal bring.

19.9.20

Só onthou ek Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler

KARIN PRETORIUS skryf: Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler in die sewentiger jare, was ‘n stil, teruggetrokke en vir ‘n eerstejaartjie by die koerant, nogal ‘n geheimsinnige man. 

Hy’t soggens geruisloos die lang gang van die koerantgebou in Jorissenstraat in Braamfontein van die voordeur afgestap na sy kantoor, aan die linkerkant in die hoek. Omdat sy venster op ‘n binnehof uitgekyk het, kon jy hom altyd van die nagkantoor se venster af sien sit by sy lessenaar – geboë oor die koerant. 

8.9.20

Koos Botha oorlede

SIPKE DE VRIES skryf: In die vroeë oggendure van Vrydag 4 September is oudTransvaler en SAUK joernalis Koos Botha in die ouderdom van 85 jaar by sy geliefde huis in Ferndale oorlede. 

Koos was baie jare verbonde aan die finansiële redaksie van Die Transvaler voor sy aftrede. In die vroeë sestiger jare was hy 'n subredakteur by die Afrikaanse nuusdiens van die SAUK. Toendertyd by die hoofkantoor in Kommisarisstraat. 

6.9.20

'n Droom aan skerwe

MAUREEN SWART skryf: Selfs nou nog, maande ná die nuus dat Rooi Rose se deure gesluit het, is ek steeds verslae. 

Hene, vandat ek kan onthou, was Rooi Rose deel van my lewe. Nou het Covid-19 meegebring dat hierdie ikoniese tydskrif, saam met 'n hele rits Suid-Afrikaanse tydskrifte, moes toemaak.

Aangesien Rooi Rose grotendeels by Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) begin wortel skiet het, het ek so 'n bietjie in Rooi-Rose se (verre) verlede gaan snuffel.

Rooi Rose is deur 'n man begin -- deur die baie bekende skrywer, Mark Preston. Dit was nie sy regte naam nie, maar die skuilnaam van Hendrikus Potgieter. Sy droom was om 'n vrouetydskrif te publiseer. 

2.9.20

Koos Roelofse is nog perdfris

PIETER SCHOOMBEE het laat weet dat Koos Roelofse gesond en vrolik is en op Onrus woon. Sy epos is koosr@icon.co.za

1.9.20

Waar is Koos Roelofse?

PIET ROODT sê hy het lanklaas geloer wat op ‘Krant se werf aangaan. Eers toe broer Frans laat weet Jannie Hebst het beter weivelde gaan soek, dat ek die blog weer bekyk. 

Raak ek sommer bewoë oor almal wat al “afgesterf” het. Besef ek dat ek ook maar op genadetyd leef. Sal graag wil weet wat het van Koos Roelofse geword. Hy was mos professor in Kommusikasiekunde by Unisa, nadat hy lank n redaksielid van Die Transvaler was. 

Ons was 'n bedrywige lotjie destyds in die nagkantoor. Manne soos Peet Smit, Koos Roelofse, Dave Viljoen, Frik van der Walt, Gert Hattingh, Jan Herbst en 'n klomp ander wat nie meer met ons is nie.

27.8.20

Jannie Herbst oorlede


Beeld, 27 August 2020, p15
 

18.8.20

Wilma Deetlefs oorlede

RONELLE RADEMEYER skryf in Republikein, Namibië: Huldeblyke stroom in op ’n WhatsApp-groep waarop die vriende, familie, kennisse en kollegas van me. Wilma Deetlefs (64), een van Namibië se ses staatsdienskommissarisse, van haar afskeid neem. 

Sy is Donderdag dood in haar huis in Avis in Windhoek gevind. Geen vuilspel word vermoed nie.

Wilma Deetlefs
Wilma Deetlefs


Die kantoor van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila (links onder), het haar dood gister bekend gemaak. “Ons het ’n ware, toegewyde en beroepstaatsamptenaar verloor,” lui die aankondiging. 

Wilma het die staatsdiens reeds voor onafhanklikwording betree nadat sy haar loopbaan aanvanklik as ’n joernalis begin het. (Wilma was 'n redaksieland van Die Vaderland Die Transvaler.)

Sy was nou gemoeid met die organisering van die geskiedkundige aanvaarding en ondertekening van die Grondwet vroeg in 1990. 

23.7.20

Die redaksie sien dubbel

KARIN
PRETORIUS skryf: In Maart 1971 skryf redakteur dr Carl Nöffke, alias Sarel Sekondant, in sy rubriek Op ‘n Punt van (Wan)orde op die hoofblad van Die Transvaler, van twee van sy vroulike redaksielede wat albei in die huwelik met regspersone gaan tree.

Dr Nöffke verwys eerstens na die ‘blonde blou-oog hooggeregshof verslaggeefster, die vyfvoet-en-‘n-kwart-duim’ Marita Coetzee wat met asistent-landdros Karel Landsberg van Koster gaan trou. Hy skryf dat hulle mekaar ‘n paar jaar vantevore op die Puk ontmoet het en dat Marita in Julie mev Landsberg word.

4.7.20

Onderhoude met oom Hermie

PIET EBERSÖHN
(links)
het vroeër vandeesweek in 'n huldeblyk aan Hermie Hendriks (regs) genoem dat hy ʼn paar onderhoude met hom oor sy loopbaan gevoer het. Oom Hermie is onlangs op 95 oorlede.

Piet se onderhoude het in Oktober 2015 in 'n reeks in K'rant verskyn.

Klik hieronder op elk van die drie stories om dit te lees.
  1. Misdaadstories moes oorlogstories vervang
  2. Hendrik Verwoerd was hardkoppig, maar ware heer
  3. Sat vir politiek

2.7.20

Die dierbare omie met die snorretjie

HANLIE VORNBERG skryf: As een van die joernaliste wat destyds in 1970 die Afrikaanse Pers se eerste joernalisteskool bygewoon en die eer gehad het om by Hermie Hendriks opleiding te ontvang, was ek hartseer om te verneem dat hy oorlede is.

Hoewel ek al oor die veertig jaar in die buiteland woon en nooit weer met hom kontak gehad het nie, was hy 'n deel van my jeug en is die herinneringe aan hom net positief. Dit is soos 'n lekker warm jas wat jy een of ander tyd in 'n ysige winter gedra het en nooit sal vergeet nie

1.7.20

Hermie Hendriks – hy was ‘n eenmalige verskynsel

AMANDA BOTHA skryf: Met die dood van Hermie Hendriks onthou ek met ‘n gevoel van deernis my verbintenis met hom --  as destydse nuusredakteur van Die Transvaler. Dit was laat 1973 wat ons ontmoet het. Ek is deur Carl Nöffke, die destydse hoofredakteur, aangestel in die pas gestigte Kaapse kantoor van Die Transvaler. Ná my aanstelling is ek na die Perskor-hoofkantoor in Aucklandpark genooi en die eerste mens wat ek ontmoet het, was mnr Hendricks.

30.6.20

Oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: Hy was die eerbiedwaardigste van alle joernaliste wat my pad gekruis het. Nee, nou stel ek my aan – wie se pad dit my voorreg was om te kon kruis.

Voorwaar ʼn Israeliet sonder bedrog – en dit in ʼn beroep waarvan Horace Flather in sy The Way of an Editor gesê het die meeste knappes is “slightly off the normal mental beam”.

26.6.20

Hermie Hendriks op 95 oorlede

Hermie Hendriks se dogter, Hermien, het laat weet dat haar pa op 25 Junie 2020 in die Florakliniek in Johannesburg oorlede is.
Hy het op 9 Junie 95 geword en is vroeër vandeesmaand in die kliniek opgeneem nadat hy geval het.

Oom Hermie was ‘n ware Perskor-legende. Ons sal met graagte ‘n paar huldeblyke van oudkollegas oor hom ontvang.